
Die stand van Lichtenburg se paaie is weer benard, veral ná onlangse goeie reën wat slaggate net dieper laat wegkalwe het. NWK het sedert 2021 reeds sowat R109 000 spandeer aan teer waarmee slaggate in die dorp gevul is en daag ander ondernemings in die dorp uit om ook by te dra.
“Dit is belangrik dat paaie in ‘n goeie, rybare toestand is – nie net vir die gerief van inwoners nie – maar ook om die vinnige en veilige vervoer van goedere te verseker. ‘n Goeie padnetwerk is onontbeerlik vir ‘n gesonde ekonomie,” het Theo Rabe, groephoof- uitvoerende beampte van NWK, gesê.
NWK herstel die gate in samewerking met Afriforum en die provinsiale departement van openbare werke en paaie. “Ons is reeds goed geolie wat die proses betref, het Dries van Tonder, groepbestuurder van Finansies by NWK, gesê.
Bydraes welkom
Ondernemings of selfs inwoners vir wie dit moontlik is, kan geldelike bydraes lewer of sakkies teer skenk. “Dit hoef nie ‘n groot bedrag te wees om ‘n verskil te maak nie. Elke bietjie help,” het Dries bygevoeg.
“Ons benodig brandstof vir byvoorbeeld die roller en vervoer van die personeel en ander toerusting. Bydraes in hierdie verband is baie welkom.”
Plaaslike taxiverenigings het ook hulle samewerking beloof en aangebied dat van hulle lede opgelei word in die herstel van slaggate, om die proses te bespoedig.
Daar is reeds versoeke ontvang om die diep slaggate in Dr Nelson Mandela-rylaan onderweg na Lichtenburg se inkopiesentrum en op die hoeke van Agste Laan en Eerste Straat, te vul. Inwoners word versoek om NWK van ander strate wat dringend ingryping verg, in kennis te stel.
Vir meer inligting oor hoe om ‘n skenking te maak of om strate aan te meld, skakel asseblief vir Dries by 018 633 1078.
- ‘n Span werkers van Afriforum sal vandag (1 November 2022) die slaggate in Kerkstraat vul. Die pad sal vanaf 08:00 tot 16:00 gesluit wees. NWK het die teer en bitumen (‘n laag wat vóór die teer aangewend word) geskenk. Gideon du Preez het die teer vervoer.