Net soos gedurende die 2015/2016-droogte beleef baie produsente die afgelope tyd ernstige vogtekorte en gepaardgaande hittegolwe. Hierdie toestande lei daartoe dat wesenlike skade alreeds aan kontant-gewaslande aangerig is. Behalwe om steeds teen ’n baie lae opbrengs te stroop, is die enigste ander alternatief om die gewasse as voer aan te wend.
Die aanwending van gewasse as veevoer word natuurlik deur die mate van droogteskade bepaal. Dit kan enigiets wees van “jaag die diere in en wei dit af” tot “sny vir kuilvoer”. Die beskikbaarheid van ’n produsent se eie vee sal hierdie keuses bepaal. Produsente sonder vee kan selfs die lande as voer verhuur, maar diegene met vee sal sekerlik eers sorg dat voldoende voorsiening vir hul eie diere gemaak is. Elke individuele situasie is uniek en beramings sal van plaas tot plaas verskil.
Mielies (en ander grane) sal weens verskillende plantdatums en bewerkingspraktyke, asook weens verskillende liggings, tot ’n meerdere of mindere mate deur die droogte beïnvloed word. Die hoeveelheid graan wat moontlik gestroop sou kon word en die heersende graanpryse moet dus vir dié besluit in berekening gebring word.
In die vergelyking van verskillende aanwendingsopsies met droogtegeteisterde graan, word die koste van produksie nie ingesluit nie, want dit is reeds aangegaan en kan nie meer verhaal word nie.
Stroop
Dit is moontlik dat die hoeveelheid graan die stroopkoste oorskry, in welke geval stroop die beste opsie sal wees. Waar mielies gestroop word, is die beskikbare oesreste ’n bykomende voordeel om te help om die vee te oorwinter.
NWK se bedryfstakbegrotings vir die 2023/2024-produksieseisoen dui die stroopkoste van mielies aan as R949/ha, teen ’n graanopbrengs van 3 t/ha tot 4 t/ha in die hoofmielieproduserende area van NWK se bedieningsgebied. Hierteenoor beloop die stroopkoste van slegs 1 t/ha graan na beraming sowat R860.
Die huidige geelmielieprys wat in Lichtenburg realiseer, is R3 720/t (Safex, 29 Februarie 2024). Daar is natuurlik bykomende koste, soos vervoer na die silo, maar die inkomste oortref minstens die stroopkoste met sowat R2 860/ha.
Daarmee saam kan 1 ha se oesreste sowat 1,5 beeste vir ’n maand van voer voorsien. Hierteenoor sou aangekoopte grashooi, as alternatief vir die oesreste, sowat R1 013 per maand vir die 1,5 beeste gekos het. Smutsvingergras word tans geadverteer teen R1 500/t hooi. Hierdie besparing saam met die wins bo stroopkoste beloop dus R3 873/ha. Die beraamde inkomste vanaf die beeste, asook die verliese aan insetkoste van die mielies, word nie hierin verreken nie.
Staande hooi
Mielies kan alternatiewelik as staande hooi op die land gelaat word om in die winter bewei te word. Waar ’n redelike hoeveelheid materiaal beskikbaar is, kan ongeveer drie beeste vir ’n maand op die mielies gehou word.
As mielies net deur beeste bewei word, is daar egter heelwat vermorsing en maak dit die inbring van skape die moeite werd. Wees egter waaksaam teen suurpens in die geval van mielies waar daar nog graan saam met die plante beskikbaar is.
Diere moet vooraf oor ’n tydperk van tien tot 14 dae aangepas word deur daagliks die weityd te verleng. Dié praktyk word tipies met skape toegepas. Waar beeste gebruik word, is dit raadsaam om skape saam met die beeste of later in te bring om graan wat op die grond geval het te benut (Botha & Van Pletzen, 2015).
