Die ontdekking van ’n onbekende aalwurm het navorsing genoodsaak wat deur befondsing van die Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust (OPOT), asook LNR-Graangewasse, moontlik gemaak is.
Taksonome het hierdie aalwurm Robustodorus arachidis gedoop, maar vir die doel van hierdie artikel sal dit testa-aalwurm heet omdat dit blykbaar ook op die saadhuid van die pit voed. Omdat die testa-aal-wurm se gedrag so na aan dié van die peulaalwurm in terme van voeding en voorkoms in die plant was, is hierdie nuut ontdekte aalwurm met peulaalwurm vergelyk.
’n Soektog na ’n goeie foto van peulaalwurm- (Ditylenchus africanus)-skade vir ’n boek wat Suid-Afrikaanse nematoloë wou uitbring, het vir ’n onaangename verrassing gesorg. ’n Erg beskadigde plant is ingebring vir die neem van die foto. Die peule van die plant is na die fotosessie uit nuuskierigheid onttrek om te bepaal presies hoeveel peulaalwurm nodig is om soveel skade aan te rig.
Die peule het inderdaad gekrioel van die aalwurms, maar daar was slegs enkele peulaalwurms teenwoordig. Die oorgrote meerderheid van die aalwurmpopulasie in hierdie peule het egter baie anders gelyk as die bekende en berugte peulaalwurm.
Dit het die span van die Landbounavorsingsraad (LNR) dadelik laat regop sit. As daar so min peulaalwurm is, maar die skade is só erg, beteken dit dat die skade net deur hierdie einste onbekende aalwurm aangerig is. Die ergste was dat hulle ook in die pitte aangetref is, wat beteken dat daar nou waarskynlik nóg ’n saad-oorgedraagde pes is wat met saad kan versprei.
Skade en skadesimptome
Peulaalwurm toon, anders as die meeste ander plantparasitiese aalwurms, geen bogrondse simptome nie. Die produsent vermoed dus eers vir die eerste keer onraad as hy begin om die grondbone te lig. Peulaalwurm dring die peul binne waar die anker aan die peul vasheg.
Die selle in hierdie area word dan sodanig beskadig dat die aanhegtingspunt verswak en die peule afbreek en in die grond agterbly sodra dit gelig word. In swaar peulaalwurm-besmette lande kan ’n produsent 40% tot 60% van sy oes op dié manier verloor.
Oesverliese is egter nie die grootste kopseer wat peulaalwurm veroorsaak nie. Aangesien peulaalwurm ook die peul se dop self beskadig en aan die ontwikkelde saad se saadhuid vreet, loop die pitte dikwels uit voordat die produsent kan oes (Foto 1 en 2).


Vreetskade aan die saadhuid manifesteer as verkleuring van die pit en dit kan die are wat oor die saadhuid loop, donker laat uitstaan (Foto 1). Hierdie besmette pitte se saadhuid vryf maklik af (dit sal die ontkieming van plantsaad negatief beïnvloed) en die saad self het dan ’n kenmerkende geel skynsel. Al hierdie simptome veroorsaak dat die persentasie ongesond, gevlek en vuil (% OGV) van ’n besending verhoog, wat weer veroorsaak dat dit afgegradeer word.
Afhangende van die graad van besmetting, kan so ’n besending tot by persgraad afgegradeer word. Die pryse (soos in Desember 2023 aangebied) word in Tabel 1 saamgevat. Volgens hierdie tabel was die ekonomiese skade wat peulaalwurm in daardie stadium kon veroorsaak tot R19 500/t indien ’n besending na Pers 2 toe afgegradeer word. Die minimum skade wat peulaalwurm kon aanrig, was R1 500/t.
Die skade wat die testa-aalwurm aan plante aanrig, is soortgelyk aan dié van peulaalwurm. Nes met peulaalwurm is daar geen bogrondse simptome van testa-aalwurmbesmetting nie en kan die produsent onverhoeds betrap word. Simptome op die wortels en peule is egter baie meer sigbaar as dié van peulaalwurm.
