Hoewel NWK Graan danksy goeie graanopbrengste puik presteer het in die 2023/2024 finansiële jaar, het daar vanjaar slegs 58% van NWK se begrote graanontvangstes gerealiseer. Dit behoort ‘n wesenlike impak op NWK Graan se finansiële prestasie in die 2024/2025 finansiële jaar te hê.
NWK se algemene jaarvergadering is op Vrydag, 30 Augustus, by sy opleidingsentrum in Lichtenburg gehou, waar die groep se finansiële resultate onder andere toegelig is.
El Niño-weerverskynsel kniehalter graanoeste
Jaco du Rand, senior bestuurder van NWK Graan, het by die inligtingsvergaderings, wat die jaarvergadering voorafgegaan het, onthul dat slegs 31% van NWK se bunkers vanjaar benut is. “Ons het die afgelope paar jaar 152 000 ton se kapasiteit in bunkers geskep en vanjaar slegs 31% daarvan benut. Slegs 47 000 ton is dus in bunkers gestoor. By Ottosdal sit ons gewoonlik tussen 60 000 ton en 65 000 ton (graan) in silosakke, en vanjaar was daar nul.”
Die leweringstempo was traag. Waar daar in 2023 tot 45 000 ton graan per dag ingeneem is, was dit vanjaar slegs 15 000 ton per dag. Lewerings in Mei 2024 het goed vergelyk met dié van verlede jaar, maar teen Junie noemenswaardig afgeneem.
Sowat 50% van die begrote opbrengs wit- en geelmielies is ontvang. “Waar ons altyd tot 300 000 ton van elders aangekoop het, het ons vanjaar skaars by 50 000 ton uitgekom,” het Jaco gesê. Uitvoere na Namibië was baie sterk, asook na Zimbabwe.
Sonneblom-ontvangstes was goed, met 94% van die geskatte hoeveelheid wat gerealiseer het. Slegs 28% van die geskatte hoeveelheid sojabone is egter ontvang.
Omset styg, maar produsente trek rieme styf
Hoewel NWK se omset met 20% gestyg het (R5 856 miljoen in 2023/2024 teenoor R4 870 miljoen in 2022/2023), het die wins ná belasting met 13% gedaal (R246 miljoen in 2023/2024 teenoor R283 miljoen in 2022/2023).
Theo Rabe, groephoof- uitvoerende beampte, het die onderskeie redes vir die daling in wins toegelig. Epko, die sonneblomoliepers wat weer ten volle in NWK se besit is, is in Augustus en Oktober 2023 deur munisipale kragonderbrekings lamgelê en kon vir bykans agt weke lank nie produseer nie. Epko het dus slegs R9 miljoen wins gegenereer, teenoor die vorige jaar se R41 miljoen. “Die vaste koste by Epko beloop tot R7 miljoen per maand. Salarisse moet steeds betaal word, al kan ons nie produseer nie,” het Theo verduidelik.

NWK Meganisasie het die finansiële jaar afgesluit met ‘n verlies van R26 miljoen, teenoor die vorige jaar se wins van R6 miljoen. “Tydens die Covid-19-pandemie moes ons toesien dat ons genoegsame voorraad het. Tesame met die vorige jaar se droogte… Ons het te veel voorraad en moes dit teen ‘n realistiese markwaarde afskryf. Ons het hierdie afskrywings eerder konserwatief gedoen as wat ons voorraad teen té hoë waardes hou,” het hy bygevoeg.
In 2022 is daar wêreldwyd glifosaattekorte gevrees en Midchem het gevolglik ‘n groot hoeveelheid aangekoop. Produsente het dit egter op hulle beurt nie aangekoop soos verwag nie, en weens drastiese prysdalings moes prysaanpassings na netto realiseerbare waardes gedoen word. Dit het tot ‘n verlies van R23 miljoen gelei.
NWK se Kleinhandelsegment het ook ervaar dat produsente hul beursies styf vashou weens die droogte. “Dit is hoe ons oorleef hier in die weste – deur ‘n konserwatiewe benadering te volg,” het Theo gesê. Die segment se wins het met R36 miljoen gedaal van R98 miljoen in 2022/2023 tot R62 miljoen in 2023/2024.
NWK moes ook R18 miljoen opdok aan diesel vir kragopwekkers by sy onderskeie bedryfspunte.
“Ons is ‘n maatskappy met die vermoë om in goeie landboujare R500 miljoen vóór belasting te kan maak. Ek is oortuig dat, as ons weer goeie seisoene kan kry, die nuwe bestuurspan hierdie teikens kan haal,” het Theo benadruk.

