Nematode is een van die omvangrykste organismes in die diereryk. Hulle is baie meer as insekte en kom letterlik oral op die aarde, op land en in water, voor. In variasie en aanpassing vir hulle spesifieke habitatte is daar ook nie ’n tekort nie.
Daar is baie vrylewende nematode, insluitende dié wat op mense en diere parasiteer. Sommige van hierdie parasiete kan ’n reusagtige 8 m bereik (kom voor in die plasenta van spermwalvisse), ’n middelmatige 1,2 m (hulle parasiteer op mense), tot só klein dat daar kop aan stert so 20 tot 30 van hulle op die dikte van ’n 10c-muntstuk kan pas.
Dan is daar natuurlik die plantparasiete wat produsente as aalwurms ken, en wat vir beide navorsers en produsente ewe groot kopsere kan besorg. Die plantparasitiese aalwurms is van die soort wat op die dikte van ’n 10c-muntstuk kan pas. Anders as die meeste insekte, is hulle nie met die blote oog sigbaar nie en kan hulle slegs met behulp van ’n mikroskoop van naderby bekyk word.
Dis juis hierdie “onsigbaarheid” wat veroorsaak dat die meeste mense hulle om verskeie redes miskyk en eers te laat agterkom (indien enigsins) dat hierdie rampokkers besig is om amok te maak.
Alhoewel daar ’n swetterjoel plantparasitiese aalwurms voorkom, is daar net ’n paar wat regtig skade aan ’n produsent se sak veroorsaak. Knopwortelaalwurm (Meloidogyne spp.) en letselaalwurm (Pratylenchus spp.) is onderskeidelik dié wat die algemeenste voorkom en meestal die sondebokke is.
Dis juis hulle wat in hierdie artikel bespreek word. Dit behoort produsente en agente ’n goeie idee te gee waarvoor om op eenjarige gewasse soos mielies, koring, sojabone, grondbone en sonneblom uit te kyk. Op grondbone kan peulaalwurm (Ditylenchus africanus) ook uitgesonder word, want hulle reageer anders as die res van die aalwurms en rig beduidende finansiële skade aan.
Bogrondse simptome
Omdat die meeste aalwurms (nie net dié wat hier bespreek word nie) op die plantwortels voed en dit beskadig, kan die geaffekteerde plant nie behoorlik voedingstowwe en water opneem nie. Uiteraard sal die plante hierdie tipe stres in hulle bogrondse dele wys, wat onomkeerbaar is. Afhangende van die graad van die aalwurmbesmetting, kan die plante vergeel, verdwerg of verlep lyk.
Hierdie simptome is egter ook soortgelyk aan die tipiese simptome van versuiping of voedingstekorte. Gevolglik word aalwurms dikwels misgekyk en word ’n ander faktor dan die skuld gegee. ’n Goue reël wat kan help om aalwurmskade van ander skade te onderskei, is die feit dat aalwurmskade altyd in kolle voorkom (Foto 1).
’n Aalwurmpopulasie is nooit eweredig in ’n land versprei nie. Aalwurmgetalle is altyd hoër op plekke waar water kan af- of inloop (holtes en duike in die land), want die water spoel eiertjies en wurmpies in hierdie plekke in. Daar is dus meer aalwurms in hierdie dele wat die plante aanval en dis hoekom sulke plante siek lyk in vergelyking met hulle bure.
Hierdie kolle wissel in grootte en vorm en kan begin groei soos wat die aalwurms verder begin versprei na nuwe kos (buurplante se wortels). Aalwurmskade sal dus nooit in bane of in slegs enkel rye of plante voorkom nie. Hierdie reël geld vir feitlik alle aalwurms. ’n Uitsondering is peulaalwurm, wat meer op grondboonpeule parasiteer en nie soseer die wortels van die plant nie. Peulaalwurm beskadig nie regtig die grondboonplant se wortels nie en dus is daar ook nie bogrondse simptome is nie (Foto 2).

Ondergrondse simptome
KNOPWORTELAALWURM
Knopwortelaalwurmsimptome is die maklikste om op die wortels te sien, want hulle veroorsaak sigbare galle (Foto 3). Hierdie galle word deur die voedende knopwortelaalwurmwyfie veroorsaak. Sy stimuleer wortelselle waarop sy voed om te vergroot (staan bekend as reuse-selle) en dan net vir haar van kos te voorsien, omdat sy vir die res van haar lewe in daardie spesifieke plek in die wortel bly.

