Agri Noordwes se Jongboer van die Jaar 2021 is slegs sowat drie jaar in die tuig, maar dit is duidelik dat sy toekomsgerigte en holistiese benadering tot die landboubedryf hom nog ver gaan bring.
Wernich Lemmer (34) het Andries Coomans van Excelsior en Christo Greyling van Sannieshof uitgestof en outomaties na Toyota SA se Nasionale Jongboer van die Jaar-kompetisie, wat later vanjaar sal plaasvind, deurgedring. “Ek het Agri NW se voorsitter belowe dat ek my bes sal doen om te wen. As ek nie wen nie, gaan ek steeds vir die wenner ’n opdraande stryd gee,” lag hy.
Van ingenieur tot produsent
Dit is duidelik dat Wernich ’n wye belangstellingsveld het. Hy het ’n graad in meganiese ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus behaal en ’n paar jaar in dié bedryf gewerk. Daarna het hy die finansiële wêreld betree.
“Ek het ’n geleentheid as makelaar gekry en my Safex-eksamen geskryf en het baie produsente as kliënte gehad en gevolglik daardie kant van die landbousektor gesien. Só het ek baie geleer en waardevolle ervaring opgedoen. Nou gebruik ek dit op ’n daaglikse basis in ons boerdery met boerderybemarking,” gesels hy.
Hy het ook ’n graad in die regte aangepak en hierna as patenteprokureur in die Kaap gepraktiseer. In Desember 2017 het Wernich se pa hom gevra of hy wou kom boer. “Ek het dadelik die geleentheid aangegryp. Die plaas was maar nog altyd in my agterkop.” Wernich het in Maart 2018 amptelik by die boerdery betrokke geraak.
Op plaasvlak
EKSPERIMENT WERP VRUGTE AF
Die Lemmers het aanvanklik van ’n oorlêstelsel gebruik gemaak, maar steun nou eerder op ’n wisselbou-dekgewasvertakking. Hulle het twee jaar gelede dekgewasse begin plant en vermeerder dit elke jaar. Hulle gaan in die komende seisoen ook met sonneblom wisselbou. Tans maak die saaivertakking sowat 80% van die boerdery-omset uit en hul beesvertakking die oorblywende 20%.
Die Lemmers het ook wegbeweeg van konvensionele na minimum- of geenbewerking. “Ons het egter tipiese rooi, sanderige grond, wat dit moeilik maak om dit glad nie te bewerk nie,” verduidelik Wernich. Hulle versteur egter die grond so min as moontlik.
Waar hulle minimum bewerking doen, plant hulle steeds met ’n tandploeg, sowat 250 mm tot 350 mm diep. “Ons doen ook strookbewerking waar ons skeurploeg op ’n ry, sowat een meter uitmekaar. Ons plant dan op daardie stroke. Waar ons sterk verdigtings het, doen ons ook ’n algehele skeurploegbewerking, waar ons twee keer die hoeveelheid tande in die grond sit en dit lekker los breek.”
Hulle het egter die afgelope drie jaar tot 70% minder ploegbewerking toegepas. “Ons ploeg wel waar ons plaagbestuur moet toepas of waar ons kalk so diep as moontlik in die grond wil kry.”
Dekgewasse is ’n relatiewe nuwe neiging in saaiboerdery, en die Lemmers het sowat twee jaar gelede hiermee begin eksperimenteer. Hulle plant met groot sukses ’n somerdekgewasmengsel, asook ’n somer-winterdekgewasmengsel.
“Ons het goeie resultate op ons proewe behaal – ons opbrengste was sowat twee ton meer as die gemiddeld wat ons op oorlêlande behaal het. Op lande waar ons aanvanklik dekgewasse en toe mielies geplant het, het ons ’n bykomende twee ton bo dié van die oorlêlande behaal. Dit is dus die gemiddeld plus vier ton!”
DEKGEWASSE SE VOORDELE IS LEGIO
Dié jongboer praat met groot agting van die boek From dirt to soil deur Gabe Brown. “Kortliks, dekgewasse saam met presisietegnologie stel jou in staat om die potensiaal in jou grond te ontsluit en te bevorder – met dekgewasse verbeter jy jou grond se gehalte en kapasiteit. Met presisietegnologie benut jy jou grond se bestaande potensiaal doeltreffend.”
Hy verduidelik dat in plaas daarvan om met meer hektare na die kante uit te brei, dekgewasse dit moontlik maak om meer tonne op ’n kleiner gedeelte af te haal.
