Ingekuilde ruvoere, veral mielie- en graskuilvoer, is ’n kernbestanddeel van die meeste volledig gemengde rantsoene by beide melkerye en voerkrale. Volgens Ogunade et al. (2018) kan ruvoere wat deur middel van inkuiling geberg en bewaar word met mikotoksiene besmet wees. Dit kan voor of tydens inkuiling gebeur, asook tydens die uitlaaiproses van die materiaal uit die bunker.
Wat is mikotoksiene?
Mikotoksiene is ’n groep giftige, sekondêre metaboliete (chemiese verbindings) wat deur filamentagtige swamme geproduseer en afgeskei word. Verskeie mikotoksiene kan in ingekuilde voere aangetref word, waaronder aflatoksien, fumonisien, deoksinivalenol (DON, ook bekend as vomitoksien), searalenoon (ZEA) en okratoksien.
Tot op hede is meer as 400 mikotoksiene wêreldwyd geïdentifiseer (Nortjé, 2021). Mikotoksiene is smaakloos en reukloos (Lemmer, 2020), en kan dus nie deur menslike sintuie waargeneem word nie. Soms is dit baie toksies, selfs teen baie lae konsentrasies.
Swamme wat voor sny die gasheerplant besmet (ook genoem “landswamme”) is hoofsaaklik Fusarium-, Alternaria– en Aspergillus-spesies. Toksikogeniese swamme wat ná inkuiling en tydens die oopmaak en uitvoerproses groei, is hoofsaaklik:
- Penicillium-spesies (blou/groen kleur).
- Aspergillus-spesies (geel/groen kleur; Storm et al., 2008).
- Monascus-spesies (rooi met wit omring; Seglar, 2013).

Mikotoksiene is oral in die omgewing teenwoordig. Dit kom in baie voedselprodukte voor en nie, soos die opvatting soms is, net in graangewasse of graan nie (Ogunade et al., 2018).
Alle swamme produseer nie noodwendig mikotoksiene nie. Die teenwoordigheid of afwesigheid van swamgroei (muf) in of op kuilvoer dui dus nie altyd die teenwoordigheid (of afwesigheid) van mikotoksiene in die voer aan nie (Ogunade et al., 2018).
Sommige swamme, soos Alternaria infectoria, vorm laat in die seisoen swart spikkels op die gasheerplante wat die teenwoordigheid van die swam kan weggee, maar in die geval van kuilvoer is dit selde sigbaar. Die swamme en teenwoordigheid van mikotoksiene is meestal nie voor inkuiling sigbaar op die gasheerplant nie.

Simptome van mikotoksienvergiftiging
Die immuunstelsel en immuniteit van diere word deur mikotoksiene benadeel. Dit verhoog hul vatbaarheid vir ander siektes en kan ook mikotoksikose veroorsaak (Nortjé, 2021). Enkelmaagplaasdiere is oor die algemeen meer vatbaar vir die uitwerking van mikotoksiene as herkouers. By laer vlakke van blootstelling word ’n afname in produktiwiteit waargeneem.
Simptome sluit ’n verlaagde voerinname, verlaagde produksie, verlaagde vrugbaarheid en die voorkoms van aborsies tydens laat dragtigheid in.
Swambesmetting in kuilvoer lei ook tot ’n daling in voedingswaarde, smaaklikheid en rakleeftyd van die kuilvoer (Seglar, 2013). Dit veroorsaak onder andere sekere kankers, lewer- en ander siektes by diere, maar vrektes kom selde voor (Storm et al., 2008). Dit kan ook tot kwaadaardige gewasse by die mens lei.
Gunstige toestande vir swamgroei
Swamgroei en die vlakke van mikotoksienproduksie word deur verskeie omgewings- en fisiologiese faktore bepaal. Humiditeit, temperatuur, beskikbare suurstof en insek-aktiwiteit is die belangrikste faktore wat swamgroei en mikotoksienproduksie bepaal (Ogunade et al., 2018).
Toestande wat gunstig is vir swamgroei en mikotoksienproduksie, is ook nie noodwendig dieselfde nie. Byvoorbeeld, Fusarium-swamme kan aggressief groei by 25°C tot 30°C sonder om mikotoksiene te produseer, terwyl dit by vriespunt-temperature minimum swamgroei toon, maar groot hoeveelhede mikotoksiene produseer.
Nog ’n uitsondering is die Penicillium-spesies, wat in die teenwoordigheid van suurstof, maar ook by ’n lae pH, kan floreer. Dit is waarskynlik waarom dit die algemeenste swamme in kuilvoermonsters is (Seglar, 2013).

