Om besproeiing se doeltreffendheid te verhoog, moet ’n produsent meer met minder insette produseer. Goeie bestuur en beplanning lê die grondslag vir groter opbrengste en winste.
Dit is nodig om holisties na gewasbestuur te kyk, aangesien die verbouingsomgewing voortdurend verander en uitdagings soos ’n veranderende klimaat, wisselende graanpryse en gebrekkige elektrisiteitsvoorsiening toenemend nuwe uitdagings skep.
Doeltreffendheid onderskei ’n suksesvolle boerdery van ’n gemiddelde een. Wanneer ’n skaars hulpbron soos water ter sprake is, is dit belangrik dat daar nie ’n druppel tydens besproeiing vermors word nie.
Die totale waterbehoefte van koring is belangrik tydens gewasbeplanning en vir die bestuursbesluite wat geneem moet word. Dit kan egter wissel, afhangend van die weersomstandighede en kultivar, maar koring benodig ongeveer 450 mm tot 650 mm water gedurende die groeiseisoen (Brouwer en Heibloem, 1987).
Die waterbehoefte van gewasse
Gewasse het water nodig vir die proses van evaporasie en transpirasie. Plantwortels neem die water op, waarna dit deur die plant beweeg. Slegs ’n baie klein hoeveelheid water word in die plant gemetaboliseer en dus word die meeste daarvan in die vorm van waterdamp terug in die atmosfeer vrygestel. Dié proses word transpirasie genoem.
Die water wat vanaf oop wateroppervlaktes en van blare en ander bogrondse plantdele as waterdamp in die atmosfeer inbeweeg, staan bekend as evaporasie. Die totale waterbehoefte van gewasse bestaan dus uit transpirasie en evaporasie, en hierdie proses staan bekend as evapotranspirasie. Dit word uitgedruk as mm/dag, mm/maand of mm/seisoen.
Veronderstel die waterbehoefte van ’n gewas is 10 mm/dag. Dit beteken dat die gewas ’n waterlaag van 10 mm oor die hele verboude oppervlakte benodig. Die water hoef nie elke dag aan die plant toegedien te word nie, aangesien daar ook op gestoorde water in die grond staatgemaak word.
Die gewaskoeffisiënt (Kc) word algemeen gebruik om die waterbehoefte van gewasse te bepaal, en dit is ontwikkel om produsente ’n goeie voorspelling van die gewas se evapotranspirasie te gee en sodoende die besproeiing te bestuur.
Die waardes van die Kc sal vir die meeste gewasse toeneem vanaf ’n minimum tydens plant tot ’n maksimum waarde met volledige blaarbedekking (Grafiek 1). Die Kc word gedefinieer deur die vergelyking Kc = ETc ÷ ETo, waar die ETc die werklike gewas-evapotranspirasie is en die ETo ’n verwysingsevapotranspirasie is.

Koring met ’n groeilengte van 150 dae sal ’n maksimum behoefte vir water bereik op ongeveer 91 tot 120 dae ná plant. Hierna vind bestuiwing en graanvulling plaas, en tydens hierdie tydperk is die gewasfaktor op sy grootste. Hierdie tydperk kan wissel as gevolg van die klimaat en die kultivar se groeilengte.
Besproeiing van koring
Die waterbehoefte van gewasse word hoofsaaklik deur drie faktore bepaal:
- Klimaat.
- Tipe gewas.
- Groeistadium van die gewas (Figuur 1).

’n Volwasse koringplant sal baie meer water benodig as een wat net klaar ontkiem het. Die volwasse plant se biomassa is baie meer en daarom is daar ’n groter behoefte vir water om te transpireer.
Koring se potensiële graanopbrengs word bepaal deur die aantal plante per hektaar, die aantal are per plant, die korrelgetal per aar en die individuele graankorrelmassa (LNR, 2022). Die opvolgende opbrengskomponente sal tot ’n mate kan kompenseer vir die verliese aan ’n potensieel vroeër opbrengsverlaging, maar die graanopbrengs is steeds ’n resultaat van die gekombineerde opbrengskomponente.
Wanneer daar op enige groeistadium waterstremming voorkom, sal dit ’n negatiewe invloed op die graanopbrengs hê, maar daar is egter stadiums wanneer die gewas meer gevoelig vir waterstremming is.
- Ontkieming en vroeë ontwikkeling sal negatief beïnvloed word deur versuip- of droogtetoestande. Dit is belangrik dat die grond tot by veldwaterkapasiteit (VWK) benat word voordat die koring geplant word, aangesien die onttrekking van vog later in die seisoen só hoog raak dat die besproeiingstelsel nie noodwendig aan die vraag kan voldoen nie.
- Die waterverbruik is min tydens die vroeë ontwikkelingstydperk en koeler weersomstandighede heers dan, maar voldoende vog is steeds belangrik tydens stoel- en halmverlenging aangesien dit die aantal are per plant en sy-are per aar beïnvloed.
- Koring is tydens die blom- en bestuiwingstydperk baie gevoelig vir ’n watertekort en stuifmeelvorming, en die opname van voedingstowwe is daarom noodsaaklik gedurende hierdie groeistadium. Die aantal korrels per aar sal negatief beïnvloed word indien vogtekorte sou voorkom.
- Die laaste groeistadium is graanvul, waar droogtestremming tot ’n verlaagde graankorrelmassa sal lei. Vir ’n maksimum graanopbrengs word dit dus aanbeveel om grondvog, indien moontlik, naby aan veldwaterkapasiteit te hou om enige verliese weens droogtestres te vermy.
Besproeiingskedulering
Eenvoudig gestel kan besproeiingskedulering gedefinieer word as die hoeveelheid water wat toegedien moet word en die tydstip wanneer dit toegedien moet word. Dit sal die besproeiingsprodusent in staat stel om water doeltreffend te gebruik en optimale produksie te verseker.
Dit is belangrik dat die grondeienskappe en die gewas se waterbehoefte in ag geneem word om doeltreffende skedulering toe te pas. By NWK word kapasitansie-gebaseerde vogmeters (probes) van AquaCheck gebruik om die grondvog by produsente te meet en sodoende die skedulering daarby aan te pas (Foto 1).

Samevatting
In ’n baie kompeterende produksie-omgewing, met al die uitdagings wat besproeiingsprodusente in die gesig staar, is dit belangrik dat die gewas optimaal besproei word en dat die maksimum hoeveelheid graan per millimeter water toegedien, bereik word. Dit is daarom belangrik dat die produsent die wetenskap van besproeiing verstaan en doeltreffend toepas in sy besproeiingsvertakkings.
Bronnelys
Brouwer en Heibloem, 1987. Crop water needs. Irrigation water management, training manual no. 3
Graan SA, 2017. Kg graan/mm water: Hoe vergelyk jou plaas se effektiwiteit? https://www.grainsa.co.za/kg-graan/mm-water:-hoe-vergelyk-jou-plaas-se-effektiwiteit [15/05/2023]
Green GC, 1985. Beraamde besproeiingsbehoeftes van gewasse in Suid-Afrika, nr. 2, Navorsingsinstituut vir grond en besproeiing, Departement van Landbou en Watervoorsiening, Pretoria
LNR, 2022. Die produksie van kleingrane in die somerreënvalgebied
Ottman M, Munier D en Orloff S, 2012. ‘Irrigation management for wheat.’ California Alfalfa and Grains Symposium, Sacramento, CA, pp. 10-12