NWK se nuwe groephoof- finansiële beampte vind aanklank by die maatskappy se karakter en die feit dat dit klante deurlopend probeer bemagtig om sukses te bereik. “Hoe meer suksesvol NWK se klante is, hoe meer sukses smaak die hele landboubedryf en dit is tot almal se voordeel,” meen Alfred White (48).
Hy het op 2 September by NWK in sy nuwe amp begin nadat hy deur die jare verskeie posisies by Senwes beklee het.
Moenie dat die Engelse name jou flous nie
Toe Alfred se aanstelling in Julie aan NWK se werknemers bekendgemaak is, het baie hardop gewonder hoe ’n “rou Engelsman” dan hier, waar die meerderheid kollegas se huistaal Afrikaans is, sou aard.
Alfred het in Newcastle in KwaZulu-Natal grootgeword en was in ’n tweetalige skool. Hy voeg by dat hy “baie Afrikaans” is en spot dat die familienaam, Alfred James White, waarskynlik gaan uitsterf omdat hy net drie dogters het.
Hy het ’n B.Com.-graad in rekenmeesterskap by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus verwerf, waarna hy ’n hoër diploma in ouditkunde by Unisa voltooi het.
Hy het sy klerkskap by PWC in Klerksdorp voltooi. Twee van hierdie ouditeursfirma se groot kliënte waarmee hy gewerk het, was Senwes en die destydse Klerksdorp Mediese Bystandsvereniging (KDM), ’n geslote mediese fonds in die omgewing.
Die toekoms is waar geleenthede is
Sy vrou, Annabellé, het aptekerswese by NWU studeer en hulle het saam by bogenoemde onderneming gewerk voordat hy in 2003 by Senwes se graanafdeling as bedryfsrekenmeester begin werk het.
Die egpaar se oudste dogter is in dieselfde jaar gebore. Annabellé moes dikwels laat werk, asook naweke, en hulle wou graag meer gesamentlike familietyd hê.
“Ironies kon net die stad dit vir ons bied,” sê Alfred. Die gesin het in 2005 na Sandton verhuis, waar Annabellé by ’n farmaseutiese groothandelaar gewerk het.
Die onderneming is deur ’n familie van Libanon bedryf en hulle het Alfred in 2006 genader om as finansiële bestuurder vir hulle te werk. “Die pa’s in die familie was ’n tweeling. Hulle het vir my gesê dat ek vir hulle moes kom werk as ek wou weet hoe ’n besigheid werk. Hulle was entrepreneurs wat alles self gedoen het. Go-getters wat nie geskroom het om hul moue op te rol nie. Dit het my vreeslik gefassineer,” onthou Alfred.
Hy gesels weer oor die tyd toe hy sy klerkskap voltooi het. “Ek het eintlik nie geweet wat ek geswot het nie,” glimlag hy. “Ek het klaargemaak met my articles en besef ek hou nie van roetine en om terug te kyk nie. ’n Onlangse persoonlikheidstoets het my as ’n enthusiastic visionary bestempel en dit is absoluut wat ek is. Jy leer uit die verlede, maar jy moenie daarby vashaak nie. Die toekoms bied altyd geleenthede.”
Alfred leer sy drie dogters om nooit te sê: “Ek kan nie.” Hy haal ’n liriek uit die liedjie Stilte van Die Heuwels Fantasties aan: “Mense het hul grense self uitgedink.”
Die Whites se tweede dogter is in 2007 gebore en die onderneming waar Alfred gewerk het, het na “die middel van die stad” geskuif. Hy moes ure lank per dag in swaar verkeer sit en het min gehaltetyd saam met sy tweede dogter gehad.
’n Dapper skuif wat hom duur lesse sou leer
Senwes het hom weer genader met ’n geleentheid en die gesin is in 2008 terug na Klerksdorp, waar Alfred by die graanafdeling as kontrolebestuurder gewerk het. Hy is kort hierna bevorder tot groep- interne oudit- en risikobestuurder en het dié posisie tot 2010 beklee.
KDM het Alfred en Annabellé genader om die apteekgroep van die onderneming te koop. “Op daardie stadium het die doel van my werk by KDM jare tevore duidelik geword,” vertel Alfred. Dit was iets waaroor beide hy en Annabellé passievol was en hulle het die geleentheid aangegryp.
Hy gaan draai by sy studentedae, toe hy eendag ’n Jamaikaanse koffie by Die Akker-koffiewinkel in Potchefstroom bestel het. Die volgende boodskap was op sy suikersakkie: “We regret the things in life the most, we did not do.”
Alfred verduidelik: “As jy ’n besluit in geloof neem en 100% gee, gaan jy nie spyt wees nie. Dit beteken nie jy gaan nie verkeerde besluite neem nie, maar dit (verkeerde besluite) bring jou voor die volgende besluit.”
Die Whites sou egter ontnugter word. “Dit was toe nie so maklik nie. Ons het die een mislukking na die volgende beleef en ek moes dáár die groter rol van verantwoordelikheid leer. Ons moes herstruktureer en mense aflê.”