Hierdie sel verloor dan sy waarde vir die plant. Die aalwurm omvorm op dié manier ’n hele paar selle wat rondom haar kop lê en dis waar die galle vandaan kom. Die galle wat op die wortels sigbaar is, is dan inderwaarheid die knopwortelaalwurmwyfie se “kombuis”.
By peulgewasse soos grondbone kan hierdie galle soms met stikstofbindende bakteriese knoppies verwar word. ’n Maklike manier om die twee te onderskei, is om die gal/knoppie te probeer afvryf. As die “bolletjie” maklik afvryf, is dit ’n stikstofbindende knoppie. As dit egter slegs af kan kom as die wortel self beskadig word (die galle bestaan uit vergrote selle van die plant self), is dit ’n knopwortelaalwurmgal.
LETSELAALWURM
Letselaalwurms kom, anders as die knopwortelaalwurm wat in die wortel self bly, binne en buite die wortel voor. As hulle van buite af op ’n wortel voed, beweeg hulle van sel tot sel soos wat hulle voed. Speeksel word in ’n sel gespuit, wat die selinhoud oplos sodat die letselaalwurm dit kan opsuig. Die hele sel val dan inmekaar.
As ’n paar selle só inmekaar val, veroorsaak dit bruin letsels op die wortels. Dit is egter baie moeilik, selfs vir ’n geoefende oog, om hierdie bruin letsels as aalwurmskade te eien. Die rede hiervoor is dat daar baie ander organismes of meganiese skade is wat die aalwurmskade kan verdoesel. Dus is dit nie raadsaam om só te probeer bepaal of daar letselaalwurm is nie.
Dit is in so ’n geval nodig om vir ’n nematoloog grond- en wortelmonsters te stuur sodat die plantparasitiese aalwurms geïdentifiseer kan word. As letselaalwurm wel binne-in die wortel ingaan, vernietig hy die selle so ver as wat hy beweeg en val daar soms gate in die aangetaste wortels. Verder kan hulle ook die vaatbondels waarmee die plant voeding en water opneem, verstop. Sulke plante lyk dan verlep, al is daar voldoende water.
PEULAALWURM
Peulaalwurm kan in klein hoeveelhede op ander gewasse (en onkruide) oorleef, maar rig net skade aan grondbone aan. Simptome van peulaalwurmskade kan eers waargeneem word as die produsent sy grondbone met oestyd lig.
Peulaalwurm dring die peul binne by die aanhegtingspunt waar die peul aan die anker vaskom (Foto 4). Die selle word dan sodanig beskadig en verswak dat die peule afbreek en in die grond agterbly as die grondbone gelig word. Afhangende van die besmetting, kan ’n produsent 40% tot 60% van sy oes op só ’n manier verloor.

Die grootste invloed van peulaalwurm op grondbone is egter kwalitatief. Saadgedraagde peulaalwurm voed onder andere op die saadhuid. Dít en die skade wat op die doppe van die peule self aangerig word, veroorsaak dat die doppe water deurlaat en die saad begin ontkiem voordat die produsent kan oes (Foto 5).

Verder veroorsaak peulaalwurm dat die saad verkleur en die are soms donker vertoon. Al hierdie simptome veroorsaak ’n verhoging in die persentasie ongesonde, gevlekte en vuil pitte (% OGV), wat daartoe lei dat ’n besending afgegradeer word. Afhangende van die graad van besmetting, kan só ’n besending tot pers graad afgegradeer word.
Ten slotte
Die hoeveelheid skade wat ’n produsent as gevolg van aalwurm kan ly, hang af van die populasiedigtheid (hoeveelheid plantparasitiese aalwurms teenwoordig). As daar genoeg aalwurms is, kan dit die opbrengste beïnvloed en van die plante kan selfs vrek. Aalwurmskade is ongelukkig onomkeerbaar en teen die tyd wat dit wel opgemerk word, is dit reeds te laat.
Die meeste aalwurmdoders op eenjarige gewasse het spesifieke onthoudingsperiodes wanneer dit nie meer toegedien mag word nie. Dis veral van belang wanneer die oestyd naby is. Aanbevelings wat in hierdie stadium vir aalwurmbeheer gedoen word, sal dan vir die volgende seisoen van toepassing wees.
Indien vermoed word dat gewasskade deur aalwurms veroorsaak is, kan monsters vir aalwurmontledings gestuur word.
Bronnelys
- Fourie H, McDonald AH, Steenkamp S & De Waele D, 2017. Nematode pests of leguminous and oilseed crops. In: Fourie H, Spaull W, Jones RK, Daneel MS & De Waele D (eds). Nematology in South Africa: A view from the 21st century. Springer International Publishing, Switzerland, pp 201-230
- McDonald AH, De Waele D & Fourie H, 2017. Nematode pests of maize and other cereal crops. In: Fourie H, Spaull W, Jones RK, Daneel MS & De Waele D (eds). Nematology in South Africa: A view from the 21st century. Springer International Publishing, Switzerland, pp 183-199
- Steenkamp S, 2022. The war against the pod nematode, Ditylenchus Africanus, on groundnut in South Africa. In: Sikora A, Desaeger J & Molendijk LPG (eds). Integrated nematode management. State of the art and visions for the future. Cab International, Wallingford, UK, pp152-156
- Timper P, Dickson DW & Steenkamp S, 2018. Nematode parasites of groundnut. In: Sikora RA, Coyne D, Hallmann J & Timper P (eds). Plant-parasitic nematodes in subtropical and tropical agriculture. Cab International, Wallingford, UK, pp 411-445
- Weischer B & Brown DJF, 2000a. Nematode parasites of humans. In: An introduction to nematodes. A student’s textbook. Pensoft, Sofia-Moscow, pp 1-20
- Weischer B & Brown DJF, 2000b. Nematode parasites of plants. In: An introduction to nematodes. A student’s textbook. Pensoft, Sofia-Moscow, pp 37-53