Ander faktore wat swamgroei en mikotoksienproduksie kan bevorder, sluit in fisiese skade aan mielieplante en -koppe voor sny, asook skade aan die bedekking oor of om die kuilvoer deur reën, hael of knaagdiere.
In die kuilvoerbunker word swamgroei deur die afwesigheid van suurstof, ’n lae pH en die teenwoordigheid van koolsuurgas onderdruk. Insek-aktiwiteit voor en tydens die snyproses verhoog die voorkoms van sekere swamme (Ogunade et al., 2018). Insekte tree as vektore vir swamspore op en kan ook plante fisies beskadig, wat toegang verleen aan swamme om gewasse te infekteer (Nortjé, 2021).
Oor die afgelope twee tot drie jaar was daar toenames in die voorkoms van DON, ZEA en fumonisien in mieliegraan (Lemmer, 2020). Dit word toegeskryf aan die gunstige temperatuur en vogvlakke tydens die groeiseisoen. In die 2020/2021-seisoen kan laer mikotoksienvlakke in graan en kuilvoer verwag word as in die 2019/2020-seisoen, aangesien minder reën en laer humiditeit in die somergraangebied voorgekom het.
Voorsorg is beter as nasorg
Soos reeds genoem, is die bestuur van die inkuilingsproses deurslaggewend in die beheer van swamgroei in die bunker (Seglar, 2013). Die volgende maatreëls word voorgestel, met die hooffokus op die verlaging van die pH en die uitsluit van suurstof in die bunker:
- Gebruik gepaste insek- en swamdoders tydens die groeiseisoen.
- Stel die snyhoogte van die kerwer om seker te maak dat so min moontlik grond in die kuilvoer beland.
- Verseker ’n skoon, fyn snit – ongeveer 2 cm lank.
- ’n Spoedige sny- en inryproses sonder vertragings.
- Korrekte voginhoud (35% vog – eerder te droog as te nat).
- Voldoende kompaksie in die bunker (uitsluit van suurstof).
- Behoorlike seël van die bunker (uitsluit van suurstof en insluit van koolsuurgas).
- Stabiliseer die pH deur doeltreffende fermentasie – byvoorbeeld deur nie die bunker te vroeg oop te maak nie.
- Die korrekte bestuur van die silogesig. Gebruik, waar moontlik, toerusting wat ’n skoon snit maak met uitlaai en probeer om die silogesig so min as moontlik te versteur en belugting van die materiaal te voorkom (Seglar, 2013).
- Vermy ’n stadige uitvoerproses. Beplan die bunkergrootte volgens die verwagte behoefte – soms is twee kleiner bunkers beter as een groot bunker (Seglar, 2013).
- Voorkom die “brug” van materiaal in silindriese kuilvoersakke.
- Voorkom die beskadiging van kleefplastiek om gebaalde kuilvoer, kuilvoersakke en bunkerbedekkings.
- Gebruik van mikotoksienbinders tydens die inkuil- en/of uitvoerprosesse. Onthou dat ’n doeltreffende entstof kan help om goeie kuilvoer beter te maak, maar dit sal nie swak kuilvoer goed maak nie.
- Gebruik uitgelaaide voer onmiddellik, maak voerkrippe gereeld skoon en verwyder gemufte materiaal voor dit gevoer word.

Bron: Seglar, 2013
Samevatting
- Die voer van gemufte en bederfde voer aan plaasdiere moet vermy word.
- Verlaagde inname en produksie, asook vermorsing deurdat besmette voer dikwels tot niet gemaak moet word, kan tot geweldige ekonomiese verliese lei.
- Die korrekte inkuilingsproses en silobestuur is van kardinale belang om swambesmetting en mikotoksienbesmetting by kuilvoer te voorkom.
Bronnelys
- Lemmer W, 2020. Stygende mikotoksienvlakke noodsaak groter betrokkenheid. AgriOrbit, 29 Desember 2020. https://www.agriorbit.com/stygende-mikotoksienvlakke-noodsaak-grbetrokkenheid/
- Nortjé J, 2021. Beskerm jou kuilvoer teen mikotoksiene. AgriOrbit, 11 Januarie 2021. https://www.agriorbit.com/beskerm-jou-kuilvoer-teen-mikotoksiene/
- Ogunade IM, Martinez-Tuppia C, Queiroz OCM, Jiang Y, Drouin P, Wu F, Vyas D, and Adesogan AT, 2018. Silage review: Mycotoxins in silage: Occurrence, effects, prevention and mitigation. J Dairy Sci., Vol. 101 No. 5, 4034-4059. https://doi.org/10.3168/jds.2017-13788
- Seglar B, 2013. Diversity of silage moulds produces harmful mycotoxins. Progressive Forage. 31 October 2013. https://www.progressiveforage.com/forage-types/silage/diversity-of-silage-molds-produces-harmful-mycotoxins
- Storm IM, Sørensen JL, Rasmussen RR, Nielsen KF and Thrane U, 2008. Mycotoxins in silage. Stewart Postharvest Review. 4. 1-12. 10.2212/spr.2008.6.4. https://www.researchgate.net/publication/233487781_Mycotoxins_in_silage