As voorsitter van Graan SA is Derek Mathews (62) ’n bekende gesig in landboukringe. Dis dalk ’n geykte uitdrukking, maar in Derek se geval is dit beslis waar: “Agter elke suksesvolle man staan ’n suksesvolle vrou.” Hy het daarom nie geskroom om sy vrou van die afgelope 38 jaar, Karin Mathews (60), te nomineer vir die Bayer Boervrou van die Jaar: Boervrou-kategorie nie.
Bayer het die Boervrou van die Jaar-kompetisie bekendgestel om erkenning te gee aan “die vroue wat die ruggraat van ons boerderygemeenskap vorm, hetsy vroue wat met produsente getroud is of vroue wat aan die hoof van ’n boerdery staan”.
Karin is op 16 September as die wenner van die Bayer Boervrou van die Jaar: Boervrou-kategorie gekroon. Sy is met Bayer/Dekalb-produkte, koopbewyse en geskenkboeke deur die Christelike outeur, Milanie Vosloo, beloon.
Glad nie ’n plaasmeisie nie
Karin het in Johannesburg grootgeword en sê sy was “glad nie ’n plaasmeisie nie”. Sy het aan die Potchefstroom High School for Girls gematrikuleer en hierna ’n onderwyskwalifikasie in Johannesburg verwerf.
Sy en Derek het mekaar reeds vanaf hul skooldae geken, maar dit was eers toe Karin hom saam gevra het na ’n 21ste verjaardagpartytjie dat die liefdesvlam begin brand het. “Die res is geskiedenis,” vertel sy.
Derek en Karin het hulle op die Mathews-familieplaas, Silverton, gevestig, waar Derek steeds boer en Karin sy regterhand is.
As ’n meisie van die stad, was dit vir Karin aanvanklik ’n groot aanpassing om 56 km na ’n dorp te moet ry om kruideniersware te koop. “Gelukkig pas ’n mens aan en nou is dit nie meer so erg om ver afstande te ry nie,” sê sy.
Karin dink die openbare siening is grootliks dat ’n lewe op die plaas idillies is. “Baie mense dink dit is ’n rustige lewe sonder enige stres. Jy werk nie regtig nie en dinge gebeur net. Die realiteit is egter dat dit dieselfde is as om enige ander sakeonderneming te bestuur.”
Sy sê as boervrou is dit ook nie altyd maklik om jou man tydens uitmergelende droogtes te ondersteun nie. “Dit is uitdagend om altyd positief te wees. Tog maak ’n boer altyd ’n plan! Ons moet net slimmer boer deur die beskikbare tegnologie en bewerkingspraktyke te gebruik.”
Sy sê dit is danksy die Here se genade dat hulle sulke beproewings oorleef het en sy weet dat, met God se leiding, hulle sal aanhou oorleef en floreer om ’n nalatenskap vir komende generasies te bou.

Uitdagend, maar lekker
Karin het tot met die geboorte van hul oudste dogter, Gail Buys (35), skoolgehou en hierna soos nodig as onderwyseres by ’n plaaslike laerskool afgelos. Derek het ’n paar jaar gelede die boerdery geherstruktureer en Karin was die logiese keuse om twee baie belangrike rolle in die boerderybedryf op te neem. Sy is verantwoordelik vir beide die administrasie en finansiële bestuur van die boerdery.
“Die sakeomgewing is vandag van só ’n aard dat ’n voltydse administrateur absoluut noodsaaklik is. Indien die persoon ook die vermoë het om finansies te bestuur, het jy ’n wenresep. Karin het die nodige staal daarvoor,” verduidelik Derek.
’n Boervrou moet kan aanpas en deursettingsvermoë hê, meen Karin. “Daar is jare wanneer jy elke sent twee keer moet omdraai. Jy oorleef deur nie ’n nuwe voertuig te koop nie, nie op uitspattige vakansies te gaan, nuwe meubels te koop of duur uitstappies te onderneem nie. Jy moet soms bevrediging uitstel.”
