Die versuring van grond en gevolglike probleme vererger as kalk nie reg toegedien word nie. Uiteraard is dit ook problematies as kalk in verkeerde hoeveelhede toegedien word. ’n Ontledingsprojek deur die kalkverskaffer Bastion, wat oor 16 jaar gestrek het, het skokkende resultate gelewer wat die belangrikheid van die korrekte kalktoediening beklemtoon.
Data wat deur Bastion ingesamel is, toon dat die pH in bogronde met 4% gedaal het en die suurversadigingspersentasie met 85% toegeneem het. Ander resultate het gewys dat die kalsiumvlakke in die bogrond met 16% gedaal het en die magnesiumvlakke ’n afname van ongeveer 20% gewys het. Dit is alles bewyse dat die grond waarop produsente boer suurder word namate die seisoen vorder. Dus moet dringende stappe geneem word om toe te sien dat landbougronde volgens hulle kalkbehoefte bekalk word.
Wat is kalk?
Die kalk wat oorwegend in landbouproduksie gebruik word, staan ook bekend as kalsiumkarbonaat (CaCO3). Dit is ’n natuurlike mineraal wat algemeen in die landboubedryf gebruik word om die pH-balans van grond te verbeter.
Dit is ’n baie fyn wit poeier of korrels wat in water opgelos kan word. Landboukalk word gewoonlik geproduseer deur die maal en vergruis van kalksteen of dolomietgesteentes, wat dan op die landerye versprei word.
Daar is twee algemene tipes landboukalk wat gebruik word:
- Kalsiet: Dit bestaan hoofsaaklik uit kalsiumkarbonaat en word gebruik om die pH van suur grond te verhoog.
- Dolomitiese kalk: Dit is ’n mengsel van kalsiumkarbonaat en magnesiumkarbonaat. Dolomitiese kalk word gewoonlik gebruik wanneer die pH verhoog wil word in ’n grond wat ’n tekort aan beide kalsium en magnesium het (Foto 1).
Die regte tipe kalk wat uitgestrooi gaan word, hang af van die grond se spesifieke behoefte en die gewasse wat verbou word. Voor die toediening van landboukalk is dit altyd raadsaam om ’n grondontleding uit te voer om die pH-balans en mineralesamestelling van die grond te bepaal. Hierdie inligting kan dan gebruik word om die regte hoeveelheid en tipe kalk vir die spesifieke toestande te kies.
Werking van kalk
Kalk, in die vorm van kalsiumkarbonaat (CaCO3), bind in die grond deur ’n proses wat bekendstaan
as neutralisasie. Hierdie proses behels die reaksie van kalk met suur in die grond, wat lei tot die vorming van water, koolstofdioksied (CO2), en ’n neutrale oplossing van kalsiumione (Ca2+) en karbonaat-ione (CO3-).
Die reaksie wat plaasvind wanneer kalk in die grond toegedien word, kan soos volg beskryf word:
CaCO3 (kalk) + 2H+ (suur) -> Ca2+ (kalsiumione) + H2O (water) + CO2 (koolstofdioksied) (Figuur 1).

Hierdie reaksie demonstreer hoe kalk funksioneer om suurheid in die grond te neutraliseer. Die kalsiumione wat deur hierdie reaksie vrygestel word, kan dan verder reageer met ander grondkomponente en word beskikbaar vir plante om op te neem.
Die proses van kalkbinding in die grond is ’n dinamiese proses, wat ook beïnvloed word deur faktore soos die hoeveelheid kalk wat toegedien word, die tipe grond, die pH van die grond en die tempo van chemiese reaksies in die grond. Kalk reageer met suur om die grond se pH te verhoog, en die mate van binding sal afhang van die spesifieke omstandighede in elke grondtipe.
In ’n neutedop bind kalk in die grond deur ’n chemiese reaksie met suur, wat lei tot die vorming van neutrale stowwe en ’n verhoging in die pH. Hierdie verhoogde pH skep ’n gesonder omgewing vir plante deur die beskikbaarheid van voedingstowwe te verbeter en die skadelike uitwerking van suurheid te verminder.
Belangrikheid van kalk
Die bekalking van grond is ’n belangrike praktyk in die landboubedryf om die grondgesondheid te verbeter en optimale toestande vir die groei van plante te verseker.
