Agri NW se Jongboer van 2023 het vanjaar dié titel vir ‘n twééde keer ingepalm. Hy is die enigste finalis sedert die kompetisie in Noordwes se ontstaan in 2003 wat dié prestasie kon vermag. Gideon van Zyl (39) van Kroon Vee Brahmane naby Reivilo is in 2012 óók as Agri NW se Jongboer van die Jaar aangewys.
Hoewel dit uiteraard vir Gideon lekker was om te wen, beskryf hy dit as ‘n emosionele kompetisie omdat sy inskrywings vir albei kompetisies aansienlik verskil en dit die groei en verandering in sy pligte, asook vaardighede oor die afgelope elf jaar, weerspieël.
Sy leuse is om teen homself te kompeteer en veral om sy bestuursvaardighede deurlopend uit te brei tot voordeel van sy onderneming en omgewing.
“Intellektuele kapitaal” is ‘n begrip wat gereeld in NWK Arena se gesprek met Gideon opgeduik het en jy besef vinnig dat hy persoonlike groei en opleiding hoog ag.
Hy verduidelik dat ‘n plaas nie net behoort te steun op sy monetêre waarde nie, maar ook op die intellektuele kapitaalwaarde van diegene binne die boerdery.
Sy pa bring hom vinnig terug aarde toe
Gideon het ‘n graad in landbou-ekonomie verwerf en twee aanbiedings van banke gekry wat hy van die hand gewys het om deel te kon raak van die Kroon Vee droom. Groot was sy verbasing met sy aankoms op die plaas in 2007 toe sy pa hom ‘n draadtang in die hand stop met die opdrag om saam met die voorman te ry en beeste te gaan tel.
Hy vertel dat hy op ‘n subtiele manier probeer sê het dat hy “beter is as dit”, totdat sy pa hom gevra het hoeveel mense nodig is om 1 km draad te span – met sewe drade waarvan die pale 30 m uitmekaar gespasieer is, met die sparretjies 3 m uitmekaar en trekpale 500 m uitmekaar. Toe Gideon nie dié vraag kon antwoord nie, het sy pa aan hom verduidelik dat hy nie iemand ‘n opdrag kan gee om draad te span, as hy dit nie self kan doen nie.
“My pa het gesê dat ek my denke sou moes oopmaak, dat dit wat ek op universiteit geleer het, nie noodwendig op die plaas sou werk nie.” Gideon het besef dat hy homself van onder sou moes opwerk. Hy is vandag dankbaar vir die respek wat dit by werkers ingeboesem het. Dit het ook gelei tot meer vertroue en beter spanwerk.
Oorweeg nuwe tegnologie oordeelkundig
Gideon het op sy beurt van dag een af nuwe denke en dinamika tot die boerdery gevoeg. Hy is lief vir data en met sy toetrede tot die plaas, was daar meer tyd vir navorsing en nuwe uitbreidings. Dit het meegebring dat spilpunte opgerig is op marginale grond om die voerkoste te verlaag.
Sáám het hulle beplan aan hul eie boeresilo met ‘n meule en dit self opgerig. Gideon het ook die boerdery se bestuurstelsels verfyn en datastelle vergelyk.

Hy het hard gefokus op kudde-eienskappe en het die kudde se temperament, vrugbaarheid en die tipe bees verbeter tot dit wat kommersiële produsente soek. Tog, verduidelik Gideon, kan tegnologie nie altyd iets soos ‘n “goeie oog” vervang nie. Hulle het byvoorbeeld elektroniese plaatjies vir diere oorweeg wat net geskandeer kan word elke keer wanneer hulle die kraal betree, maar het besef dat dit hulle fokus van die dier kon verskuif. “Om tyd tussen die diere te spandeer en hulle sélf te tel, stel jou in staat om op ander goed ook te let en dit is alles nuwe bestuursinligting.
“Dieselfde met spilpunte. Jy kan dit met ‘n selfoon bestuur, maar dan gaan jy nie elke keer as die spilpunt aankom, seker maak die spuitpunte is oop nie. Dan kom jy moontlik eers later daar en merk ‘n droë ring van waar ‘n spuit verstop het. Die skade is dan reeds gedoen.” Dáárom oorweeg Gideon altyd eers of die voordele van nuwe tegnologie, die kapitaal werd is.
