• Oor Ons/About Us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
Tue, Jun 17, 2025
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
No Result
View All Result
Home Tegniek

Diversifiseer met die duurste speserye

Roneldi van der Westhuizen, NWK Landboubestuursdienste

22 Mar 2023
in Tegniek
Diversifiseer met die duurste speserye

Foto: Saffricon

Share on Facebook

Saffraankrokus, beter bekend as saffraan (Crocus sativus l.), is die duurste spesery ter wêreld. Dit is ’n vinniggroeiende bedryf waarvan kenners reken Suid-Afrika binnekort een van die grootste rolspelers gaan word.

Saffraan is deel van die Iridaceae-familie en is ’n semi-meerjarige gewas met ’n lae waterbehoefte, wat oor ’n wye reeks grond- en klimaatsones geplant kan word. Die kenmerkende pers blom is nogal iets vir die oog, maar die werklike waarde van die gewas lê in die lang, rooi stuifmeeldrade.

Verbouing

Ongeveer 150 blomme word benodig om 1 g saffraan te produseer. Altesaam 60 knolle per vierkante meter kan ’n opbrengs van 6 kg tot 10 kg saffraan per hektaar produseer, wat ’n prys van tot R200 000 per kilogram kan haal (Laeveld Agrochem, n.d.).

Saffraan se groeiseisoen strek vanaf Maart tot Oktober. Dus kan die knolle vanaf einde Februarie geplant word. Daar kan 40 tot 80 knolle per vierkante meter geplant word en die knolle moet ongeveer 10 cm tot 15 cm diep geplant word, met ’n ryspasiëring van 15 cm en 5 cm tot 10 cm in die ry (Figuur 1).

Die plant se groeisiklus kan hoofsaaklik in vyf fases verdeel word:

  1. Spruitvorming
  2. Blomvorming
  3. Blaarvorming
  4. Dogterknolvorming
  5. Dormansie

Saffraan is een van die min gewasse waar die reproduktiewe stadium voor die vegetatiewe stadium plaasvind. Die aanvang en duur van elke stadium is van die klimaatstoestande afhanklik, maar as ’n reël strek die groeiseisoen – vanaf opkoms tot met dormansie – oor ses tot agt maande.

Die plant spruit en blom ongeveer 30 tot 40 dae ná plant, soos wat die temperature tydens herfs begin afneem. Hier­die reproduktiewe stadium kan tot 25 dae lank duur. Een knol kan tot drie keer in een seisoen blom en tydens hierdie stadium is die knol die enigste bron van voedingstowwe vir die plant.

Sodra die meeldrade ten volle ontwikkel is, moet die blom geoes word (verkieslik vroeg in die oggend voordat die blom oopmaak), waarna die meeldrade versigtig verwyder en gedroog word (Ferreira, 2013).

Die dogterknolle begin direk ná oes vorm. Dit is belangrik dat die grond tydens die vorming van die dogterknolle nat gehou word. Tydens hierdie stadium verander die knol vanaf ’n bron na ’n sink en translokeer die blare koolhidrate af na die knol toe. Sodra die blare begin geel word, is die ontwikkeling van die sekondêre knolle voltooi en begin die knolle bruin word en droog dit uit (dormansie).

Die dogterknolle kan drie jaar lank in die grond gelos word – mits die grond goed gedreineer is – waarna die knolle uitgehaal en gesorteer word voor dit weer oorgeplant word. Hierdie uithaal- en oorplantproses kan ook vroeër plaasvind indien die aantal knolle in die grond te veel word (AgriTechnovation, 2022). Figuur 2 illustreer die groeistadiums van saffraan.

Klimaatsvereistes

Suid-Afrika se klimaat is ideaal vir die verbouing van saffraan. Dit benodig 250 mm tot 300 mm water per seisoen, wat baie minder is as die meeste tradisionele gewasse wat in Suid-Afrika aangeplant word (AgriTechnovation, 2022). Tradisioneel word saffraan in die winterreënvalgebiede aangeplant, maar dit word ook met groot sukses in die somerreënvalgebiede geplant. ’n Drupbesproeiingstelsel is ideaal vir die verbouing van saffraan in die somerreënvalgebiede, mits dit baie fyn bestuur word.