Sy herhaal dat ’n boervrou ondersteunend moet wees met ’n positiewe ingesteldheid, al lyk “dinge nie goed nie”. Karin voeg by: “Jy moet buigsaam wees. Soms gebeur dinge op die plaas en jou planne word uitgestel. Dit is nie aangenaam nie, maar dit is wat dit is. Verdraagsaamheid en geduld. ’n Sin vir humor…”
Tog is daar ook lékker tye op die plaas wat die Mathews-gesin nie sommer in ’n dorp of stad sal kan ervaar nie. Karin geniet dit om met die voëltjies se sang in haar ore wakker te word. “En nie die lawaai van verkeer nie!” vertel sy.
Dis vir haar lekker om deur die lande te ry ná ’n lekker bui reën en saam met Derek of hul seun, Michael John (32), in die stroper se kajuit te sit terwyl hulle ’n oes van die lande afhaal.
“Ek geniet dit dat ons kleindogter op ’n Sondag met haar vierwielmotorfiets oor die gras kan ry sonder dat daar bure is wat ons in ag moet neem. Ek geniet die voorreg van spasie om my.”
Karin sê hulle geniet die mooiste sonsondergange op die plaas, wat hulle opnuut laat besef hoe groot God se Skepping is.
Die plaas bly hul tuiste, ten spyte van ’n aanval
Die Mathews-gesin is in Januarie 2020 op hul plaas aangeval, aangerand en beroof. Skandeer kliek op die skakel om meer hieroor te lees.
Vyf mans is kort hierna aangekeer en aangekla, maar later vrygespreek. Karin erken dat dit ná die aanval moeilik was om in die huis te slaap. “’n Mens gaan deur verskillende emosies. Maar jy skep ook ’n nuwe ’normaal’ en met tyd verwerk ’n mens dit. Ons het nooit oorweeg om te emigreer nie! Ons jongste kleinkind, Riley (drie maande), is die sesde generasie op die plaas.”
Hierdie boervrou put inspirasie uit enigiemand wat uitdagings oorbrug. Sy het onlangs ’n boek deur Cobus Visser gelees. Hy ly aan hemofilie (’n seldsame bloedsiekte) en het Kilimanjaro met krukke uitgeklim.
Ook haar eie dogter, Gail, is vir Karin ’n bron van inspirasie. Sy het as kind kanker gehad en bestraling ontvang. Haar oog is beskadig en sy het dit as volwassene laat verwyder. “Sy dra ’n oogklap, maar het nooit toegelaat dat dit haar terughou of weerhou om nuwe dinge te probeer nie. Sy is ’n suksesvolle onkologieverpleegster, ’n vrou en ma wat die lewe omarm!”
’n Ystervrou wat erkenning verdien
Derek het Karin vir die toekenning genomineer en spot dat “om 38 jaar met hom opgeskeep te sit en nooit te kla nie, ’n medalje werd is”.
“Ek is al lank by georganiseerde landbou betrokke en dit neem my baie van die plaas af weg. Min mense besef watter opoffering dit van landbouleiers se families verg wanneer hulle in diens van hulle medeboere staan,” sê Derek.
“Karin het aanvanklik baie van die kinders se sport en ander geleenthede alleen bygewoon omdat ek by een of ander vergadering was. Voordat Michael John hier op die plaas by ons aangesluit het, was Karin my voete op die plaas in my afwesigheid.”
Buiten Gail en Michael John, het die Mathews-egpaar nóg ’n dogter, Megan Smith (29). Hulle kleinkinders is Declan (6), Hailey (4), Mikayla (2) en Riley. Derek beskryf Karin as ’n ontsettende toegewyde ma vir hul drie kinders en hul gades.
“Sy sal altyd hulle en my behoeftes voor haar eie plaas. Sy is ’n ouma duisend vir ons vier kleinkinders – ’n groot bederf. Ek ken nie ’n groter omgeemens as Karin nie en ek eer haar daarvoor. Sy is baie betrokke in die gemeenskap en doen dikwels meer as haar deel. Ek is geseënd.”
Karin is geëerd om die toekenning te ontvang en meen daar moet meer platforms geskep word om aan boervroue die nodige erkenning te gee.