Die LITS-stelsel kán werk, maar…
Gideon kan verslag doen van elke bees op die plaas se geboortedatum en -gewig, hulle ouers, gewigstoenames oor intervalle van drie maande, melkwaardes, inentings en nog baie meer.
Hy is van mening dat stoetboere reeds goeie naspeurbaarheid het en dat die beoogde Livestock Identification and Traceability System (LITS-stelsel) “ongelooflik kan wees en selfs diefstal kan verminder”, mits dit reg bestuur word, eerlik en deursigtig is. Dit is veral belangrik dat kommunale boere hulle hiertoe verbind. “Veral as die boer moontlik ‘n premie kan kry, maak dit sin. Dit kan ook toegang tot ander markte ontsluit.”
Kroon Vee self is hard getref deur die huidige verbod op uitvoere weens bek-en-klouseer. Tussen 30% en 40% van hulle produksie is vóór die uitbreking uitgevoer na buurlande. “Ons het net ná die droogte besluit om die kudde te vergroot, strenger te selekteer en só ons kwaliteit te verhoog. Die feit dat die markte toe is, is ‘n geweldige stok in die speke.
Van Kroon Vee se buitelandse klante het in dollars vir hulle gesogte genetika betaal en Gideon vertel dat “die enjin net soveel vinniger kon draai met toegang tot daardie mark.” Weens bek-en-klouseer, moes Kroon Vee hulle bemarking in Afrika vir eers staak. Dit kan nog jare duur voor die mark weer oop sal maak vir uitvoere vanuit Suid-Afrika.
Dit is egter nie tans ‘n opsie vir Gideon om diere in byvoorbeeld Botswana aan te koop en ‘n stoet daar te vestig nie, omdat dit etlike jare sal neem het om hul genetika op die peil te kry waar dié van Kroon Vee vandag is.
Toekennings prikkel sy lus om te verbeter
Kroon Vee kon al in 2007 met sy eerste toekenning as Brahman-stoetteler van die jaar spog. Gideon het toe reeds die waarde van kompetisies besef en dit het hom gedryf om sy boerdery verder te verbeter. Die volgende jaar is Kroon Vee as nasionale stoetteler van die jaar, wat alle rasse insluit, gekroon.
Kroon Vee is in 2014 as die nasionale beesboer van die jaar aangewys en ook hier het Gideon ‘n reuse-bydrae gelewer – ‘n toekenning wat daartoe gelei het dat hulle as megaboere aangewys is. Gideon meen dat mense so vasgevang kan raak in hulle dagtake dat hulle nalaat om tyd te maak vir introspeksie en hulself af te vra of hulle werklik die beste doen met wat hulle het.

Hy voeg by dat die jongboer-kompetisie ‘n wonderlike platform bied vir jongboere om hulself en hul vaardighede te meet. “Al vul jy bloot die vorm in en vra ‘n vriend of mentor om jou te beoordeel… Jou hele voorbereiding bring reeds verbetering mee.”
Toe hy in 2012 op 28-jarige ouderdom die eerste keer vir Agri NW se Jongboerkompetisie ingeskryf het, het hy ‘n SWOT-analise van sy sterk- en swakpunte gedoen en toe reeds gate in sy mondering geïdentifiseer wat hy wou regstel.
“Vir my dien die kompetisie as ‘n goeie maatstaf vir groei,” verduidelik Gideon. Waar operasionele bestuur ten tye van sy inskrywing in 2012 tot 80% van sy werksverdeling uitgemaak het, was dit hierdie jaar slegs sowat 20%, met ‘n groter klem op finansiële en strategiese bestuur.
Toe hy in 2012 nasionaal moes meeding, het hy besef hy is “in diep waters” toe hy teen produsente van 35 jaar en ouer moes meeding. “Ek het gevoel ek is te jonk en dat ek nog baie moes ontwikkel om ‘n nasionale verteenwoordiger van landbou te kon wees.”
Hy het toe reeds besluit dat hy later weer sou inskryf om sy groei te peil. Toe hy vanjaar hoor dat Mick Carroll en Hendrik Reyneke sy teenstaanders in die provinsiale kompetisie sou wees, het hy geweet hy kom teen sterk mededingers te staan. “Ek het besef die kompetisie sou bitter sterk wees. Ek het ‘n bekommernis gehad dat, sou ek nié wen nie, wat dit aan my selfvertroue sou doen. Het ek dan agteruit geboer?”