Redes waarom bekalking van grond noodsaaklik is, sluit in:
- Neutralisering van suurheid: Baie gronde word oor tyd suur as gevolg van verskeie faktore soos neerslag, die uitwas van voedingstowwe en die afbreking van organiese materiaal. Suur grond kan die beskikbaarheid van belangrike voedingstowwe vir plante belemmer. Kalk help om suurheid in die grond te neutraliseer deur die pH-balans te verhoog, wat ’n meer geskikte omgewing vir plante skep.
- Beskikbaarheid van voedingstowwe in grond: ’n Gesonde pH in die grond is noodsaaklik vir die opname van voedingstowwe deur plante. Kalk verhoog die beskikbaarheid van belangrike voedingstowwe soos stikstof, fosfor en kalium deur die grond se pH-balans te verbeter.
- Voorkoming van aluminiumtoksisiteit: In suur grond kan aluminiumtoksisiteit ’n probleem vir plante wees. Kalk reageer met aluminium in die grond en verminder die toksiese uitwerking daarvan op plante, wat die gesondheid en groei van plante bevorder.
- Beheer van grondgehalte: Kalk is ’n bron van kalsium en magnesium, wat noodsaaklike voedingstowwe vir plante is. Die aanvulling van hierdie voedingstowwe dra by tot die handhawing van ’n gebalanseerde grondsamestelling, wat nodig is vir gesonde gewasgroei.
- Onderdrukking van onkruide: Baie onkruide wat in lande voorkom, floreer in suurgronde, byvoorbeeld die geeluintjie. Die onkruide het dikwels ook allelopatiese eienskappe. Bekalking sal help om onkruide wat van suurgronde hou, te onderdruk en die gewas te bevoordeel.
Soos deur proewe bewys, beweeg kalk nie in die grond nie. Om die volle werking van die toegediende kalk te verseker, moet dit dus ten minste 20 cm tot 25 cm diep in die grond ingewerk word. Dit word aanbeveel om die kalk eers in te sny en dan in te ploeg.
Grondontledings is baie belangrik om te bepaal hoeveel kalk nodig is en ook om te bepaal watter tipe kalk toegedien moet word. Verder word dit aanbeveel om monsters op ’n ruitstelsel van 1 ha of 2 ha te neem. Die aanbevole tipe en hoeveelheid kalk kan dan met presisiestrooiers gestrooi word. So word baie geld gespaar, aangesien die kalk slegs op die kolle op die land wat dit nodig het, gestrooi word (Foto 2).

(Bron: https://www.kilsaran.ie/product/gro-lime/)
Samevatting
Bekalking kan die gesondheid en vrugbaarheid van grond bevorder, wat sal lei tot beter groei en hoër gewasopbrengste. Die regte bekalkingspraktyk wat gebaseer is op grondontledings en die spesifieke behoeftes van die grond, sowel as die gewasse wat verbou word, behoort altyd gevolg te word.
Té veel kalk is ook nie goed nie en kan nie nét op die grondgesondheid en die groei van plante ’n nadelige effek hê nie, maar ook op die produsent se finansiële welstand.
Dit is dus noodsaaklik om die korrekte hoeveelheid kalk asook die regte soort kalk te gebruik volgens die spesifieke behoeftes van die grond en die gewasse wat verbou word. Grondontledings en kundige raad kan help om die regte besluite oor die regte hoeveelheid en die regte tipe kalk vir ’n spesifieke landbou-area te neem.
Bronnelys
- Department of Primary Industries and Regional Development, Western Australia (n.d.). Lime quality. Soil acidity. https://www.agric.wa.gov.au/soil-acidity/lime-quality
- Haumann P, sagrainmag. Suurgrond: Behoorlike vermenging van kalk is ’n moet. https://sagrainmag.co.za/2021/08/10/suurgrond-behoorlike-vermenging-van-kalk-is-n-moet/ [10 Augustus 2021]
- Hoffman JE & Van den Berg V. Hoe diep moet kalk in grond in bewerk word? Grondkunde, Universiteit van Stellenbosch. https://www.landbou.com/landbou/kundiges/grondghoeroe/hoe-diep-moet-kalk-in-grond-in-bewerk-word-20180423 [Maart 2017]
- Kilsaran International (n.d.). Gro-Lime. Kilsaran. https://www.kilsaran.ie/product/gro-lime/