Die wenners van Graan SA se Groei vir Goud-kompetisie is in September aangewys. Adam Barnard, wat op die plaas Palmietfontein buite Ventersdorp vir SH Niemand & Seun-boerdery boer, het in 2022 tweede en derde plekke behaal. In 2023 het hy egter koning gekraai in die kategorie vir droëlandmielieproduksie.
Met ’n allemintige 12,210 t/ha is Adam (43) as die droëlandmieliewenner in Noordwes in Graan SA se jaarlikse Groei vir Goud-kompetisie aangewys. Hy sê dat hy nie noodwendig “tonne” jaag nie, maar eerder op grondgesondheid fokus.
“Ons is besig om ’n woestyn in Noordwes te skep. Kyk net hoe waai die wind die stof… Dis nie reg nie!” Met ’n El Niño waartydens die kwik in November in groot dele van die provinsie tot meer as 35°C gestyg het en die reënval nog skraps was, glo Adam die geheim lê daarin om organiese materiaal in grond te verhoog om die reënval beter te kan benut.
Grond was nog altyd sy passie
Adam het aan die Potchefstroom Landboukollege studeer, waarna hy in die wildbedryf as onder andere ’n veldgids gewerk het. “Met dié werk span jy ook geologie in om te leer watter grond en gras daar is. Grondkennis was nog altyd vir my lekker,” vertel hy.
Hy het in 2010 na Ventersdorp verhuis, waar hy vir verskeie produsente gewerk het. In 2019 het hy op Palmietfontein begin werk. Dié plaas se hooffokus is ’n voerkraal waarvoor Adam kos produseer.
Die boerdery produseer mielies, waarvan 300 ha as kuilvoer ingespan word. Die res word gestroop, met die een helfte wat vir die voerkraal opgeberg word en die ander helfte wat bemark word. In 2019 was die gemiddelde opbrengste maar sowat 4,4 t/ha.
Deur bloot met ’n ander kultivar te begin, het die boerdery alreeds ’n hoër opbrengs van 1,5 t/ha behaal. ’n Ander planter (agt-ry-planter van Monosem) is ook ingespan. Die rywydte is van 92 cm na 76 cm verminder en die plantestand is van 23 000 na 27 500 vermeerder. Danksy goeie reënval, was die gemiddelde opbrengs teen 2021 al sowat 7,5 t/ha en dié van kuilvoer het van sowat 30 t/ha na 45 t/ha gestyg.
Die belangrikste verandering wat egter aangebring is, was kalkregstellings. “Jy moet kyk waar jou probleemblokke is en daarop konsentreer. By ons was dit veral onegalige blokke en vlak gronde.
“Ek het gepoog om die waterhouvermoë en koolstof te verhoog en die grond se organiese materiaal op te bou. As jou fokus na grondgesondheid skuif, kom die opbrengste vanself,” glo Adam.
Hy het ook in 2021 begin om dekgewasse te plant – ’n mengsel van akkerbone, sorghum, sonhennep, dolichos, pêrelmanna (babala) en radyse. Adam laat nou elke jaar ’n blok van sowat 40 ha tot 50 ha “rus” en plant ’n dekgewas daarop wat deur beeste benut word.

Foto: Graan SA
Die mikpunt is geenbewerking
Adam pas tans minimumbewerking toe. “Die grond van diegene wat suksesvol geenbewerking inspan, se organiese materiaalinhoud vermeerder teen ’n vinniger tempo.
“Toe ek hier (op Palmietfontein) begin het, was die organiese materiaalinhoud maar 0,3%. Die beste land hier se inhoud is tans 1,8%. Ons is stelselmatig besig om dit te verbeter. Dit is egter ’n lang proses.”
Twee derdes van die lande waarop daar mielies aangeplant word, is huurlande en Adam het dus die “probleme” geërf. Hy spreek dit aan deur onder andere waterbane hier te vestig en mis te strooi.
Hy wissel die mielies ook af met sojabone en Sugargraze. Die sny van kuilvoer is ’n goeie manier om alle materiaal en gevolglik siektes van die lande te verwyder. “Ons probeer ná die sny van kuilvoer ’n bepaalde land loskry deur direk ná die kerwer ’n dekgewas op te sit, wat self die spore kan opbreek. Dit word egter deur vog beperk.