Die beweiding van staande mielies is ’n goedkoop alternatief. Bykomende koste sluit die voorsiening van ’n winterlek, verkieslik een wat ’n buffer bevat (Botha & Van Pletzen, 2015), in. Sulke lekke is in die handel beskikbaar. Bespreek dit gerus met jou veevoerverteenwoordiger of plaaslike landboumaatskappy.
Volgens Van Zyl & Mouton (2015) kan lammers vanaf 27 kg tot ’n slaggewig van 43 kg op sulke mielie-staandehooi geneem word. Sowat tien lammers kan afgerond word vir elke een ton graan wat op só ’n land beskikbaar is.
Heelplantmielies sonder koppe bevat ongeveer 85% droëmateriaal (DM), 10,8% ruproteïen en 6,9 MJ metaboliseerbare energie. Daarby is die voerbehoefte van ’n gemiddelde raam droë koei ongeveer 12 kg DM per dag. Die tipe ruvoer en sy DM-inhoud sal dus bepaal hoeveel so ’n koei van die voer per dag sal benodig. In hierdie geval, teen ’n 85% DM-inhoud, sal die koei hierbo dus sowat 14,1 kg voer per dag benodig.
Die aantal diere wat op sulke mielies gedra kan word, kan soos volg bereken word:
a. Hoeveelheid materiaal beskikbaar
Maak ’n beraming van die hoeveelheid materiaal op ’n land deur gedeeltes van die rye (bv. 10 m) op ’n paar verteenwoordigende plekke te sny en te weeg. Die rywydte sal bepaal wat die totale lengte van die rye op ’n hektaar is. Byvoorbeeld, indien daar in 90 cm rye geplant is, behoort daar 111 rye/ha te wees, elk 100 m lank. Indien die gemiddelde gewig van die materiaal byvoorbeeld 10 kg/10 m (of 1 kg/m) is, sal die gemiddelde hoeveelheid materiaal dus 11,1 t/ha wees. Dit is dan ekwivalent aan 9,4 t DM/ha (teen 85% DM).
b. Drakrag-berekening
Soos hierbo genoem, word 14,1 kg DM per dier per dag benodig. Daar is dus in die voorbeeld hierbo 667 weidae per hektaar beskikbaar. Hierdie weidae kan volgens behoefte aangewend word. Een produsent kan sê hy wil vir 90 dae daarmee deurkom. Hy sal dus 7,4 koeie/ha vir die 90 dae daar kan dra. ’n Volgende produsent kan sê hy wil 100 koeie daar dra. Hy sal dus sy 100 koeie vir sowat sewe dae op een hektaar kan dra. Dit is duidelik dat elke produsent hier sy eie berekenings moet maak.
c. Vermorsing
Daar kan, afhangend van omstandighede, redelike hoeveelhede vermorsing voorkom. Verliese kom hoofsaaklik voor weens verwering en wind, asook vertrapping. Die uitwerking hiervan vererger natuurlik oor tyd en dit is dus raadsaam om nie die materiaal vir te lank op die land te laat staan voordat dit bewei word nie. Indien dit nie moontlik is nie, moet die voer eerder op ’n ander manier geberg word. Neem nietemin in ag dat daar tot soveel as 50% vermorsing kan voorkom.
Nitraatvergiftiging
Hoppe & Meehan (2024) dui aan dat verskeie kontantgewasse onder beweiding tot nitraatvergiftiging by herkouers kan lei. Droogtegeteisterde gewasse is nie hiervan uitgesluit nie en produsente moet op hul hoede wees, veral aan die begin van die weiperiode.
In die geval van Hoppe & Meehan (2024) het hawer, gars en mielies die grootste bydrae tot vrektes weens vergiftiging gemaak. Selfs gesnyde materiaal (bv. stoekmielies of mieliehooi) kan hierdie risiko inhou. Slegs in die geval van inkuiling word die nitraatvlakke noemenswaardig verlaag.
Waar produsente die gebruik van heel mielieplante oorweeg, behoort die plante se nitraatinhoud vooraf ontleed te word. Die hoogste konsentrasies nitraat kom in die onderste 15 cm tot 20 cm van die plant voor. Probeer dus om bokant hierdie hoogtes te sny om die risiko te verlaag.
