Aalwurmskade aan gewasse kom veral in sanderiger grond voor tydens natter seisoene, weens die gunstiger omstandighede. Omdat aalwurms aangepas is om in water te oorleef, sal hulle in natter seisoene baie vinniger voortplant en meer skade kan berokken (Dropkin, 1980).
In elke handjievol grond is daar duisende organismes wat ’n mens nie sonder ’n mikroskoop kan sien nie. Ten spyte van hoe klein hulle is, kan hulle ’n massiewe impak op suksesvolle voedselproduksie hê.
Terwyl die meeste mikro-organismes in grond ’n bate vir die produsent is, is daar sommiges wat as parasiete voortbestaan en onmiskenbare skade aan landerye kan veroorsaak. Nematodes – ook bekend as aalwurms – is multisellulêre, wurmagtige wesens wat nie met die blote oog gesien kan word nie. Daar is reeds ’n groot verskeidenheid spesies bekend wat in grond, plante en water voorkom en voedselproduksie in Suid-Afrika kan kniehalter.
Tipes aalwurms
Aalwurms kan in twee praktiese groepe ingedeel word, naamlik vrylewende en plantparasitiese aalwurms.
VRYLEWENDE AALWURMS
Vrylewende aalwurms speel ’n belangrike rol in die hersirkulering van organiese materiaal in landbougrond en is sodoende baie voordelig vir die grondgesondheid. Die vrylewende aalwurmbevolking is dus ook ’n baie goeie maatstaf om die grondgesondheid en biodiversiteit mee te meet.
Hulle voed op bakterieë, fungi en ander organiese materiaal of organismes. Groot bevolkings van byvoorbeeld bakteriese voeders sal ’n aanduiding wees van ’n sterk bakteriese teenwoordigheid in die grond (Heyns, 1971).
PLANTPARASITIESE AALWURMS
Plantparasitiese aalwurms daarenteen, rig skade by plante wat as gashere optree, aan. Hierdie plante dien as ’n voedselbron en ook as ’n veilige hawe vir die lê van eiers.
Die ekonomies-belangrike plantparasitiese aalwurms wat in Suid-Afrika voorkom, is knopwortel- (Meloidogyne spp.) en letselaalwurm (Pratylenchus spp.) (Nicol, et al., 2011). Hulle besit gewoonlik ’n orgaan genaamd ’n stilet, wat plante se selwande penetreer om die voedsame vloeistof in die selle te bekom.
Die peulaalwurm (Ditylenchus africanus), wat inheems tot Suid-Afrika is en ’n kleiner risiko vir die algemene boer inhou, veroorsaak egter groot oesverliese op grondbone en is ook al by sojaboonwortels waargeneem (De Weale, et al., 1989).
Knopwortelaalwurms kom die algemeenste voor omdat dit ’n baie wye reeks gashere het, wat dit in staat stel om groter bevolkings te bou en te behou omdat dit so goed in die natuur of in lande geakkommodeer kan word.
Hul lewensiklus is van so ’n aard dat dit ’n hele paar nuwe generasies in ’n enkele seisoen kan genereer. Eiers kan rustend bly gedurende die wintermaande, wanneer die omstandighede ongunstig is en daar nie gashere op die land is nie. Die eiers en larwes kom dan in die grond en in plantreste voor.
Letselaalwurms kan in ’n fase genaamd anhidrobiose ingaan, wat dit in staat stel om in uiters droë grondtoestande en koue wintermaande tussen twee groeiseisoene suksesvol te oorleef. Net soos met die knopwortelaalwurm, oorleef die letselaalwurm in die vorm van eiers.
Omstandighede wat gunstig is vir saadontkieming, is ook gunstige toestande vir die uitbroei van aalwurmeiers. Die parasiet en gasheer se seisoen begin dus saam, wanneer saailinge die kwesbaarste vir skade is. Landbougrond is gevolglik die ideale huisvesting vir plantparasitiese aalwurms.
Aalwurms leef in water. Selfs wanneer grond nie versadig is met water nie, beweeg dit in die kapillêre waterfilms in die grond. Die algemeenste verspreidingsmeganisme vir aalwurms is dus deur waterbeweging soos afloop van een land na ’n ander.