“Dit is goed om ’n kombers op ’n land te sit wat rooi lê ná kuilvoer gesny is, maar dit hang van die beskikbare vog af.”
Adam probeer soveel reste bo-op die grond hou vir so lank as moontlik. “Ek sal nie stoppels inwerk as dit nie nodig is nie. Wanneer dit kom by landvoorbereiding en die lande raak vuil, sal ek eerder probeer om dit vlak skoon te sny of te spuit.”
Baie van die lande word deur die beeste bewei. Nie net benut hulle die reste nie, maar die mis, urine en speeksel is ’n belangrike deel van die bemestingsproses.

Foto: Graan SA
Kunsmis: Maak ’n kopswaai
“Kunsmis is nagemaak en kom van olie af. Dit bevat soute wat die grond se pH verlaag. Streef eerder daarna om minder kunsmis te gebruik of ten minste organiese bemesting toe te dien, sonder om opbrengste te benadeel, en die grondgesondheid te verbeter. Kunsmis is nie opneembaar deur ’n plant nie en moet deur organismes afgebreek word,” sê Adam.
Hy is dankbaar vir die beesmis van die voerkraal wat hulle op die lande kan gooi. “Ek gooi sowat 15 t/ha, maar het slegs kapasiteit vir sowat 200 ha. Dit is ’n wonderlike manier om die organiese materiaal te verhoog en lewe in grond te vestig.
“As ons kuilvoer sny, is daardie lande eerste in die ry as ons moet terugsit wat ons afgehaal het. Jy haal baie voedingstowwe af as jy kuilvoer sny en die mis sit dit terug.”
Adam meen dat die som – om 500 kg kunsmis deur ’n seisoen toe te dien vir ’n opbrengs van sowat 6 t/ha – nie klop nie. Hy stel eerder ’n werkbare, lonende mikpunt en dien sowat 150 kg ammoniumsulfaat in September en Oktober toe om organismes te help om reste af te breek.
Hy gebruik ’n plantmengsel van 75 kg tot 125 kg skoon MAP (mono-ammoniumfosfaat). “Jou plantproses word versnel, want jy hoef nie so baie kunsmis in die planter te gooi nie en jou planter kan boonop baie verder plant met minder kunsmis.”
Topbemesting is gewoonlik 150 kg 7.0.1., maar kan verhoog word na 200 kg as dit sandgrond is wat baie loog of as die mielies ’n tekort toon.
“Dit is dus 375 kg tot 400 kg in totaal teenoor die konvensionele 500 kg. Ons kunsmisverbruik is laer en die proses is vinniger. Die plantseisoen in Noordwes is reeds baie ingekort en ons het eintlik net drie tot vier optimale weke. Planttyd is van kardinale belang en ons probeer om voor 25 Desember klaar te wees. Die eerste twee weke in Desember is optimaal.”
Adam gesels weer oor kalkregstellings. “Ons moes die eerste jaar dubbel kalk toedien – sowat 1 500 ha. Dit sou R600 000 kos.
“Daar is ’n kalkstrooier aangeskaf en toegerus met presisietoerusting teen R350 000. Teen die derde jaar het ons alreeds minder kalk benodig omdat die grond se balans toe al mooi herstel het. Ons strooi nou nog met hom en die masjien het homself al drie keer afbetaal. Dit maak sin om te kyk waar en hoe dit jou ‘betaal’ om jou eie toerusting aan te koop.”
Boer met die veranderende klimaat in gedagte
Adam is ’n voorstander van bewaringslandbou. “Ons Skepper het nie bome en gras in ’n ry geplant nie. Hy het hulle nie kunsmis gegee nie.”
Hy glo daarin om reënwater beter te benut deur die organiese materiaal te verhoog. “Slegs 1% organiese materiaal kan 40 000 liter water per hektaar hou! As ons die waterhouvermoë kan verbeter, kan ons hierdie droogtes deurstaan,” meen hy.
Hy doen baie selfstudie oor bewaringslandbou op platforms soos YouTube en Google. “Dekgewasse kondisioneer jou grond. Energie kom van die son af. Jy vang dit in plantjies vas en dit word in die wortels gestoor. Dit is die voordeel van hoë plantestande – maksimum sonlig vir plante.”
Die mieliekultivar wat Adam gebruik, het breë blare en hy vind dat hy met ’n stand van 27 000 maksimum energie van die son gebruik. “Energie en grond is verniet en dien as jou fabriek.
