Deel 1
Grond in die natuurlike staat bestaan uit die mineralefraksie (anorganies), organiese fraksie, water en lug. Die mineralefraksie word op grond van die deeltjies se grootte in sand, slik en klei verdeel.
Wanneer na die tekstuur van grond verwys word, dui dit op die relatiewe verhoudings van die onderskeie deeltjiegroottefraksies in die grond. In hierdie artikel gaan die sandfraksie onder die vergrootglas bekyk word.
Om die onderskeie grondfraksies beter te verstaan, is dit nodig om eers die oorsprong van die mineralefraksie van grond te verduidelik. Die mineralefraksie het sy oorsprong te danke aan die verwering van geologiese materiaal. Verskillende gesteentes bestaan uit verskillende minerale of kombinasies van minerale. Die verskillende minerale verweer teen verskillende tempo’s en tot verskillende afbreekprodukte. Dit impliseer dat die tipe gesteente ’n groot invloed op die grond se mineralefraksie sal hê.
Sandfraksie
MINERALE-SAMESTELLING
Die sandfraksie bestaan uit minerale wat baie hard is en deur fisiese verwering tot fyn deeltjies verweer. Kwarts is hier die algemeenste mineraal. Voorts sal die sandfraksie ook harde minerale bevat wat chemies stadig verweer. Veldspaat is hier ’n goeie voorbeeld.
Kwarts is die algemeenste mineraal in die aardkors en dit vorm deel van ’n groot verskeidenheid gesteentes wat algemeen voorkom. Dit is tipies ligkleurige gesteentes soos kwartsiet, sandsteen, grintsteen, granofoor en graniet. Verskeie donkerkleurige stollingsgesteentes vorm tydens stolling lugblasies en krake waarin kwarts later kristalliseer. Derhalwe bevat die meeste donker stollingsgesteentes ook ’n hoeveelheid kwarts.
-
- Kwarts (SiO2 oftewel silikonoksied) is hard (7 op die Mohs-skaal) en chemies inert (onreaktief), en daarom bly dit altyd oor as verweringsproduk. Dit is ook die algemeenste mineraal in die sandfraksie.
- Kwartsiet bestaan uit kwarts en onsuiwerhede, en verweer tot fyner kwartsdeeltjies wat in die sandfraksie opgeneem word.
- Sandsteen bestaan uit gekonsolideerde sand en wanneer dit verweer, vorm dit weer sand.
- Graniet bestaan uit kwarts, veldspaat en mika. Die mika is sag, chemies reaktief en verweer vinnig na primêre kleiminerale.
Die kwartsfraksie verweer fisies fyner tot die sandfraksie. Die veldspaat is hard, maar verweer chemies en fisies tot fyner deeltjies wat ook in die sand kan voorkom. Eintlik bestaan sand maar hoofsaaklik uit kwarts.
DEELTJIEGROOTTE
Per definisie word die anorganiese deeltjies van grond, wat tussen 2 mm en 0,05 mm in deursnee is, as sand geklassifiseer. Deeltjies growwer as 2 mm en kleiner as 75 mm in deursnee word as gruis geklassifiseer.
Die sandfraksie word verder op grond van die deeltjies se grootte in vyf grootteklasse (Tabel 1) verdeel, naamlik baie growwe sand, growwe sand, medium sand, fyn sand en baie fyn sand.
Wanneer ’n grondmonster in water opgeskud word en dan gelos word om uit te sak, sak die grofste sandkorrels eerste uit, gevolg deur al fyner sand, slik en dan klei.
Sandgronde in Noordwes
Die sandfraksie kan in situ (op die plek van oorsprong) vanuit die moedergesteentes verweer óf dit kan ingewaai (eoliese sand) of ingespoel (alluviale sand) wees. Dit kan ook weens gravitasie vanaf die hange van berge of rante vervoer gewees het (kolluviale sand).
Voorbeelde van in situ verweerde sand is die granietgronde van die gebied rondom Halfpad, Coligny, Oppaslaagte en tot naby Ottosdal, asook die sandsteen en kwartsitiese gronde van Koster, Derby, Boons en Syferbult.
Eoliese sand is verreweg die algemeenste oorsprong van ons gronde se sandfraksie. Dit het vanaf die Kalahari ingewaai en hierdie proses is steeds aan die gang. Kalahari-sand het die hele Ventersdorp Supergroep toegewaai. Dit is veral die toegewaaide Ventersdorp-lawa van die Ventersdorp Supergroep wat vandag as baie produktiewe landbougrond met kontantgewasse aangeplant word.
Dit sluit die omgewing ongeveer wes van die Lichtenburg/Ottosdal-pad in, waaronder Biesiesvlei, Sannieshof, Kleinharts, Barberspan, Nooitgedacht, Delareyville, Migdol en Kameel. Die Ventersdorp-lawa is met ’n laag van sowat 0,3 m tot soveel as 2 m dik Kalahari-sand toegewaai.
In die omgewing van Mareetsane, Setlagole, Stella en verder wes, het die eoliese Kalahari-sand nog dikker en op plekke etlike meters dik ingewaai.
Alluviale sand kom langs spruite en riviere voor, maar beslaan klein oppervlaktes. Kolluviale sand kom aan die voethange van die kwartsitiese rante in die omgewing van Koster, Swartruggens, Zeerust en die Magaliesberge voor.