“Dis ’n belangrike oorweging in Suid-Afrika. Ons moet poog om doeltreffender te boer deur die kostes per hektaar te beperk, opbrengste per hektaar te verhoog en goeie bemarking toe te pas.”
BONSMARAS IS GEMAAK VIR DIÉ WÊRELD
Wernich kan nie uitgepraat raak oor die veelsydigheid van die Bonsmara-beesras nie. “Hulle het goeie vleisproduksie en is ’n baie geharde dier vir ons wêreld. Wanneer jy ’n meer geharde dier teel, is hulle geneig om gewig in te boet, en hier toon Bonsmaras die beste balans.
“Hulle het goeie bosluisbeheer en kan uiterste weerstoestande hanteer. Om met hierdie ras te boer, hou baie voordele in. Hulle is die Pinotage van beesboerdery in Suid-Afrika.”
Wernich fokus op kalf- en bemarkingspersentasie. “As jy ’n kalfpersentasie van 90% het, moet jy ’n bemarkingspersentasie van 100% op hulle behaal. Jy wil soveel as moontlik fokus op kwantiteit, maar wil ook soveel as moontlik van hulle by die veilingskrale kry.
“Jy maak geld op ’n swaar kalf,” gesels hy verder. Hy glo genetika is hier die belangrikste oorweging.

DIE “KOÖPERASIE” IS EINTLIK DIE KLIËNT
Wernich lewer alreeds die afgelope drie jaar graan aan NWK. “Ek kan net goeie dinge van dié maatskappy se diens sê. Hulle het uit hulle pad gegaan om vir ons goeie basisse te beding en bykomende dienste, soos die verskaffing van graandamme, te lewer. Verder is die bemarkingspan knap en doeltreffend. Hulle skakel jou, gesels oor die markte en gee raad. Hulle doen moeite om jou te lei met bemarkingsbesluite.”
Hy meen talle Suid-Afrikaanse produsente het ’n kliënt-mentaliteit. “Dis nie reg nie. As jy aan die koöperasie lewer, is hulle jou kliënt. Dis ’n kopskuif wat ons moet maak. Ons probeer ’n goeie diens aan die kopers van ons graan en speenkalwers verskaf.”
Toekomsgerig
Oor die kort termyn poog Wernich om presisie in sy graanverbouing en herlewingslandbou meer realisties en prakties op skaal te kry.
Oor die medium termyn wil hy sy hektare mielies vermeerder, asook sy aantal beeste. “Ons vergroot eers ons kudde voordat ons die hektare vermeerder. Ons het die afgelope paar jaar van ons diere teruggehou. Dit wil voorkom of daar in die toekoms internasionaal ’n voedseltekort gaan wees en pryse is tans goed. Dit maak dus sin om die hektare en kuddes uit te brei.”
Wernich wil ook ’n derde vertakking in die boerdery vestig, wat soos ’n handskoen by die ander twee sal pas. “Ek is besig met navorsing hieroor en oorweeg baie opsies. Ek kyk onder andere na bergingsfasiliteite. Hierna kan jy verwerking en die gebruik van jou eie graan ondersoek.”
Gun jouself ’n blaaskans
Buiten vir goeie finansiële en produksiebestuur, raai hy ander jong produsente aan om “meer gereeld die byl te gaan slyp”. Hy verduidelik: “Boere sluit nooit af nie. Bedags werk jy heeldag en snags is jy met administrasie besig. Jy dink gedurig aan wat jy moet doen. Dit is anders as om vir ’n baas en ’n salaris te werk.”
Hy raai produsente aan om kort en gereelde breuke te neem. “Ek self vat ’n week af ná groot gebeurtenisse – ná planttyd, wéér ná oestyd en ’n derde keer wanneer dit gepas is. Nie net is jy weer skerp, flink en lus vir boer ná ’n blaaskans nie, maar jy kry ’n klomp idees oor hoe om jou boerdery na die volgende vlak te neem. As jy doeltreffender wil wees, móét jy gereeld ’n blaaskans neem en nadink oor wat jy gedoen het en wil doen.”
Hy streef na uitnemendheid in alles wat hy doen. “Dit is wat ek waardeer van Agri NW se Jongboer van die Jaar-kompetisie. Hulle het nie na die grootste produsent gekyk nie, maar na hoe goed jy doen wat jy doen. Wanneer jy iets uitstekend doen, gáán jy uiteindelik met meer sit.”