Verlede jaar, op 27-jarige ouderdom, was Derick die jongste Suider-Afrikaanse Stoetteler van die Jaar nóg wat met dié gesogte titel bekroon is. Die feit dat beoordelaars dit as een van die beste inskrywings in die kompetisie se bestaan bestempel het, is vir hom egter ’n groter eer as die toekenning self.
Derick het grootgeword op die familieplaas Twee buffels met een skoot morsdood geskiet fontein (Tweebuffels) in die Lichtenburg-omgewing, waar hy en sy pa, Carl, vandag die Xourel Limousinstoet bedryf.
Hy het aan die CVO Skool in Lichtenburg gematrikuleer voordat hy meganiese ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus gaan studeer het. Hier was hy gewoonlik tot middernag met sy studies besig, waarna hy tot 02:00 oor beesboerdery sou oplees. Hy spot dat dit hom ’n jaar langer geneem het om sy studies te voltooi, omdat sy beesboerdery daarmee ingemeng het.
Pa Carl het in 2002 sy South Devonstoet verkoop en met Bonsmaras begin boer. Derick meen egter dat stoetdiere “maar in jou bloed is”, en sy pa het in 2008 tien Limousin-koeie en ’n bul gekoop.
Hoekom ’n limousin?
Derick vertel passievol dat dié beesras ongelooflike vleiseienskappe het, met tot 66% uitslagpersentasie van A-graad karkasse en ’n C-graad uitslagkomponent van tot 61%.
“’n Limousin-karkas is bekend vir sy ongelooflike ontbeningsvermoë. Hulle vleis-beenverhouding is die beste van alle karkasse in Suid-Afrika, met tot 79% bruikbare vleis en slegs 21% been. Hulle lewer 15% groter, duursame snitte soos lendeskyf en beeshaas, danksy ’n unieke dubbelbespieringsgeen wat in Limousins vervat is, bekend as F94L.”
Daar is nege dubbelbespieringsgeenmutasies, waarvan een ’n positiewe geenmutasie is. In ’n Limousin het dit verhoogde vleisproduksie sonder enige newe-effekte of kalwingsprobleme tot gevolg. Dit maak Limousins geweldige doeltreffende en ekonomiese voerders. “Voerkrale is baie lief vir Limousin-kalwers. Kombineer hierdie voervermoë met die doeltreffende ontbening en jy behaal tot 15% meer wins,” verduidelik Derick.
Bategroei in produksie-eenhede
Die Le Roux’s se saaikomponent is steeds groter as hulle beeskomponent, maar Derick noem dat dit vinnig besig is om te verander. Hy meen dat saaiboerdery belangriker geag word in Noordwes as veeboerdery, maar dat produsente ook ’n sterk vee komponent moet hê.
“Produsente, veral aan die oostekant van Lichtenburg, gee nie altyd genoeg aandag aan hulle veekomponent nie. Hulle beskou dit as ’n plek om geld te bêre en rond te skuif. Dit beteken jy gee nie genoeg aandag aan jou produksie-eenheid nie.
“’n Koei is ’n produksie-eenheid – net soos ’n hektaar lande – en ’n bees kan doen wat ’n mielie nie kan doen nie. As ek vanjaar 1 000 ha plant, het ek volgende jaar ook net 1 000 ha om te plant. As ek vanjaar 1 000 koeie het, het ek volgende jaar 1 000 koeie en 400 verse. Die eksponensiële bate groei in produksie-eenhede kan nie geëwenaar word nie,” verduidelik hy.
Op ’n vraag of risiko’s soos bek-en-klouseer en veediefstal nie produsente in dié geweste ontmoedig om hul hand daaraan te waag nie, antwoord hy dat dié risiko’s alles bestuurskomponente is waarop jy bloot meer noukeurig ingestel moet wees.
Hy meen voorts dat talle produsente wegskram van vee omdat dit nie as sekuriteit aanvaar word nie.
“Daar moet meer programme wees om volwaardige beesprodusente raak te sien. Drie bulle van dié gebied (waaronder my Xourel Rainmaker) is in 2018 as die bestes ter wêreld bekroon. Die gehalte van vee wat hier geproduseer word, is uitsonderlik en die hele gemeenskap kan hierop trots wees.”
Teel vir sukses
By Xourel word semen uit 13 maande oue bulle onttrek en verse so jonk as 13 maande word met invitro bevrug om oösiete te skenk. “Daarmee kry ons dit reg om ons generasie-interval geweldig te verkort,” verduidelik hy.
Vastetyd-sinchronisasie is ’n gegewe in die Xourel-kudde. Daar is vastetyd-sinchronisasie en kunsmatige inseminasie (KI) van al die koeie. Bulle kom twee dae later by, met ’n dekseisoen van 70 tot 75 dae. Koeie wat nie beset word nie, word geslag. Die bevrugtingspersentasie wissel van 96% tot 98% in ’n enkele dekseisoen.
Verse word eers op twee jaar gedek, maar danksy KI en die embrioprogram wat al op 13 maande gevolg word, word dié twee-jaar intervalprogram oorbrug.
Genetika van Kanada, Australië, Frankryk, Nieu-Seeland en Amerika word ingespan.
Droom groot, maar bly relevant
Derick se besoek aan Australië in 2013 was vir hom ’n wekroep oor waar stoetboere werklik kán wees. “As jy 1 000 bulle per jaar kan produseer en jy weet hulle standaard is van so ’n aard dat jy hulle in enige van jou kommersiële kuddes kan gebruik sodat dit ’n geweldige impak kan maak op enige van ons kliënte se bedryf, besef jy dit kan in Suid-Afrika ook gedoen word, selfs ten spyte van die uitdagings.”