Plantparasitiese aalwurms: Risiko vir landbou
Bogronds is kenmerkende simptome nie altyd sigbaar nie. Ongelyke groei en verdwergde, verlepte en vergeelde kolle in ’n land is tekens van aalwurmskade. Simptome sal nooit eweredig regoor ’n land voorkom nie en ook nie in enkele rye nie. Dit sal in kolle voorkom omdat die aalwurmbevolking nie eweredig in ’n land versprei is nie. Indien slegs enkele plante of rye geaffekteer is, is dit gewoonlik nie weens aalwurmprobleme nie.
SIMPTOME
Aalwurmskade kan met fitotoksiteit (gif-/chemieskade), droogte en versuiptoestande verwar word. Die wortels moet egter noukeurig bestudeer word om te bevestig dat dit wel aalwurmskade is.
Duidelike simptome is oormatige wortelvertakking en knoppies of galle op die wortels. Dit moenie met rhizobium-nodules by peulplante verwar word nie. Stikstofbindende nodules is groen of pienk wanneer dit stukkend gedruk word, terwyl die galle wat deur die knopwortelaalwurm veroorsaak word verrot voorkom. Dit is soms moeilik om die galle by volwasse mielieplante raak te sien.
Letselaalwurm veroorsaak rooibruin letsels op die wortels en wanneer hulle aan die buitenste sellaag van die wortels vreet, verwoes dit die haarwortels. Daar is dus min tot geen haarwortels by besmette plante teenwoordig nie.
Knopwortelaalwurms veroorsaak groot skade op veral sojaboonoeste. Opbrengsverliese by sojabone kan van 25% tot 70% wissel. Aalwurms wat wortels beset, kompeteer met die rhizobium-bakterieë by peulplante, wat vir bakteriese stikstofvaslegging verantwoordelik is.
Die rhizobium-infektering (die gunstige nodules is eintlik ’n voordelige infeksie) word sterk onderdruk en baie minder nodulering vind plaas, wat stikstofvaslegging vir peulplante belemmer (Riekert & Henshaw, 1998) (Fourie, et al., 2010) (Fourie & Mc Donald, 2002).
Laboratoriumontledings
Die beste tyd vir ’n aalwurmontleding is vroeg in die seisoen, terwyl die plantwortels nog relatief vlak is. Sekere spesies kan in sanderige grond diep in die grond inbeweeg en kan later in die seisoen tydens monsterneming gemis word. ’n Telling moet beide in die grond en in die wortels gedoen word – dus word genoeg grond en ten minste 50 gram wortels per ontleding gebruik.
Omnia bied hierdie diens aan in die vorm van ’n OmniBio®-ontleding, waar nie net die aalwurms getel, geïdentifiseer en ’n opsomming van gemaak word nie, maar ’n reeks grondgesondheidsaanduiders ook gemeet en weergegee word. Dit kan ’n baie belangrike hulpmiddel wees om die gesondheid van elke land se grond in ’n boerdery te meet en oor seisoene te monitor.
Beheer
Die beheer van aalwurms word op voorkomende maatreëls gebaseer omdat nie veel daaraan gedoen kan word gedurende die groeiseisoen nie, aangesien die probleem in die grond voorkom. Chemiese bestryding is ’n gewilde en doeltreffende metode van beheer, alhoewel dit meer as net die teikenorganismes doodmaak en grondgesondheid heeltemal kan belemmer.
Grondbewerking vermeng en verdroog die grond, en dit stel die aalwurms bloot aan die son en aan droogte. Daar behoort minder aalwurms in ’n konvensionele land as in minimum- en geenbewerkingstelsels te wees, alhoewel die balans nie noodwendig reg sal wees nie.
Onkruide dien ook as gashere tydens die wintermaande, wanneer daar nie gewasse op die lande is nie. Knopwortelaalwurms se gasheerlys is lank en groot bevolkings kan deur ’n wye reeks onkruide gehuisves word. Dit is daarom belangrik dat goeie onkruidbeheer toegepas word.
Wisselbou kan diversiteit in die grond bevorder, omdat sekere spesies aalwurms net sekere gewasse as gashere het en sodoende nie jaarliks gehuisves kan word nie. Dit het ’n beperkte uitwerking wanneer die teenwoordige spesies ’n wye reeks gewasse as gashere gebruik. Gasheerweerstandigheid kan nagespoor word in kultivars wat weerstand teen aalwurminfeksie kan bied.
