Deel 1
Deur die jare is grondbewerking vir suksesvolle gewasproduksie gebruik. Konvensionele bewerking is met groot welslae vir die produksie van graangewasse aangewend. Die vraag is: Kraai konvensionele bewerkingsmetodes steeds koning?
Dit is alombekend dat die wêreldbevolking teen ’n vinnige tempo groei. Die landbousektor moet daarom meer voedsel op die beskikbare grond produseer. Boerdery het toenemend al meer intensief geword en grondbewerking het weens verskeie redes ’n belangrike fokuspunt geword. In hierdie artikel word hoofsaaklik op konvensionele bewerking gefokus.
Bewerking moet op die verbetering van die grondstruktuur gerig wees en ook die gewenste grondeienskappe beklemtoon. Met bewerking word die grond voorberei om ’n geskikte saadbed en groei-omgewing vir die beoogde gewasse te skep. Vir suksesvolle gewasproduksie moet die plant se wortels ook genoegsaam in die grond kan penetreer om die plant te anker en die nodige voedingstowwe en water op te neem.
Tipes bewerking
Die tipes bewerking wat algemeen in die landbousektor gebruik word om gewasse te verbou, kan in twee breë groepe ingedeel word: Konvensionele en bewaringsbewerking.
Konvensionele bewerking bestaan hoofsaaklik uit primêre en sekondêre bewerking.
- Primêre bewerking sluit gewoonlik skeurploegbewerking, skaarploegbewerking en dis in. Die doel met primêre bewerkings is om die grond om te keer, verdigtingslae op te hef en chemiese regstellings in die grond in te werk.
- Sekondêre bewerking word daarna gebruik ter voorbereiding van die saadbed om onkruid te beheer, voedingstowwe in te werk en fyner bogrond te kry.
Bewaringsbewerking sluit praktyke in soos minimum- of geenbewerking.
- Minimumbewerking is wanneer die aantal bewerkings wat gedurende die seisoen uitgevoer word, verminder word om sodoende die grond minimaal te versteur. Net die noodsaaklike bewerkings word gedoen.
- Met geenbewerking word geen voorbereiding van die grond self gedoen nie. Al wanneer die grond versteur word, is wanneer die planter ’n nou snit in die grond maak en die saad en kunsmis daarin plaas, waarna dit weer toegedruk word.
Bewaringsbewerking versteur dus nie die grond so baie soos konvensionele bewerking nie. Onkruidbeheer word in hierdie geval ook net chemies gedoen.
Die algemeenste vraag wat gevra word, is watter tipe grondbewerking gebruik moet word, indien enige? Hierdie vraag is nie eenvoudig om te beantwoord nie, omrede daar nie ’n nommerpas oplossing is wat vir almal werk nie.


KONVENSIONELE BEWERKING
Met konvensionele bewerking word grondvoorbereiding as die fondasie vir suksesvolle gewasproduksie beskou. Die tipe bewerking wat toegepas gaan word, word grootliks deur die gebied en die grondeienskappe beïnvloed.
Om te bepaal watter bewerkingsmetode die geskikste vir die bepaalde omstandighede is, moet die volgende faktore in ag geneem word:
- Regstellings wat nodig is, soos kalk wat ingewerk moet word om die grond se pH reg te stel.
- Kompaksie in die grond: Wat is die tekstuur van die grond, kompakteer dit maklik? Is die grond alreeds met verdigtingslae gekompakteer of het die grond goeie struktuur?
- Grondvog: In droër gebiede sal die bewerking van grond verkieslik minder gereeld moet gebeur omdat dit vogverlies bevorder. ’n Beter struktuur bevorder ook vogretensie en bewerking van die grond verbeter waterinfiltrasie.
- Onkruide: Die tipe en hoeveelheid onkruide kan die bestuur en bewerkingspraktyke beïnvloed. Bewerking kan nodig wees om onkruide te beheer.
- Gebruik van dekgewasse en gewasrotasie: Dekgewasse moet gewoonlik ingewerk word om voedingstowwe in die grond terug te sit. Gewasrotasie dra by tot beter onkruid-, pes- en siektebeheer, en kan sodoende fisiese bewerking en chemiese bespuitings verminder.
- Implemente en toerusting: Konvensionele bewerkingsimplemente en toerusting is gewoonlik vrylik beskikbaar op plase en baie produsente is redelik vertroud daarmee. In teenstelling hiermee mag die stap om oor te skakel na ’n ander bewerkingsmetode tot die aankoop van duur nuwe toerusting lei.