Indien saffraan in ’n somerreënvalgebied verbou word, kan die knolle tydens die droër siklusse wanneer dit in die dormante fase is in die grond gelos word, mits die grond goed gedreineer is. As daar hoë reënval verwag word of as die grond nie goed gedreineer is nie, word aanbeveel dat die knolle ná die groei­seisoen uit die grond gehaal en tot die volgende groeiseisoen gestoor word. Die optimale temperatuur waarby die knolle gestoor moet word, is 25oC.

Saffraan bied goeie weerstand teen ryp en kan temperature tussen -15oC en 45oC hanteer (Saffricon, 2022). Goeie blom­me vorm by aandtemperature van 6oC tot 8oC en dag­temperature van 15oC tot 20oC (AgriTechnovation, 2022).

Grondvereistes

Saffraan groei goed in sand- of sand-leemgronde. Indien die knolle in swaarder gronde geplant word, moet die plantdigtheid afneem. Saffraan verkies goed gedreineerde grond om in te groei. Om dié rede word aanbeveel dat die knolle in ’n saadbed wat 15 cm tot 35 cm gelig is, geplant word, om dreinering verder te verbeter. ’n Neutrale tot effense alkaliese pH (5,8 tot 7,8) is gewens vir die groei van saffraan (Kothari et al., 2021).

Bemesting

Daar word aanbeveel dat die aangeplante area met ongeveer 3 cm kompos bedek word. Verder kan 20 kg N, 80 kg P en 30 kg K per hektaar twee keer per groeiseisoen toegedien word (Agri Farming, 2018).

Die eerste toediening van kunsmis moet plaasvind wanneer die knolle geplant word. Dit is belangrik om die knolvoeding goed met die grond te meng sodat die saffraanknolle nie as gevolg van die kunsmis brand nie. Hierdie eerste toediening is belangrik vir die reproduktiewe fase, aangesien die wortels tydens hierdie stadium baie aktief is.

Die tweede toediening moet plaasvind aan die einde van die blomsiklus, verkieslik as ’n blaarvoeding. Dit is tydens hierdie fase wat die blare koolhidrate produseer en na die wortels toe translokeer. Hierdie toediening is belangrik vir die vorming van gesonde dogterknolle (Master Gardeners Association of BC, 2011).

Naas stikstof word kalium as die belangrikste element in spe­se­ryverbouing beskou. Voldoende kalium sal ’n noemenswaardige toename in die blaaroppervlak en -lengte veroorsaak, wat weer ’n positiewe korrelasie met die stempel-opbrengs het. Kalium speel ook ’n belangrike rol in die translokasie van voedingstowwe na die dogterknolle. Dit is egter van kardinale belang dat die saffraan geen kaliumtekorte ervaar tydens die groeiseisoen nie. Dus word aanbeveel dat ’n kalium-blaarvoeding voor blom en vanaf Julie tot September toegedien word.

Boor en molibdeen speel ’n groot rol in die blom- en knolgehalte, asook in die kaliumtranslokasie deur die plant. Oorweging moet dus daaraan geskenk word om hierdie twee elemente ook by die blaarvoedingspakkie te voeg.

Saffraan word grootliks in die kosbedryf as ’n geurmiddel gebruik, maar dit het ook groot
waarde in die kosmetiese, mediese en tekstielbedryf.
Foto: Saffricon

Onkruid- en plaagbeheer

Onkruiddruk tydens enige groeistadium van saffraan sal lei tot ’n afname in produksie, asook die gehalte van die saffraan wat geoes word. Saffraanlande moet verkieslik met die hand skoon gehou word, omdat saffraan gevoelig is vir chemiese onkruiddoders.

’n Deklaag van hooi of skaafsels kan aangewend word om onkrui­de te beheer. ’n Deklaag sal ook voordelig wees vir vogbewaring.

