Sowat 20 km noord van Lichtenburg is ’n klein nedersetting met die naam Bakerville. Volgens die 2011-sensus het daar toe 2 441 mense gewoon. Die kleurryke geskiedenis van die dorpie is egter grootliks reeds vergete.
In 1924 was die posmeester se seun, Kosie Voorendyk, en ’n aantal werkers besig om ’n beesdip in die gebied te grawe toe hulle ’n blink klippie raaksien. Kosie het die klippie met groot opgewondenheid na die wetenskaponderwyser, mnr Bosman, geneem vir ’n suurtoets. Dit blyk toe dat die klippie ’n pragtige drie karaat diamant is.
Die Voorendyks het die staatsgeoloog, ene PR Hager, gekontrakteer om die gebied te verken. Ná ’n kortstondige besoek was sy opmerking: “My boy, there are no diamonds on this farm. A bird must have dropped it here.”
Verdere prospektering deur Hager lewer toe binne dae ’n ses karaat diamant op. Die eerste gruiswas daarna lewer 21 diamante en die tweede een 361. Die gebied is teen Februarie 1926 geproklameer en binne ’n jaar was die delwerspopulasie 150 000 mense sterk – met 17 skole, 60 klein ondernemings, ’n hospitaal, verskeie eetplekke, ’n bioskoop, ’n merry-go-round en 250 diamantkopers.
Na bewering is daar diamante met ’n huidige waarde van sowat R10 miljoen per week gevind, maar teen 1928 het die diamantreserwes begin opdroog, diamantpryse het geval en die eerste tekens van die depressie het begin sigbaar raak. Die dorp het stelselmatig leeggeloop.
Een merkwaardige verhaal van dié diamantveld is dié van die Lichtenburgse Rooi Diamant wat hier ontdek is. Die diamantkoper, Houthakker, het die steen vir £2 by ’n delwer gekoop. Max Drukker van ’n Amsterdamse maatskappy, D Drukker & Zn, vertel in die 1970-uitgawe van die International Diamond Annual dat hy en sy vriend, Houthakker, vir sir Ernest Oppenheimer op die Marine Parade in Durban raakgeloop het en hom van die Rooi Diamant se uitkoms vertel het.
Sir Ernest het die rou diamant vroeër onder oë gehad en gemeen dit is net ’n stuk boort, wat nie veel werd is nie, en dat dit opgemaal moes word as slyppoeier. Hy het egter aanbeveel dat dit na die Goudvis Maatskappy in Amsterdam gestuur word.
Die vyf Goudvis-broers het na die steen gekyk en hulle mening was ook dat dit boort is. Die oudste broer het egter gekeer en die steen is verder ondersoek. Met enkele snitte het ’n rooi skynsel onder ’n sterk lig sigbaar geword. Ná ’n verdere sewe maande se noukeurige bestudering en slyping het ’n baie skaars suiwer 5,05 karaat rooi diamant soos ’n druppel bloed sy verskyning gemaak.
Niemand in Amsterdam wou ’n waardering waag nie en die Goudvis-broers was van mening dat dit 100 000 Nederlandse gulden kon behaal. Tiffany’s het op daardie stadium US$100 000 vir die steen aangebied, maar die Goudvis-broers wou meer hê. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die Nazi’s die steen gekonfiskeer en dis weer ná die oorlog aan die Goudvis-nasate terugbesorg deur ’n Amerikaanse generaal McNarney. Die steen is toe per tender vir 57 000 gulden aan ’n makelaar verkoop, waarna die einste Sir Ernest die steen aangekoop het.
Nadat dit oor jare ’n aantal kere van eienaar verwissel het, het die Kazanjian Broers, ’n juweliersmaatskappy, die steen in 2007 by ’n dame in Oos-Asië gekoop, waarna dit herdoop is na die Kazanjian Red Diamond. Dit word nou tydens wêreldwye uitstallings ten bate van fondsinsamelings vir liefdadigheid gebruik.
Dis interessant dat hierdie geskiedenis sy ontstaan gehad het in die Klipveld-gebied noord van Lichtenburg. Dis verder ook bykans komies dat die kundige Hager van mening was dat ’n voël die klippie daar laat val het en dat hy self die ryk diamantfonds kort daarna ontdek het. Die hoogtepunt was egter die feit dat ’n skynbaar waardelose stuk boort ’n seldsame, waardevolle rooi steen opgelewer het wat moontlik steeds die tweede grootste rooi diamant ter wêreld is.
Die les wat ’n mens hieruit leer, is dat iets soms nutteloos mag voorkom, maar met sorg omskep kan word in iets uiters kosbaar. Dit geld dikwels ook vir persone wat aanvanklik nie potensiaal toon nie.
Bronnelys
Ongepubliseerde handgeskrewe vertelling van Max Drukker, datum onbekend.
Wikipedia, Bakerville
Wikipedia, Kazanjian Red Diamond
Arno Janse van Vuuren, Tegniese redakteur