Alfred is passievol oor driekamp en het verlede jaar sy eerste halfysterman voltooi. Hy het juis sy liefde vir fietsry ontdek in ’n tyd toe hy afleggings moes deurvoer.
“Dis ’n baie eensame paadjie om te stap en jy begin selfvertroue verloor. Ek het nodig gehad om myself te vind.” Alfred het begin fietsry en toewyding tot dié sport het vir hom baie betekenis gekry.
Die egpaar kon gelukkig die skip draai en het hul belange in 2019 aan die Arrie Nel-apteekgroep verkoop. Alfred het egter reeds in 2014 besef dat enige verdere uitbreiding van KDM bloot regulatories sou wees en het intussen weer by Senwes aangesluit.
IT-ervaring kom toevallig
In 2015 is Alfred as groep- uitvoerende bestuurder van Senwes se IT-afdeling aangestel. “Ek is tegnies een van die slegste mense wat daar is! My vrou stel ons rekenaars en drukkers by die huis op,” lag hy.
Alfred is egter mal oor formules uitwerk en kon homself só op Excel help. Hy moes in sy loopbaan lêerdefinisies skryf, stelsels implementeer en integrasies bou. Hy is dankbaar dat Senwes dié innovasie in hom raakgesien en hom die geleentheid gegun het om hul IT-afdeling te bestuur.
“Ek het dáár geleer dat baie jongmense hulself probeer differensieer deur soveel moontlik verantwoordelikheid te aanvaar en alles self te doen. Dan word niemand om jou egter bemagtig nie,” maan Alfred.
“Omdat ek tegnies nie sterk is nie, kan ek mense bemagtig. My bydrae tot Senwes se IT-afdeling was baie meer as om finansiële oorsig te bied en ek het eerder gevra waarom dinge op sekere maniere gedoen word.”
Hy haal die swemster, Penny Heyns, aan: “A goal not written down is only a dream.” Hy voeg by: “As jy nie ’n aksieplan het nie, bly dit net ’n wens. Ek het ’n visie gehad van wat ek gedink het Senwes se IT moet wees, dit aan die direksie voorgelê en hulle het my aangemoedig om dit te verwesenlik.”
Hoekom dan NWK?
Alfred benadruk dat hy aan die voorpunt van besluitneming wil wees en is oortuig dat hy dit by NWK sal vind. Hy wys die voorlegging wat hy vir sy onderhoud by NWK saamgestel het. Die eerste skyfie lui: “Harmonie in landbou.”
Hy beduie: “As jy na die organogram by NWK kyk… Dis lyntjies wat aanmekaar gekoppel is en saamwerk sodat die collective suksesvol kan wees. Almal is relevant op ’n sekere tyd en plek.
“Die Skepper het elke seisoen perfek vir ons gegee. Almal is deel van daardie uitvoerende produksie. Of jy in bemarking is, finansies, ’n agronoom of produsent. Op die ou end is almal daar om ’n bydrae te lewer sodat iets kan groei. Dis kos.
“Jy moet ’n bestaan kan maak terwyl jy dit doen, maar dis ’n fundamentele Bybelse belofte van versorging. Dis ongelooflik om te dink jy is deel van daardie waardeketting.”
Dis ’n voorreg om diensbaar te wees
Alfred meen een van sy sterkpunte is om ánder mense se hande sterk te maak.
“No man is an island. Ek hou nie daarvan om alles self te doen nie. Ja, om hard te werk en te presteer, maar ek is mal daaroor om te sien hoe mense ontwikkel en hoe ek hulle kan bemagtig om daarby uit te kom.
“Omdat ek ’n analitiese agtergrond het, maar ’n visionêr is, kan ek baie maklik die groter prentjie verstaan en planne en strukture bou om daarby uit te kom.
“Dis ’n ontsettende voorreg om diensbaar te kan wees en al die rolspelers – ongeag of hulle personeel, klante of verskaffers is – te bemagtig om suksesvol deel te neem aan die bereiking van die groter strategie en visie.”
Alfred glo dat deurlopende, duidelike kommunikasie ’n belangrike element hiervan is. “Elkeen wil volgens die verwagting presteer en as dit nie gekommunikeer word nie, gaan dit moontlik nie bereik word nie en dan is daar net teleurstelling.”
Hoewel hy nie van verandering hou nie, streef hy voortdurend daarna. “Jy is nie ondankbaar as jy tevrede is met jou omstandighede nie, maar deur te vra of jy kan verbeter, kry jy voortdurende vernuwing.
“As jy tevrede is met jou werk en die kennis wat jy het, stagneer jy. Dit is ook okay. Nie almal kan bestuurders wees nie. As jy dit egter raaksien, kan jy vra hoe jy kan verbeter en ’n bietjie meer kan doen.
“As NWK die visie het om ’n dinamiese vennoot te wees wat ’n verskil maak, maar tevrede is met sy status quo, sal ons dit nooit kan bereik nie. Ons sal dan nie betrokke raak by ons gemeenskappe nie.”