Knaagdiere en insekte kan tot ’n merkwaardige verlies in die saffraanopbrengs lei. Die saffraanlande moet gereeld gemonitor word vir enige plae en dan met ’n geregistreerde plaagbeheermiddel behandel word.

Samevatting

Saffraan is ’n arbeidsintensiewe en dalk nog ’n volksvreemde bedryf, maar dit kan ’n baie winsgewende bedryf wees as dit reg bestuur word. Dit is die ideale gewas om ’n boerdery verder te diversifiseer en daar hoef nie spesiale planters of stropertafels aangekoop te word om dit te verbou nie.

Bronnelys

  • Agri Farming, 2018. Saffron farming information guide for beginners.
    [Online] https://www.agrifarming.in/saffron-farming#:~:text=
    Fertilizers%20in%20Saffron%20Farming%3A%2D,and%20again%20immediately%20 after%20flowering. [20 12 2022]
  • AgriTechnovation, 2022. Vinkel en koljander, staan opsy vir saffraan. [Online] https://agritechnovation.co.za/vinkel-en-koljander-staan-opsy-vir-saffraan/ [09 11 2022]
  • Farmer Gracy, n.d. Lifecycle and reproduction of a Crocus sativus bulb – illustration , s.l.: Farmer Gracy
  • Ferreira J, 2013. Farmer’s Weekly. [Online] https://www.farmersweekly.co.za/crops/field-crops/farming-saffron-in-southafrica/#:~:text=Saffron%20flowers%20for%20three%20weeks,the%20sun%20wilts%20the%20plants [09 11 2022]
  • Kothari D et al., 2021. Agro-climatic suitability evaluation for saffron production in areas of Western Himalaya. [Online] https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC8005729/#:~:text=This%20spice%20crop%20grows %20well,7.8%20and%20electrical%20conductivity%20(E.C.) [09 11 2022]
  • Laeveld Agrochem, n.d. Saffron – SA poised to become big player in saffron market. [Online] https://www.laeveld.co.za/saffron-article/
    [20 12 2022]
  • Master Gardeners Association of BC, 2011. How to feed your bulbs. [Online] https://mgabc.org/content/how-feed-your-bulbs [20 12 2022]
  • Saffricon, 2022. Saffricon South African Saffron. [Online] https://saffricon.com/saffron-farming-information/ [09 11 2022]
  • Somervell J, 2022. thisNZlife. [Online] https://thisnzlife.co.nz/10-tips-growing-saffron/ [09 11 2022]
Tags: MRT/APR 2023
Previous Post

Bewaringsnuus uit ons kontrei

Next Post

Boer volhoubaar met die regte bewerkingsmetode


Recommended

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

2 Jun 2025
Landbou vandag

Landbou vandag

13 May 2025
Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

13 May 2025

Oor Ons/About us

Arena is ‘n landbouklantetydskrif wat ses keer per jaar in gedrukte formaat deur NWK uitgegee word. Dié hardekopie-gesprek met klante – wat onder meer raakvat- tegniese inhoud bevat – word aanlyn verder gevoer deur Arena (die webtuiste) wat sorg vir geloofwaardige nuus oor landbou in Noordwes en die sektor se mense.

Lees meer/Read more

Tydskrif/Magazine

Kategorieë/Categories

  • Buitelewe
  • Coach Owl
  • Dinamiese vennoot
  • Nuus
  • NWK Impact Reports
  • Promosie
  • Tegniek

Nuutste/Latest

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

NWK skaf eie padskraper en -roller aan om grondpaaie op te knap

2 Jun 2025
Landbou vandag

Landbou vandag

13 May 2025
Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

Die regte gronddiepte lei tot ’n beter opbrengs

13 May 2025

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

No Result
View All Result
  • Oor ons/About us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou vennoot/Your partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

Welcome Back!

Login to your account below

Forgotten Password?

Create New Account!

Fill the forms below to register

All fields are required. Log In

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Log In