Die gewildheid van dekgewasse neem toe onder gewasprodusente omdat herlewingslandboupraktyke, grondgesondheid en volhoubare produksie aan die orde van die dag is.
Dekgewasse wat grondgesondheid en watergehalte in kontantgewasaanplantings verbeter, het die potensiaal om die impak van klimaatsverandering op Noordwes se landboustelsels te verminder.
Dekgewasse verwys na enige plantpopulasie wat in rotasie met ander gewasse of tussen rye verbou word, met die doel om ’n bestuurstelsel te skep wat tot langtermynstabiliteit lei.
Herlewingslandbou is nie ’n nuwe praktyk nie. Produsente het eeue lank reeds dekgewasse geplant om die grondgehalte te verbeter en gronderosie te verminder. In die 20ste eeu het die ontwikkeling van doeltreffende onkruid- en plaagdoders veroorsaak dat baie produsente van dekgewasse wegbeweeg het. Die verband tussen grondgesondheid en omgewingsvoordele het egter die afgelope paar jaar heelwat belangstelling in hierdie praktyk gelok.
Boerderybeplanning
Dekgewasse is aanpasbaar by die meeste boerderypraktyke, maar konvensionele bewerkingspraktyke verhoed dat die voordele daarvan ten volle benut kan word. Met ploegpraktyke moet groenbemesting eerder oorweeg word. Die beste ontsluiting van dekgewasse se voordele vind in geenbewerkingspraktyke plaas en dit vorm ook deel van ’n holistiese benadering tot grondgesondheid en koolstofaanvulling.
Die doel, asook die voor- en nadele van dekgewasaanplantings, moet vooraf deeglik oorweeg word. Dekgewasaanplantings is nie goedkoop nie. Dit is dus nodig om die koste van sulke aanplantings te regverdig deur ’n aansienlike oesverbetering en/of om die dekgewas deur ’n veefaktor te benut.
Voordele
Dit is belangrik om daarvan kennis te neem dat betekenisvolle grondverbetering weens dekgewasse eers ná verskeie jare se opeenvolgende aanplantings waargeneem kan word.
Potensiële voordele van dekgewasaanplantings sluit in (Muller, 2018):
- Verminderde korsvorming en afloop, asook die beskerming van grond teen erosie.
- Beperkte verdamping en verhoogde waterinfiltrasie.
- Verhoging in grond se fauna- en floradiversiteit en dus siektebeheer.
- Onkruidonderdrukking.
- Meer stabiele grondtemperature.
- Stikstofaanvulling deur middel van peulplante.
- Veefaktor kan winterdekgewasse as voer benut.
- Verhoging in organiese materiaal en koolstofvlakke in die grond, wat grondstruktuur en waterhouvermoë verbeter.
Deeglike beplanning rondom dekgewasse se planttyd en tyd van terminasie is nodig om ’n balans te vind tussen die voordele wat dekgewasse bied en die uitputting van die grondvog. Die terminasie van ’n dekgewas is gewoonlik binne 30 tot 90 dae ná aanplanting. Dit verhoed dus dat die dekgewas kan saadskiet.
Uitdagings
Dekgewasse hou baie voordele in, maar daar is ook uitdagings. Die finansiële voordele van ’n dekgewas kan jare neem om te realiseer, terwyl die implementeringskoste onmiddellik van aard is.
Die gebruik van dekgewasse is nie sonder potensiële probleme nie (Kellerman & Schutte, 2022):
- Eenjarige dekgewasse moet gesny word voordat hulle sade produseer wat later as onkruid geklassifiseer kan word.
- Sommige dekgewasse het allelopatiese eienskappe wat nadelige gevolge op die daaropvolgende gewas kan hê.
- Groot hoeveelhede oesreste van die dekgewasse kan probleme veroorsaak met die vestiging van die volgende gewas. Sommige planters is besonder sensitief vir oormatige plantreste in die saadbed.
- Stikstof kan in die grond vasgelê word deur veselagtige plantmateriaal wat eers moet ontbind, wat tot nadeel van die opvolggewas is.
- Sekere dekgewasse kan voordelig vir peste en plae wees, wat ’n negatiewe uitwerking op die opvolggewas kan hê.
Dekgewasmengsels
Dekgewasmengsels word hoofsaaklik saamgestel uit ’n kombinasie van gewasse om ’n sekere doel en funksie in en op die grond te verrig. Dit is daarom belangrik dat dekgewasse nie as ’n standaardmengsel aangekoop word nie, maar dat elke spesie doelbewus vir ’n spesifieke rol in ’n mengsel gekies word. Mengsels bestaan hoofsaaklik uit vier komponente, naamlik grasse, peulgewasse, brassicas en bestuiwergewasse (Grobler, 2022).
Die samestelling van saadmengsels sal grootliks van die produsent se doelwit afhang. In die droër Noordwes moet ’n goeie deklaag vir optimale waterinfiltrasie en minimale verdamping van grondvog ’n prioriteit wees. In gebiede waar die reënval meer betroubaar is, kan peulgewasse geplant word om insetkoste te verminder deur stikstof by die grond te voeg.