Die roetagtige, swartkleurige simptome lyk baie soos dié wat deur die swart peulvrot-swam veroorsaak word (Foto 3A). Net soos grondbone wat deur peulaalwurm besmet is, loop dié wat met testa-aalwurm besmet is ook uit voordat die produsent kan oes (Foto 3B). Die ekonomiese skade wat testa-aalwurm potensieel kan aanrig, is dus soortgelyk aan dié van peulaalwurm.

Beheer
Peulaalwurm is moeilik om te beheer. Aalwurmdoders is nie voldoende om hierdie aalwurm onder beheer te bring nie omdat hulle populasie eintlik eers begin ontplof sodra die ankers gestoot word. Ankers begin stoot wanneer die onthoudingsperiode van die meeste geregistreerde aalwurmdoders op grondbone begin en daarom “ontsnap” peulaalwurm chemiese beheer.
Gewasrotasie help nie, want hulle kan in klein getalle op ander gewasse oorleef (beskadig egter nie ander gewasse nie), net om weer die opvolgende grondboonaanplanting te besmet en teen oestyd te beskadig. Hulle oorleef ook op al die onkruide wat moontlik in ’n grondboonland aangetref kan word.
Volgens veld- en mikroplotproewe (waar ’n vasgestelde aantal testa-aalwurm by elke plantjie geïnokuleer word om hulle skade beter te kan bestudeer) is aalwurmdoders, net soos by peulaalwurm, nie doeltreffend om testa-aalwurm te beheer nie. Die rede hiervoor is nie duidelik nie en moet nog behoorlik ondersoek word.
Dis nog nie duidelik op watter gewasse testa-aalwurm kan oorleef en parasiteer nie, en dis onbekend of daar sekere gewasse is wat hierdie aalwurm kan kortwiek. Dit wil egter voorkom asof testa-aalwurm op mielies kan oorleef, maar nie op koring nie. Die invloed wat dit op ’n mielieoes kan hê, is tot dusver nog onbekend.
Oorlewing
Peulaalwurm se lewensloop is sewe dae, wat beteken dat hulle nadat hulle uitgebroei het weer binne sewe dae in staat is om eiers te lê. Minstens 90% van hierdie eiertjies sal uitbroei. Dit impliseer dat hulle binne ’n baie kort tydjie ’n groot populasie kan opbou, selfs al is daar net ’n paar aalwurmpies teenwoordig aan die begin van die seisoen.
Al beskadig peulaalwurm net grondbone, oorleef hulle in klein getalle op al die ander gewasse wat in rotasie met grondbone geplant word. Hulle kan ook op onkruide wat algemeen in grondboonlande aangetref word, oorleef. As daar nie kos tydens die lang wintermaande beskikbaar is nie, is hulle in staat om te oorwinter deur in anhidrobiose (lewe sonder water) te gaan of in eiervorm, wat dan sal uitbroei sodra daar weer kos is.
Navorsing het bevestig dat testa-aalwurm ook anhidrobiose as ’n oorlewingstrategie gebruik. Die heel eerste grondboonmonsters waar die testa-aalwurm vir die eerste keer geïdentifiseer is, het reeds ’n paar anhidrobionte gehad (Figuur 1).

Tydens die navorsing is besmette peule net ná oes vir ongeveer agt weke buite in sakke opgehang sodat dit lugdroog kon word. Vandaar is die peule teen kamertemperatuur gestoor voordat dit verwerk is. Die testa-aalwurm wat in die peule was, is dus aan koue en langdurige droogtetoestande blootgestel.
Met planttyd in die volgende seisoen is die aalwurms uit die peule onttrek en gebruik om nuwe plantjies mee te besmet, net om te kyk of testa-aalwurm van hierdie uiterste toestande kan herstel en weer die plante sal aanval en beskadig. Die skadesimptome was inderdaad net so erg soos wat dit op die vorige seisoen se plante was.
Hierdie aalwurm, nes peulaalwurm, is dus heeltemal in staat om die wintermaande te kan oorleef (hetsy as anhidrobionte of in eierstadium) en dan weer nuwe grondboonaanplantings te besmet en te beskadig.
Is testa-aalwurm regtig so ’n groot bedreiging?
Noudat daar vasgestel is dat hulle onder ongunstige toestande kan oorleef en steeds nuwe grondboonaanplantings kan aanval en skade berokken, moes bepaal word of die testa-aalwurm werklik so ’n groot bedreiging is en of dit maar net ’n geïsoleerde geval was. Die gevaarligte het egter begin flikker toe daar van nader gekyk is hoe en waar hulle nesskop.
