Die vergeling van plante is vergelykbaar met ’n kind wat koors het. Dit wys dat die plant nie gesond is nie, maar daar moet dieper gekyk word om by die oorsprong van dié probleem uit te kom.
Die afgelope seisoen het ons opnuut laat besef hoe belangrik dit is vir ’n mielieplant om ’n goeie wegspring te hê. Oral was geel plante te sien en dit het leemtes uitgewys in produksiestelsels wat ons vergeet het of nie in die droë jare gesien het nie. Die vergeling kan aan verskeie faktore toegeskryf word en moet dieper ondersoek word.
Oorsaak van vergeling
Die vergeling van jong plante kan aan ’n aantal faktore toegeskryf word wat slegs deur goeie waarneming en die eliminasie van faktore teruggewerk kan word na die primêre oorsaak. In baie gevalle veroorsaak ’n kombinasie van faktore die probleem.
Die volgende situasies kom voor:
STIKSTOFLOGING
Stikstof is beweeglik in die grond in ureum- en nitraatvorm. Beweging vind saam met die grondwater plaas, veral in sandgronde waar water vinnig beweeg. Ureum is ladingloos en beweeg baie maklik in die profiel. Baie water is egter nodig en die beweging is dan grootliks tot dieper in die grond beperk. Dit laat egter steeds die plant met min nitraat vir opname in die vroeë stadiums.
Sodra die plant se wortels die ondergrond bereik, is die stikstof weer beskikbaar en herstel die plant pragtig. ’n Ploegblad of verdigting vererger die situasie, aangesien die wortels dan sukkel om in die ondergrond te kom. As die wortels glad nie die ondergrond bereik nie, is dit fataal.
DENITRIFIKASIE
Die natuurlike siklus van stikstof is dat dit van ’n organiese bron na ammonium beweeg en vandaar na nitraat. Hierdie proses vind in aërobiese toestande plaas. Sodra koel reënweer vir ’n tydperk voorkom, word die grond versadig met water en skep dit anaërobiese toestande. Mikro-organismes wat ammonium na nitraat omskakel, gebruik nou suurstof uit die nitraat om van te lewe. Dit skep nitriet, wat giftig is vir plante. Weereens sal ’n ploegblad die situasie vererger.
Die waterbeweging in die verdigte sone is baie stadig, omdat die porieë verklein tydens verdigting. Sodoende word die bogrond dan makliker versadig en is dit vir langer tye versadig met water. Die enigste oplossing is dat daar weer suurstof in die grond moet kom. ’n Skoffelbewerking sal die situasie baie vinnig verbeter.
ONKRUIDDODER
Onkruiddoders se werking verskil tussen grasdoders en breëblaarplante. Breëblaarplante word goed beheer in grasse en grasse in breëblaarplante, en die moontlikheid van gewasskade is baie kleiner. Om grasse in ’n grasgewas soos mielies te beheer, is moeiliker en die kans vir gewasskade is baie groter. Die asetanaliede wat voor opkoms gespuit word, is sekerlik die grootste sondebok wanneer nat, koel weer tydens opkoms ervaar word.
Die onkruiddoder word deur die koleoptiel opgeneem en moet deur die mielie verwerk word om skadeloos te word. Dit is waarom beveiligers bygevoeg word tot die middels om die proses te bespoedig. Koel weer vertraag die plant se groeitempo, wat daartoe lei dat die plante stadiger opkom en dus langer blootgestel is en meer onkruiddoder opneem.
Na opkoms word groei vertraag en neem dit ook baie langer vir die plant om die middels te verwerk. Indien loging plaasvind, loog die beveiliger soms ook vinniger as die aktief, sodat baie minder beveiliger opgeneem word en die plant die aktief baie moeiliker verwerk.
VOEDINGSWANBALANS
In anaërobiese toestande word die ammonium nie na nitraat omgeskakel nie. Dit lei daartoe dat ammonium ophoop en die dominante katioon in die grondoplossing word, en dit word ook in oormaat opgeneem. Dit induseer dan magnesium- (Foto 1) en sink tekorte (Foto 2). Die plant neem ook ’n oormaat ammonium op, wat in die plant ophoop indien die metabolisme weens koel weer te stadig is.