Om die finale besluit te neem met betrekking tot die tipe bewerkingstelsel wat gebruik gaan word, moet die voor- en nadele van elkeen opgeweeg word. In Tabel 1 kan die voor- en nadele van ’n konvensionele bewerkingstelsel gesien word.
UITWERKING OP GROND
Konvensionele bewerking se uitwerking op grond kan hoofsaaklik in twee kategorieë verdeel word (Al-Kaisi et al., 2004):
- Aanhoudende bewerking oor ’n paar seisoene: Afbreking van die grondstruktuur, ’n verlies aan mikrobiese lewe en aktiwiteit, asook ’n verlies aan grondporieë, wat waterinfiltrasie negatief beïnvloed. Die agteruitgaan van grondfisiese eienskappe verhoog die risiko van erosie en bogrondverlies, en dit sal tot ’n verlaging in die grond se produksiepotensiaal lei.
- Aanhoudende bewerking oor die lang termyn: Dit kan potensieel tot ’n totale verlies van die grondstruktuur lei en ’n verdigtingsblad op die diepte van gereelde bewerking sal moontlik ook begin vorm. Die verlies aan die fisiese eienskappe van die grond verhoog die gevaar van erosie en betekenisvolle bogrondverliese sal bydra tot omgewingsbesoedeling deur eutrofikasie. Hierdie bogrondverliese kan potensieel tot onomkeerbare grondverliese lei.
Met die meganisering van landbou- en gewasproduksie is grondbewerking ingespan as ’n manier om ’n reeks produksieprobleme – waaronder onkruidbeheer, gronddeurlugting, vermindering van gewassiektes, opheffing van grondverdigting en die regstelling van chemiese balanse aan te spreek. Konvensionele bestuurstegnieke was dus die antwoord op die meeste vrae.
Gevolgtrekking
Uit ’n landboukundige oogpunt is daar baie voordele aan konvensionele bewerkings gekoppel. Die opheffing van grondverdigting en suksesvolle onkruidbeheer is enkele voordele wat hierdie tipe bewerking kan bied.
Wanneer daar egter na konvensionele bewerkingsmetodes uit ’n volhoubare oogpunt gekyk word, blyk dit dat hierdie praktyk oor die lang termyn meer nadelige gevolge kan hê. Erosie is veral ’n groot probleem en dit word bevorder deur hierdie tipe herhaaldelike bewerking. Intensiewe bestuur is ook nodig om die nadelige uitwerking van konvensionele bewerkingsmetodes behoorlik te bestuur.
Konvensionele bewerking is ’n metode van basiese beheer. Dis ’n bekende tegniek waarna produsente dikwels terugkeer wanneer hulle swaarkry en dinge moeilik raak. Dit lewer oor die kort termyn soms goeie resultate, maar die nadelige gevolge is oor die lang termyn ongewens.
Die nadele van konvensionele bewerkingspraktyke oorskadu dus die voordele daarvan. Die inkorporering van alternatiewe bewerkingsmetodes bied die geleentheid om meer volhoubaar en slim te produseer. Konvensionele bewerkingspraktyke hoef nie heeltemal uitgefaseer te word nie, maar moet eerder versigtig toegepas word in gevalle waar dit soms benodig word.
Bronnelys
- Al-Kaisi M, Hanna M and Tidman M. 2004. Frequent tillage and its impact on soil quality. IC-492. 13, 78-79. https://crops.extension.iastate.edu/encyclopedia/frequent-tillage-and-its-impact-soil-quality#:~:text=The%20effect%20of%20tillage%20on,the%20force%20of%20pounding%20raindrops
- Farmers review Africa, 2022. 10 things farmers should consider about tillage methods. https://farmersreviewafrica.com/10-things-farmers-should-consider-about-tillage methods/#:~:text=Many%20farmers%20like%20tilling%20because,mulch%20or%20growing%20cover%20crops [13 January 2023]
- Graan SA, 2018. Conventional vs minimum tillage and its effect on soil. https://www.grainsa.co.za/conventional-vs-minimum-tillage-and-its-effect-on-soil
[9 January 2023] - Louw EH, 2010. Keuse van ’n grondbewerkingstelsel. Noordwes Nuus, 2010. NWK Bpk, Lichtenburg
- Louw EH, 2018. Is grondbewerking werklik volhoubaar? NWK Arena, Jaargang 50,
September/Oktober 2018. NWK Bpk., Lichtenburg - Stone C, 2018. To till or not to till? Understanding the pros and cons of tillage practices on your farm. https://radium.co.za/till-not-till-understanding-pros-cons-tillage-practices-farm/ [9 January 2023]