Hy meen hy sal altyd genetika invoer omdat hy só ’n goeie maatstaf kry van waarmee ander lande besig is. Sy raad is om die positiewe eienskappe relevant tot jou subbevolking te ontgin. “Dit moet egter steeds relevant wees vir Suid-Afrika se omstandighede.”
Xourel is geweldig streng by die keuse van diere wat vir die kommersiële mark aangebied word. “As ek vandag aan jou ’n bul verkoop, moet sy eienskappe van só ’n aard wees dat dit jou onderneming vorentoe neem en my kinders eendag met jou kinders kan sake doen,” verduidelik hy.
“Stoettelery is ’n langtermynbesigheid en ’n handelsmerk wat gevestig word. Dit wat ek nou doen, kom eers tot vrug in sowat vier tot ses jaar.”
Hy beklemtoon dat ’n dier funksioneel moet wees in Suid-Afrikaanse omstandighede. “Hy moet funksioneel homself op die veld kan handhaaf, ’n koei vir herhaaldelike seisoene kan dragtig maak en die kalwers moet die mark kan betree en teen ’n premie verkoop word.”
Hy is trots op die sterk waarborg wat Xourel aan kliënte bied. “Dit is by uitsondering wat ons probleme ervaar. Xourel se keuring is selfs strenger as dié van die Limousin-genootskap se telers – ons slag tot 15% van die bulle wat deur hulle gekeur word.”
Gesogte titel, senutergende kompetisie
Derick is deur die Limousin-telersgenootskap genomineer om in te skryf. “Hulle het my al ses jaar gelede gevra om in te skryf, maar ek was nog nie reg daarvoor nie. Verlede jaar het ek net gewéét,” glimlag hy.
Hy moes ’n inskrywingsvorm van 17 bladsye voltooi, maar met al sy verslae aangeheg het dit by 50 bladsye gedraai. “Telingsbeginsels en -tegnieke word geëvalueer. Daar word gekyk na jou genetiese verbetering en diversiteit en hoe vinnig jy dit bereik. Voeding en bestuursaspekte speel uiteraard ’n rol en die beoordelaars kontak selfs jou kliënte vir terugvoer,” vertel Derick.
Hy moes sy volledige genetiese tendense indien. Daar is ook gekyk na sy doelwitte binne ’n kudde – hoe vinnig en doeltreffend dit bereik is. “Jou werksaamhede in die bedryf kom ook onder die loep. Is jy betrokke by georganiseerde landbou? Neem jy deel aan opkomende projekte? Is jy wetenskaplik gedrewe?”
’n Kortlys is opgestel en Derick is op ’n dag in kennis gestel dat hulle die volgende dag op sy plaas sou wees. “Hulle doen dit doelbewus sodat jy nie tyd het om voor te berei nie. Hulle kyk hoe goed jy jouself in die afgelope tien jaar gehandhaaf het.”
Die beoordeling is behartig deur prof Frikkie Neser van die Fakulteit Veekunde aan die Universiteit van die Vrystaat. “Prof Neser het gesê na sy mening, as dit nie die beste is nie, is dit baie naby aan die beste inskrywing wat hulle nog ooit ontvang het, en dat hy graag wil hê ek moet sy studente toespreek,” glimlag Derick. “En hy maak daardie toekenning al vir die afgelope 20 jaar.”
“Jy meet maar jouself teen ander stoetkuddes en vra jouself of jy op die regte pad is. Is ek ’n ware rentmeester vir waarmee ek besig is? Is die bulle by kommersiële telers en is hulle ekonomies relevant? Is die standaard só dat ons nog vir generasies kan sake doen?”
Derick het die toekenning in Oktober 2019 ontvang en bedank sy gesin vir die deurslaggewende rol wat hulle in Xourel se sukses speel.
Toekomsplanne
Vir eers hou dié jongboer sy kaarte teen sy bors. “Dalk is ek ’n bietjie té ambisieus,” sê hy. Hy sal wel graag sy kommersiële kliëntebasis wil laat groei en wil betrokke raak in die breë beweging van hoe landbou die bees bedryf sien.
“Ek dink daar kan beter organisasies vir beesprodusente wees. Georganiseerde landbou kan meer doen vir die bees- en stoetbedryf in Suid-Afrika.”
Derick meen hy en ander telers sit byvoorbeeld met fantastiese genetiese materiaal wat hulle nie mag uitvoer nie, as gevolg van die verbod weens bek-en-klouseer. “Kyk egter hoe goed het ’n land soos Namibië dit aangespreek. Hierdie organisasies moet leer om met die regering saam te werk.
“Die Rooivleisprodusente-organisasie diens produsente van bokke tot volstruise en hulle benaderings is nie altyd wat die bedryf nodig het nie. Jou grootste uitdaging vandag in landbou is om vinnig te kan aanpas. As jy nie vinnig genoeg kan aanpas nie, gaan jy uitval.”
Tot 30% van Xourel se bulmark is in Botswana, wat hy die afgelope 18 maande nie kon bedien nie vanweë die verbod weens bek-en-klouseer.
Hy sal ook graag samehorigheid wil kweek met Limousin-telers van regoor die wêreld. “Ek wil my kennis deel. Jy moenie dit vir jouself hou nie.Talk is cheap, laat die genetika die praatwerk doen.”