Indien warm weer met ideale groeitoestande na ’n nat, koel tydperk volg, skep dit ’n swaeltekort. Swael loog baie maklik en is dan net buite bereik van die plant. Die plant kan tydelik nie genoeg swael opneem nie en herstel meestal self na ’n week of twee, sodra die plant weer genoeg swael opneem.
Suur grond se impak kom ook in sulke weer duidelik na vore. Omdat groei stadig is en die opname van voedingstowwe onder druk is, toon die plant aluminium- en mangaantoksisiteit baie duideliker. Die kans is groot om ander tekorte, soos molibdeen, ook te kry.
Verseker ‘n goeie wegspring
Daar is ’n aantal verbouingspraktyke wat die situasie help voorkom. Die meeste hiervan is algemeen en daar word nie opgelet watter bydrae dit maak nie, totdat dit onder strestoestande noodsaaklik raak. Alles wat goeie groei bevorder, sal die situasie verbeter.
KUNSMISPLASING
’n Kunsmis-misry word duidelik gesien in ’n nat jaar. ’n Plant wat nog nie kunsmis kry nie, sal swak wees tussen ander plante wat reeds kunsmis kan opneem. Die ideale bandplasing van kunsmis is 5 cm weg en 5 cm onder die plasing van die pit. Hoe verder weg die kunsmis van die pit geplaas word, hoe langer sal dit vir die plant neem om by die kunsmis uit te kom.
Indien die plasing nie egalig toegedien is nie, lei dit tot onegalige plante. Dit kan gebeur as die kouter los is en kan beweeg, die uitmeet van kunsmis onegalig is of die diepte wissel. Laasgenoemde gebeur algemeen en word veroorsaak deurdat die kunsmiskouter en plantereenheid nie altyd ewe diep loop nie.
Die kunsmiskouter sak dieper in los grond en waar die grond hard is, sukkel dit om diep genoeg in te gaan. Goeie primêre bewerking en saadbedvoorbereiding help baie om planttoestande meer eenvormig te maak.
Die kunsmisgehalte lewer ook ’n groot bydrae. Swak gehalte kunsmis wat verpoeier of massamengsels wat segregeer, lei tot oneweredige toediening asook onegalige beskikbaarheid van voedingstowwe. Die probleem is ook erger by groot planters, wat kunsmis met wind uitblaas tot op die ry.
Die pit lewer energie en voedingstowwe vir ongeveer nege tot 14 dae. Die eerste vyf tot agt dae word gebruik om bo die grond te verskyn. Die kiemplant moet dus die kunsmisband binne twee tot vyf dae ná opkoms bereik om te verseker dat genoeg voedingstowwe voorsien word.
Die rigting waarin die pit lê, maak ook ’n verskil in die rigting waarin die primêre wortel groei. Die kiemwortel groei na die punt van die pituit en die koleoptiel na die ronde kant van die pit. Pitte wat na die kunsmisband wys, se wortels is gouer by die band as pitte wat weg wys. Hierdie verskil kom duidelik na vore wanneer produsente bang is vir kunsmisbrand en hul kouters verder weg van die pit skuif. Die sekondêre wortels kom dan eers later by die band uit, wat die plant ’n redelike groot agterstand gee.
Kunsmiskouters wat aan die planterkarretjie monteer, help baie om die kunsmisplasing konstant te kry. Omdat die kouter dan half weggesteek is onder die balk, is dit maklik om dit met vloeibare kunsmis reg te kry, maar die meeste droë kunsmisplanters kan dit nie hanteer nie.
Die afwaartse druk om jou pitplasing reg te doen, moet ook gekontroleer word.
KUNSMISBRON
Die kunsmisbron en samestelling van die kunsmis speel ’n groot rol in die beskikbaarheid van voedingstowwe en die wegspring van die plant. Hoewel die meeste produsente eerste na die hoeveelheid stikstof kyk om te verseker dat die plante groen is, speel fosfaat net so ’n belangrike rol in die wegspring van die plant.
Ammonium en fosfaat saam het ’n sinergistiese werking, wat die N- en P-opname verhoog en die plant ’n beter wegspring gee. Indien die N en P saam in die korrel en band voorkom, gee dit ook ’n beter opname as wanneer dit in aparte produkte toegedien word. In kunsmisproewe vertoon plante baie mooi in die hoë P-peile, selfs met lae N-peile.