Goeie finansiële prestasie ondanks die droogte
Pieter Kleingeld, wat binnekort by Theo oorneem as groephoof- uitvoerende beampte van NWK, het verder uitgebrei op NWK se finansiële resultate in 2023/2024. Vaste bates het die afgelope vyf jaar met 50% gegroei. “Dit word weerspieël in ‘n suksesvolle groeistrategie,” het hy gesê.

Bedryfsbates (voorraad en debiteure) het die afgelope vyf jaar meer as verdubbel (R4 626 miljoen in 2024 teen R1 956 miljoen in 2020). “Dit is danksy geografiese uitbreiding en goeie oeste wat die afgelope vier jaar gerealiseer het. Die totale bates het ook meer as verdubbel in dié tydperk en lê ’n goeie grondslag om ordentlike resultate in die toekoms te behaal.”
Pieter het verder uitgebrei op NWK se finansiële resultate in 2023/2024. Korporatiewe transaksies – soos die terugkoop van aandele van Grindrod en aandeelhouers van 70 jaar en ouer – kan as dividende beskou word. Hoewel dit die ekwiteit verminder, verhoog dit die aandeleprys en ontsluit dit dus waarde.
NWK se ekwiteitsverhouding (verhouding van bates tot laste) is tans 34% en redelik konstant. “Die maatskappy se interne doelwit is om dit tussen 45% en 55% te hou. Dit is egter tans só laag omdat kommoditeitsvoorraad (graan) by die bedryfsbates ingesluit is. Dit word namens kopers gehou en lê dus op die balansstaat. Dit word verskaf soos kopers dit benodig en het ‘n wesenlike impak. Kommoditeitsfinansiering word dus by bedryfslaste ingesluit en het die 34% tot gevolg.
“As ons dit van die balansstaat verwyder, sal hierdie syfer 46% wees. Ons is redelik konserwatief, maar ons produsente sal verstaan dat, gegewe die afgelope seisoen se droogte, ons hier in die weste meer konserwatief moet boer as diegene wat meer gereelde oeste kry,” het Pieter verduidelik en benadruk dat NWK se balansstaat dus gesond is.
Landboukommoditeite (NWK Graan) het in 2023/2024 altesaam R241 miljoen gegenereer, teenoor R183 miljoen in 2022/2023. “Vir die jaar wat voorlê, verwag ons ‘n redelike afname in hierdie syfer,” het Pieter gewaarsku.
Die verhandelingslikiditeit van aandele is tans 3,2% – die laagste in vyf jaar. “Wat dit selfs méér kommerwekkend maak, is dat 77% van die afgelope jaar se verhandeling deur die trust van NWK se Lojaliteitsprogram onderneem is,” het Pieter gesê. “Bykans 700 000 aandele is tussen aandeelhouers verhandel en sowat 25% hiervan is aandele wat deur direkteure gekoop is.”
Daar is dus heelwat verkopers in die mark, maar nie baie kopers nie. “Hulle besef dus moontlik nie die waarde van hierdie aandele nie,” het Pieter gesê. Hy het aandeelhouers aangemoedig om by die maatskappy betrokke te wees ten einde die waarde van aandele te ontsluit.
Kliek hier om meer van NWK se finansiële resultate te lees.

Nuwe bestuurstruktuur aangekondig
PERSONEEL
Alfred White het op 2 September as groephoof- finansiële beampte by NWK begin en neem hierdie portefeulje by Pieter oor.
Dries van Tonder (voorheen groepbestuurder van NWK Finansies) is bevorder tot hoof- inligtingsbeampte by NWK.
“Ons is in ‘n tyd wat tegnologie, veral aan die rekenaarkant, ‘n baie groot rol in die toekoms gaan speel. Ons moenie onkant gevang word nie. E-handel raak groot en ons moet baie aandag hieraan gee. Die direksie het dit daarom goedgedink om hierdie pos te skep,” het Theo verduidelik. Dries se pos gaan nie gevul word nie, maar ‘n operasionele bestuurder van NWK Finansies gaan later aangestel word.
Bertus Jacobs het op 1 Mei as senior bestuurder van NWK Handel begin en oorgeneem by Pieter Coetzer, wat op 31 Julie afgetree het.
DIREKTEURE
Daar is ook twee nuwe direkteure by die jaarvergadering verwelkom. Herman du Preez is verkies tot direkteur van wyk 1 (Lichtenburg-omgewing) en neem oor by Julius Mahne, wat uitgetree het ná hy 17 jaar op NWK se direksie gedien het.

Franco Smith is ‘n nie-wyksdirekteur en boer in die Derby-omgewing. Hy is deur die direksie aangestel omdat hy ook ‘n geoktrooieerde rekenmeester is – ‘n kwalifikasie wat hom ideaal maak om op die oudit- en risikokomitee te dien.