Gras-peulgewasmengsels is voordelig, aangesien die mengsel voordele van albei gewasse kombineer en tot ’n vinnige, goeie blaredakbedekking lei. Die teenwoordigheid van N-ryke peulgewasreste kan ook help om die grasreste vinniger af te breek. Nadele van mengsels kan verhoogde saadkoste en ingewikkelde bestuur insluit.
Bepaal vooraf wat die mikpunt is
Aangesien dekgewasse gevestig word om spesifieke funksies te verrig, is dit baie belangrik dat daar vooraf bepaal word wat met die dekgewas bereik wil word (Kellerman & Schutte, 2022).
DEKGEWASSE WAT ONKRUIDE ONDERDRUK
Verskeie dekgewasse word beskou as smoorgewasse omdat dit gebruik word om onkruide te help onderdruk met hul aggressiewe groeiwyse. Gewasse wat die beste resultate gee, is dié wat vinnig ontkiem vir doeltreffende grondbedekking en/of om die grondoppervlak te oorskadu.
- Weiwieke, hawer, wit mosterd.
VIR ’N DEKLAAG
Die eienskappe van oesreste is baie belangrik, aangesien dit ’n direkte invloed op die uitwerking van organiese materiaal-ontbinding (humifikasie en mineralisasie) het, asook ander plantvoedingsdinamika. Jong plante wat vir groenbemesting gevestig word, het meestal ’n lae K:S-verhouding, wat goed is vir die volhoubaarheid van mikro-organismes. Daarteenoor skep volwasse, veselagtige gewasse soos graanstoppels ’n stabiele organiese materiaalplatform, wat min stimulasie vir die grond se biologiese aktiwiteite bied.
- Hawer, korog, gars, rog.

(Bron: Muller, 2018)
STIKSTOFBINDING
Peulgewasse soos lupiene, klawer, wieke en serradella, wat atmosferiese stikstof bind, is ook in staat om stikstof aan opvolggewasse te voorsien. Wanneer mis- of komposbronne nie geredelik beskikbaar is nie, kan peulgewasse in ’n wisselboustelsel gebruik word om stikstof op ’n meer biologiese manier te voorsien.
Stikstofbindende peulgewasse moet tydens plant met Rhizobium-bakterieë geënt word. Peulgewasse vereis spesifieke entstowwe en daar moet seker gemaak word dat die entstof van ’n betroubare en geregistreerde bron kom. Enting is veral belangrik as die peulgewas nie voorheen op die grond verbou was nie.
- Lupiene, serradella, wieke, klawers, medics.
BIOBEROKING
Om die lewensiklusse van plae te onderbreek, is dit belangrik om dekgewasse van ’n ander familie as dié van die opvolggewas te kies. Dekgewasse vir hierdie doel verseker nie alleen dat peste en plae onder beheer gebring word nie, maar dra ook by tot die verhoging van die grond se organiese koolstofinhoud. Hierdie dekgewasse kan ook voordelig wees om organismes te lok wat op plaagspesies voed of parasiteer.
- Wit mosterd, radys.
Wanneer dekgewasse in die winter aangeplant word, kan die volgende wintergewasse oorweeg word: Serradella, hawer, gars, korog, rog, lupiene, erte, klawer, wieke, kanola en voerradys.
Wanneer dekgewasse op oorlêlande geplant word, kan die volgende somergewasse oorweeg word: Akkerbone, sojabone, dolichos, fluweelbone, voersorghum, mosterd, wieke en verskeie klawers.
Samevatting
Elke spesie van die dekgewaspakket bied verskeie voordele en dit kan suksesvol gemeng word om sodoende veelvuldige voordele te verkry. Deur die grond te stabiliseer en met organiese materiaal te verryk, word dié hulpbron teen uiterste omgewings- en weersomstandighede beskerm en sodoende verseker dit dat landbou meer volhoubaar raak.
Dekgewasse bied nie ’n vinnige oplossing vir produksieprobleme nie. Beplanning is belangrik en dit kan tyd en verskillende aanslae verg om die verwagte resultaat te verkry. Dit spreek egter volhoubaarheid doeltreffend aan en kan gesien word as ’n praktyk wat sal verseker dat landbougrond ook vir die nageslag behoue sal bly.
Bronnelys
- Grobler M, 2022. Gaan so te werk met mengsel van dekgewasse. https://sagrainmag.co.za/2022/11/04/gaan-so-te-werk-met-mengsel-van-dekgewasse/
- Kellerman J & Schutte C, 2022. Dekgewas-handleiding. Barenburg VinPro: file:///C:/Users/admin/Downloads/Dekgewas%20gids%20(5).pdf
- McDermott, 2019. Using cover crops for weed control in spring. Ohio State University: https://u.osu.edu/vegnetnews/2019/05/02/using-cover-crops-for-weed-control-in-spring/
- Muller C, 2018. Agricol dekgewasse SA Olive. Agricol: https://www.saolive.co.za/wp-content/uploads/2023/04/Powerpoint-Dekgewasse-SA-Olive-2022.pdf