Die kiemplant neem ammonium met die laagste energieverbruik op solank as wat dit onder die grond is, maar sodra dit aan lig blootgestel word, word nitraat met die minste energie opgeneem. Daar moet dus reeds ’n week na plant nitraat beskikbaar wees.
Met ureummengsels moet die ureum eers omgeskakel word, en dié proses word deur koel toestande vertraag. Die verskil wat chemies-verkorrelde ammoniumnitraatmengsels maak, word duidelik waargeneem in nat jare, soos in Foto 3 getoon word. In sandgronde is die verskil nog groter en Adriaanse het slegs 33% van die opbrengs behaal met ’n ureummengsel (Grafiek 1).

Grafiek 1: Opbrengsverskille tussen KAN en ureum met verskillende tye van toediening.
Dit is fataal om in ’n nat jaar so ’n misoes te behaal. Die afgelope seisoen is ’n verskil van 0,5 t/ha verkry in Delareyville (Tabel 1), waar ’n ureum-massa mengsel met ’n chemies-verkorrelde ammoniumnitraatproduk vergelyk is. As daar na die marge ná bemesting gekyk word, geld die spreekwoord wat lui “Goedkoop koop is duur koop”.
Tabel 1: Produkvergelyking in Delareyville, 2020.
ONKRUIDDODER
Tans is die onkruiddruk sodanig dat die meeste produsente tydens planttyd grasdoders moet spuit. Indien grasdoders eers ná opkoms gespuit kan word, maak dit die kans vir skade baie klein. Ander middels soos mesotrioon kan dan egter nie in kombinasie gespuit word nie. Die dosis grasdoders moet laag genoeg wees om veilig te wees.
Die keuse van produk maak ook ’n groot verskil. Metolachloor is veiliger as asetanilied en die beveiliger maak ’n groot verskil. Die oorspronklike produkte is duurder as generiese produkte, omdat dit meestal ’n beter beveiliger bevat en beter kwaliteitskontrole gedoen word. ’n Nat jaar gaan die verskille uitwys, so die evaluasie van produkte moet dus in so ’n jaar gedoen word.
BEWERKINGSPRAKTYKE
Bewerkingspraktyke maak ’n groot verskil in die voorkoms van plante in ’n jong stadium. Geploegde lande groei aanvanklik weliger as beitelploeglande en dit is nog baie beter as in geenbewerking. Los grond vir goeie wortelontwikkeling op ’n jong ouderdom bevorder vinnige groei. Die infiltrasie van water is ook baie beter waar grond bewerk is.
In metings is die volgende infiltrasietempo in redelike sandgrond verkry: Op die trekkerspoor was die infiltrasie 12 mm, op normale grond 60 mm en op die ripry 270 mm/uur. Hierdie verskil kom na vore in die tydperk wat die grond met water versadig is. Dreinering is vinnig en anaërobiese toestande baie kort wanneer die grond los is. Die gevaar bestaan egter dat meer water op die ripry infiltreer, met gevolglike hoër loging van voedingstowwe.
Die inwerk van kalk verseker dat die werking van kalk vinnig is en die hele ploegdiepte geneutraliseer word. In baie gevalle is die profiele dieper versuur en word die nodige vermenging nie gedoen nie. Dit lei tot plante wat as gevolg van suur ondergrond nie wil presteer nie.
Samevatting
Met beplanning vir die nuwe seisoen moet daar altyd na optimale produksie gestreef word. Praktyke wat die beste resultate lewer, moet gekies word en nie noodwendig dié wat die maklikste of vinnigste is nie. In moeilike jare is baie produsente finansieel gedruk om die goedkoopste produksiemiddels aan te koop of nie voluit in te sit vir die beste potensiaal nie. Sodra moontlik, moet teruggekeer word na die beste produkte en praktyke.
Bronnelys
Adriaanse FG,et al, 2016. Bemestingshandleiding. Fertasa, Lynnwoodrif, RSA
Adriaanse FG, 2016. Effektiwiteit van KAN teenoor ureum by mielies. In Graan SA, Julie 2016
Aldrich SR, Scott WO and Leng ER, 1982. Moderncornproduction. A&L Publications, Illinois, VSA