’n Tipe biologiese beheer van plantparasitiese aalwurms is moontlik deur die bevordering van ander lewende organismes soos fungi, bakterieë en predator-aalwurms (Poveda, et al., 2020). Dit word hoofsaaklik gedoen deur die opbou van organiese materiaal en die vermeerdering van gunstige spesies.
Behalwe die beheer van plantparasitiese aalwurms, word ander doelwitte ook bereik, soos die opbou van organiese materiaal, verhoogde biodiversiteit, die mineralisering van belangrike plantvoedingstowwe, verbeterde voedingstofverbruik deur plante, verbeterde waterhouvermoë, grondstruktuur en waterinfiltrasie.
Daar is tans verskeie produkte op die mark wat produsente kan benut om biodiversiteit in hul lande te bevorder. Omnia bemark twee plantervoor-toegediende produkte, naamlik Rhizovator™ en Bacstim®, wat spesiaal ontwikkel is om die rhizosfeer (wortelsone) by die pit aan te pas om biodiversiteit te akkommodeer.
Rhizovator™ bevat onder andere K-humate. Humiese stowwe soos hierdie voorsien energie en minerale aan verskeie mikro-organismes soos alge, bakterieë, fungi, aalwurms en ander organismes, wat baie voordelige funksies kan verrig en sodoende grondgesondheid kan bevorder.
Bakterieë en fungi dien dan as voedselbron vir verskeie vrylewende aalwurms, wat in ruil die demografiese balans onderhou en hoë plantparasitiese aalwurmpopulasies kan onderdruk (Abdelrazik, et al., 2020). Bacstim® bevat sekere Bacillus-bakteriespore wat in die rhizosfeer vrygestel word.
Hierdie bakterieë bevorder voedingstofverbruiksdoeltreffendheid en omdat die bakterieëbevolking en diversiteit verhoog word, kan dit ook moontlik tot bakteriese voederaalwurms en ’n beter biologiese balans in die grond lei.

Samevatting
Die aalwurmdruk op landerye moenie onderskat word nie en elke produsent en bestuurder moet sy lande vir hierdie pes monitor. Die gebruik van chemiese stowwe in landbou kom geweldig onder druk weens die behoefte aan meer organiese produkte en skoner voedselproduksie wêreldwyd.
’n Biologiese alternatief in die vorm van gesonder grond moet nagestreef word om die uitdagings van voedselproduksie aan te spreek. Aalwurmbeheer kan ook só toegepas word met gesonde praktykveranderings en gesonde biologiese produkte.
Bronnelys
- Abdelrazik E, Shehata AS and Abdel-Baset SH, 2020. Potentials of potassium humate, ammonium humate and vermicompost tea in controlling root-knot nematode, Meloidogyne arenaria and improving biochemical components in eggplant. African Journal of Biological Science, 1(16), pp. 119-134
- De Weale D, Bolton C and Van den Berg E, 1989. Ditylenchus destructor in hulls of seeds of peanut. Journal of nematology, Issue 21, pp. 10-15
- Dropkin VH, 1980. Introduction to plant nematology. New York: John Wiley & Sons Fourie H and McDonald AH, 2002. Control of root-knot nematodes on soybean. African Plant Protection, Issue 8, pp. 79-80
- Fourie H, McDonald AH and De Waele D, 2010. Relationships between initial population densities of Meloidogyne incognita race 2 and nematode population development in terms of variable soybean resistance. Journal of Nematology, Issue 42, pp. 55-61
- Heyns J, 1971. A guide to the plant and soil nematodes of South Africa. Kaapstad: Cape Towns: A. A. Balkema
- Nicol J, et al., 2011. Current nematode threats to world agriculture. In: Genomics and molecular genetics of plant-nematode interactions. Berlin: Springer, pp. 21-43
- Poveda J, Abril-Urias P and Escobar C, 2020. Biological control of plant parasitic nematodes by filamentous fungi inducers of resistance: Trichoderma, mycorrhizal and endophytic fungi. Front Microbial, 25 May, 11(992), pp. 1-14
- Riekert HF and Henshaw GE, 1998. Effect of soybean, cowpea and groundnut rotations on root-knot nematode build-up and infestation in dryland maize. African Crop Science Journal, Issue 6, pp. 377-383