Kuilvoer
’n Beter alternatief om die voedingswaarde te bewaar, is die inkuiling van die gewas. Die oorweging mag dalk juis wees om die gewas op te berg en nie dadelik te gebruik nie. Onthou egter dat droogtemielies min of geen graan bevat nie en daarom nie goeie gehalte kuilvoer maak nie.
Te min energie weens ’n lae graaninhoud veroorsaak dat die fermentasieproses vir preservering minder suksesvol voltooi word. Sulke kuilvoer moet gewoonlik tydens inkuiling met ’n energiebron soos mieliemeel of melassestroop aangevul word, wat weer die koste van ’n reeds minderwaardige kuilvoer verder verhoog.
Die kerfkoste van mieliekuilvoer (met eie toerusting) beloop reeds R1 672/ha (brandstof ingesluit). Ander koste soos seile, vervoer, kompaktering en arbeid is nie hierby ingesluit nie. Dit maak die inkuil van ’n minderwaardige voerbron net al hoe duurder. Verder moet hierdie kuilvoer, weens die verlaagde gehalte, verkieslik in dieselfde jaar reeds benut word.
Dit is egter moontlik om soveel as ses beeste vir ’n maand te voer met 1 ha se mieliekuilvoer, mits daar ’n redelike hoeveelheid op die land beskikbaar was met inkuiling (Van Zyl & Mouton, 2015).
Groengekerfde mielies (greenchop)
Plante kan ook, terwyl hulle nog tot ’n mate groen is, op ’n daaglikse basis gesny, gekerf en aan diere gevoer word. Hier kan daar ook, soos met kuilvoer, ongeveer ses beeste vir een maand lank versorg word. Dit sal natuurlik slegs oor ’n kort vensterperiode beskikbaar wees totdat die plante te droog raak.
Die voordeel hiervan is dat die voergehalte beter is as waar die gewas as staande hooi geberg word. Die oorweging sal weereens wees op watter stadium die voer benodig of gebruik gaan word.
Stoekmielies
As alternatief het produsente in die verlede stoekmielies gesny, gepak en gemaal. Daar is egter min voordele met hierdie praktyk teenoor om die land net later as staande mielies te bewei. Een hektaar stoekmielies kan aan sowat drie tot vier beeste vir ’n maand lank kos voorsien.
Die arbeids- en maalkoste van stoekmielies oorskry egter die landverwering en verlaagde gehalte wat by mielie-staandehooi mag voorkom.
Sny en baal
Die gewas se beskikbare materiaal kan ook gebaal word. Die bykomende koste van sny, hark en baal moet egter opgeweeg word teenoor die opsie om dit net te bewei.
Meganisasiekoste het die afgelope tyd in só ’n mate verhoog dat enige aksie wat daarmee gepaardgaan deeglik opgeweeg moet word teen die gehalte van die voer wat verkry word, asook die behoefte om die voer op te berg om later te gebruik.

Samevatting
Droogtes is ’n realiteit in gewasproduksie en produsente kom van tyd tot tyd te staan voor ongemaklike besluite oor die pad wat met verdroogde aanplantings gevolg moet word. Die benutting van hierdie materiaal met diere bied gelukkig ’n uitkoms om steeds ’n inkomste te verkry, hetsy deur die gewas self met jou eie diere te benut of die materiaal te bemark.
Bronnelys
- Botha P & Van Pletzen H, 2015. Riglyne vir die benutting van verdroogde graangewasse en oesreste. SA Graan/Grain
- Hoppe K & Meehan M, 2024. Beware of nitrate poisoning in livestock. North Dakota State University. [https://www.ndsu.edu/agriculture/ag-hub/ag-topics/livestock/nutrition-and-feeding/beware-nitrate-poisoning-livestock]
- Van Zyl B & Mouton J, 2015. Drought-ridden maize as feed. Farmer’s Weekly, 27 March 2015