“Die ouens jaag hoë stande met baie kunsmis. Ek kan steeds met ’n stand van 27 000 en ’n dubbeldoel-mielie net so goed presteer as iemand met ’n stand van 40 000, en hy moet dubbel vir pitte betaal.”
Dit is waarom die kultivarkeuse ook ’n belangrike oorweging is. “Indien jy ’n ry kry waar die pitte nie opkom nie of jou stand laag is weens droogte of te veel vog, gaan daardie mielies jou steeds ’n goeie opbrengs gee en kompenseer vir die mielies wat nie daar is nie. Dit is ’n belangrike oorweging, veral in Noordwes, waar die stande kan afneem.
“As jy ’n stand van slegs 18 000 het, kan jy steeds ’n hoë opbrengs geniet, want jou mielies kan daarvoor sorg.” Hy vind dat ’n stand van 32 000 in elk geval die maksimum vir ’n meerkoppige mielie is en dat te veel plante per hektaar nie bevorderlik is vir vogbewaring nie.
Bestry onkruid en peste oordeelkundig
Adam glo in meer wisselbou en minder gifstowwe. Hy gebruik nie glifosaat nie, tensy dit absoluut nodig is.
Die optimale tyd om onkruide te bestry, is binne agt tot tien weke ná aanplanting. Hy doen nie winterbespuiting nie omdat onkruide dan in elk geval nie met mielies kompeteer nie.
Hy wil ook tussenverbouing (intercropping) op die proef stel, waar hy iets saam met mielies plant om onkruide later in die seisoen te kan onderdruk. Dit sal boonop kos vir die beeste bied. “Noordwes is egter droog, so dis iets om te oorkom,” besef hy.
“Onkruid is lewendig. Jy soek daardie lewende wortels regdeur die jaar in die grond. Ons sal graag in die winter iets groen in die grond wil hê, want dit hou jou organismes aan die lewe. Dis hoekom ek nie bossies bestry nie. Ek sal dit eers bestry as ek my saadbed maak.”
Hy gooi wenakkers se grond in spoelkolle op ’n land. “Daar bly organismes in ’n wenakker wat jy nie in jou land kry nie.”
Adam gebruik ook nie swamdoders nie. “Swamme is die enigste organismes wat die horisontale beweging van voedingstowwe in grond moontlik maak. Swamme is jou groot vriend en hou jou grond gesond. Klein sampioene in ’n land is daarom ook ’n aanduiding van goeie grondgesondheid.”
Liewenheersbesies en spinnekoppe word ook gereeld gesien in die lande waar Adam plant en hy is opgewonde oor die ekostelsels wat hier floreer.
Teen druktyd het Adam sy opsies tydens El Niño oorweeg: “Omdat ons kuilvoer sny, sal ons dalk eerder Sugargraze as mielies plant omdat dit meer droogteverdraagsaam is. Ons is nie ’n groot gemengde boerdery wat kan afwissel met sonneblom nie.”
Hy was egter oorgehaal om dieselfde praktyke in die huidige seisoen toe te pas. “Ek mik nie om die kompetisie te wen of rekords te breek nie. Ek gaan dieselfde resep volg en poog om die natuur minder te versteur.
“Hierdie praktyke werk vir ons en kan verskil, afhangend van ander boere se grond en toestande. Reën bly wel ’n beperkende faktor.”
Hoe die Groei vir Goud-kompetisie werk
- Adam het Bayer se DKC76-77BR op 27 November 2022 aangeplant en dié saadvoorsiener het hom vir die kompetisie genomineer.
- Hy verkies dié kultivar omdat dit ’n goeie dubbeldoel-mielie is wat ’n goeie opbrengs lewer en ook geskik is vir kuilvoer. Dit lewer ’n goeie gehalte mielie met swaarder pitte.
- Daar is in die 2022/2023-seisoen sowat 708 mm reën op Palmietfontein gemeet. Die betrokke blok van 2 ha is op 29 Junie gestroop. Adam se saadverteenwoordiger by Bayer, Deon Schutte, en ’n onafhanklike evalueerder, Jeanette Lourens van NWK4Sure Makelaars, was teenwoordig.
- Die mielies is na die naaste silo aangery en geweeg, en die silostrokie is saam met die nodige besonderhede na die kompetisie se beoordelaars gestuur.