Verskillende bronne van sand
In situ verweerde sand is gewoonlik baie hoekig, met skerp snykante. Verder bevat só ’n grondmonster gewoonlik al die grootteklasse van baie growwe sand tot baie fyn sand. Wanneer dit deur ’n stel grondsiwwe gewas word, lê daar op elkeen van die siwwe ongeveer ewe veel grond.
Grondkundiges verwys daarna as dat die grond “ongesorteer” is. Wanneer ’n mens dit tussen jou vingers vryf, voel jy die skerp kante. Dit is dan ook kenmerkend van die granitiese grond van Noordwes (Foto 1). Wanneer hierdie grond bewerk word, slyt dit die grondslytonderdele van grondwerktuie soos beitelskare en skaarploegskare baie vinniger weg.
Teenoor in situ verweerde sand is eoliese sand kenmerkend gerond, met vorms soos aartappels (Foto 2). Soos wat die sand deur die wind aangewaai word, val die sandkorrels kort-kort en word dit aangerol, wat die hoeke afslyt. Wanneer eoliese sand tussen jou vingers gevryf word, voel dit opmerklik glad en is die slytasie van eoliese sand op grondslytonderdele betekenisvol minder.

Eoliese sand is as ’n reël “goed gesorteer” en lê meestal op een of twee siwwe van die stel siwwe. Dit word verklaar deurdat die grofste sandkorrels naby die bron van oorsprong bly, terwyl die effens fyner sand effens verder afgesit word en die fynste sand die verste vervoer word.
Dit impliseer dat die sandgraad al fyner word vanaf die bron van oorsprong en dat die sand wat op ’n sekere afstand van die bron voorkom, by benadering ewe grof of ewe fyn is. Die sandfraksie van die eoliese sande in NWK se bedieningsgebied klassifiseer tipies in die fynsandfraksie.
Alluviale sand is gewoonlik “swak gesorteer”, en bevat sandkorrels met beide skerp en geronde hoeke en kante. Naby aan vinnig-vloeiende water is daar meer growwe sand, met al fyner sand waar die water stadiger vloei.
Kolluviale sand is gewoonlik ook “swak gesorteer”, maar dit het kenmerkende skerp hoeke en snykante.
Die kleur van sand
Suiwer sand se kleur is wit en die individuele sandkorrels is deursigtig soos glas – glas is ook SiO2, dieselfde as kwarts. In die meeste gevalle is die sandkorrels met ysteroksied bedek, wat dit ’n rooi kleur gee in die geval van die mineraal hematiet (Foto 1) of geel in die geval van die mineraal goethiet (Foto 2). As dit met humus bedek is, is dit swart of donkerkleurig.
Uitwerking op grond
SAND SE UITWERKING OP GROND SE CHEMIE
Omdat sand in die meeste gevalle uit omtrent net kwarts bestaan, word sand as inert gereken en is dit dus onreaktief. Dit dra niks by tot die grond se katioon-uitruilkompleks nie. Daar kleef egter ’n bietjie fosfate, kalium, kalsium, magnesium, sulfate en mikro-elemente aan die sandkorrels – hoewel dit deur swak adhesiekragte aan die sandkorrels kleef en dus maklik oplos en deur plante opgeneem kan word.
SAND SE UITWERKING OP FISIESE GRONDEIENSKAPPE
In sandgrond beslaan die sandfraksie die grootste gedeelte van die grondvolume. Hoe fyner die sand is en hoe beter dit gesorteer is, hoe gevoeliger is dit vir verdigting. Die sandfraksie dra min by tot die waterhouvermoë van grond, met growwe sand die swakste en die baie fyn sandfraksie wat darem meer water vashou.
Sandgrond is nie-klewerig en dit swel en krimp ook nie. In die natuurlike toestand is sandgrond se bruto digtheid ongeveer 1,5 tot 1,6 ton per kubieke meter. Die porieë is gemiddeld heelwat groter as dié van leemgrond. Kleigrond se porieë is daarenteen baie klein.
Growwe sandgrond dreineer vinnig, met die dreineringstempo wat afneem soos wat die sand al fyner word. Sandgrond is gewoonlik goed deurlug, met growwe sandgrond die beste en baie fyn sandgrond weer swakker.
Samevatting
Die akkerbougronde van Noordwes is hoofsaaklik sanderig en die sandfraksie is tipies fyn en goed gesorteer, soos wat van eoliese sandgronde verwag kan word. Dit is gewilde akkerbougrond omdat dit maklik bewerk kan word.
Die sanderige aard van veral die bogrond verhoog die infiltrasietempo van die tipiese donderstorms van die somerreënval. Hierdeur kan die meeste van die reënwater opgevang word om stadig na die dieper ondergrondlae te dreineer, waar plante dit kan benut. Die sandfraksie is onaktief en dus nie chemies reaktief nie – vandaar die lae inherente vrugbaarheid van ons gronde.
In die volgende uitgawes van hierdie reeks word slik en klei onder die vergrootglas geplaas.
Bronnelys
- Brady NC, 1990. The nature and properties of soils. Tenth Edition. Macmillan Publishing Company. New York. USA
- Marshall TJ and Holmes JW, 1979. Soil physics. Cambridge University Press. Cambridge. USA
- Van der Watt HvH and Van Rooyen TH, 1995. A glossary of soil science. Second Edition. The Soil Science Society of South Africa. Pretoria