Gideon het hierdie jaar weer baie geleer met sy inskrywing vir die kompetisie en is dankbaar vir hoe hy gegroei het. Tog het hy weer tekortkominge geïdentifiseer waaraan hy wil aandag gee. “In 2012 het ek gesê dat ek elke jaar ‘n kursus wil voltooi om myself te ontwikkel en steeds is ek nie waar ek moet wees nie.”
Hy sê dat suksesvolle produsente nie skaam is om hul raad en suksesresepte te deel nie, want elke plaas is anders. “Ek kan nie presies doen wat jy doen en ‘n sukses verwag nie.” Daarom sit hy tyd opsy om leierboere te besoek en meer uit te vind oor hulle strategieë en praktyke.
Wanneer Gideon en sy gesin op vakansie is, huiwer hy nie om sommer by ‘n piesangplaas in te ry om te sien hoe dinge daar gedoen word nie want hy glo hy kan by almal iets leer.

Teen die een kantoormuur, pryk borde met gesegdes wat ‘n indruk op Gideon gemaak het. Een lui: “Pet a cat. Be kind”. Dit herinner Gideon om soms te stop waarmee hy besig is en waardering te hê vir wat hy doen en het. “As jy té doelgerig lewe kan jy vergeet om waardering te hê en die lewe te geniet. Moenie hoogmoedig raak of iets net as ‘n hindernis beskou en dit uit die pad wens nie.” ‘n Ander een lees: “Pursue what is meaningful”.
Jongboere: ‘n Familieboerdery is beter geposisioneer
Met die fel aanslae op landbou die afgelope ruk, soos voorgestelde raskwotas vir arbeid en waterverbruik, meen Gideon dat ‘n familieboerdery beter geposisioneer is om te oorleef as bloot net nóg ‘n eenmansaak.
Sou arbeid later ‘n kwessie raak, is daar dan familielede wat saam die werk kan verrig. “Ons is ‘n nasie wat uit die stof herrys. Die vraag is: Gaan jy voortbou op jou huis wat jy reeds het, of gaan die geskiedenis homself herhaal dat jy in ‘n ossewa klim en ‘n groener weiveld gaan soek waar jy weer van voor begin?”
Hy benadruk die feit dat hy, sy broer en selfs sy pa nie Kroon Vee besit nie, maar bloot vir dit werk. Dit behoort aan hulle nageslagte. Spanwerk is die sleutel tot sukses en elkeen besef dat hy aan ‘n nalatenskap bou.
Oordrewe rasteikens sal wel sake bemoeilik vir nuwe toetreders tot die mark, voorspel Gideon. Geleenthede vir jongelinge om hulle droom om te boer, te verwesenlik, is nie maklik nie en hy is daarom trots om met NWK – wat die Jongboerprojek het – sake te doen.
Hy maan pa en seuns om na mekaar te luister en openlik oor sake te praat. “Die seun moet besef hy het geen reg tot iets nie, terwyl die pa moet besef dat daar nie ‘n toekoms sonder sy seun is nie.”
Gideon se toekomsvisie is om stelsels in plek te kry om die oorgang van die boerdery, waar broers tans saam boer, na een waar niggies en nefies in harmonie kan saam boer, te vergemaklik. “Ons wil graag die boerdery uitbrei en vergroot en vir almal in die familie ‘n toekoms skep.” Hy is oopkop oor die feit dat sy vier dogters en/of hulle lewensmaats dalk nie eendag in boerdery mag belangstel nie, maar sal hulle nogtans by die boerdery wil betrek.
“‘n Boerdery steun op talle ander sektore, soos regte en menslike hulpbronne. Die strukture moet só wees dat dit daardie behoefte kan vervul. Ons wil nie ‘n persoon met ‘n ander belangstelling se intellektuele kapitaal verloor nie.” Hy mik vir groei van die boerdery van 5% tot 10% per jaar. “Dán weet ek almal sit meer in as wat hulle uithaal en het jy ‘n sterk fondasie vir toekomstige geslagte.”
Gideon het in 2017 Agri NW se Jongboerkonferensie by NWK se opleidingsentrum bygewoon, waar die woorde van Deon Bergh, voormalige voorsitter van die Jongboerkomitee, by hom vasgesteek het: “Moenie daarna streef om ‘n megaboer te wees nie, streef daarna om ‘n megamens te wees.”
Hy verduidelik: “Dán sal die megaboerdery vanself kom.”