Sowat 90% van ’n peulaalwurmpopulasie in ’n grondboonland sal met oestyd in die peule voorkom, met net ’n paar verdwaalde aalwurmpies wat op die wortels voed. Testa-aalwurm maak homself, nes peulaalwurm, ook in die peule tuis (Tabel 2). Hierdie tabel toon die stand van sake in ’n grondboonland waar beide peul- en testa-aalwurm voorgekom het, en dit is die produk van een van verskeie studies wat dieselfde tendens gevolg het.
Wat interessant (en ’n bietjie skrikwekkend) was, is die waarneming dat oral waar testa-aalwurm was, die peulaalwurmgetalle hoër in die wortels was en nie die gewone 90% van die populasie in die peule nie. Aan die ander kant was testa-aalwurmgetalle hoër in die peule as in die wortels, soos wat normaalweg met peulaalwurms die geval is. Dit lyk kompleet asof testa-aalwurm die peulaalwurm so uitkompeteer vir spasie in die peule dat peulaalwurm maar tevrede moet wees om eerder, heel teenstrydig met hulle normale gedrag, op die wortels te voed.
Dit dui daarop dat testa-aalwurm baie meer aggressief is as die berugte peulaalwurm en waarskynlik ’n groter potensiaal het om skade aan te rig vir ’n grondboonprodusent. Boonop boelie testa-aalwurm die peulaalwurms ook uit die saad uit om hulself daar tuis te maak. As daar dus besmette saad in ’n land geplant word waar daar nog nie testa-aalwurm is nie, sal hulle die residensiële peulaalwurms uitdruk en hulself daar vestig.
Nog ’n interessante aspek van hierdie navorsing waaroor daar in verdere studies nog baie uitgebrei moet word, is die moontlike interaksie wat dié aalwurm met ander grond-oorgedraagde plantsiektes kan hê. Testa-aalwurms wat uit die oorspronklike monster onttrek is, het inderdaad met twee swamme waarvan die spore aan die aalwurm se gesig vasgeklou het, voorgekom (Figuur 2). Die swamme is geïdentifiseer as Thievaliopsis basicola (veroorsaak swart peulvrot) en Neocosmospora vasinfecta (Figuur 3).


Laasgenoemde is ’n plantpatogeen, maar dit is ook in rare gevalle in staat om mense met verswakte immuunstelsels aan te val. Die moontlikheid dat testa-aalwurm hierdie tipe swamme, insluitende die swamme wat aflatoksiene produseer, kan oordra na plante toe of inderdaad daarmee geassosieer word, is hoogs waarskynlik, maar dit moet nog deeglik ondersoek word.
Die pad vorentoe
Testa-aalwurm is beslis ’n rampokker wat die potensiaal het om die hele grondboonbedryf te kniehalter. Gelukkig is dit skynbaar nog nie oral in die grondboon-produksiegebied nie.
Die volgende stap in hierdie pes se bestryding, is om presies te bepaal waar dit oral voorkom. Monsters sal in die winter in verskeie gebiede geneem moet word om te bepaal of testa-aalwurm teenwoordig is of nie. Met dié inligting kan bepaal word watter beheermaatreëls ingestel moet word.
Bronnelys
- Fourie H, Mc Donald AH, Steenkamp S & De Waele D, 2017. Nematode pests of leguminous and oilseed crops. In: Fourie H, Spaull W, Jones RK, Daneel MS & De Waele D (eds), Nematology in South Africa: A view from the 21st century. Springer International Publishing, Switzerland. pp 201-230
- Steenkamp S, 2022. The war against the pod nematode, Ditylenchus africanus, on groundnut in South Africa. In: Sikora A, Desaeger J & Molendijk LPG (eds), Integrated nematode management. State-of-the-art and visions for the future. Cab International, Wallingford, UK. pp152-156
- Timper P, Dickson DW & Steenkamp S, 2018. Nematode parasites of groundnut. In: Sikora RA, Coyne D, Hallmann J & Timper P (eds), Plant-parasitic nematodes in subtropical and tropical agriculture. Cab International, Wallingford, UK. pp 411-445