“Dis soos met ’n Springbok-game. ’n Punt is ’n punt en hy het gewen,” lag Willem Vosloo (58) van die Delarey- ville-omgewing oor die feit dat hy met slegs 0,01% tweede geëindig het in die South African Meat Industry Company (Samic) se nasionale karkaskompetisie.
Die wenners van die 27ste aflewering van dié gesogte Samic-kompetisie is op 15 Augustus in Pretoria aangewys. Willem Vosloo boer op die plaas Kyalami en is verlede jaar as die enkel aan die hak-kampioen by NWK Retail se Slaglamskou gekroon. Hy het vanjaar met ’n punt van 99,49% met ’n haarbreedte tweede geëindig toe Bertus Steenkamp van Carnarvon in die Noord-Kaap met 99,50% koning gekraai het.
Hy het in 2022 die eerste keer sy hand aan NWK Retail se Slaglamskou gewaag en toe reeds onder die topvyf geëindig. Sy diere het weer op 8 Oktober aan vanjaar se skou deelgeneem (sien artikel op bladsy 18 vir die uitslae).
Oor sy deelname aan slaglamskoue sê Willem: “Dis lekker om kompeterend te wees. Dis interessant en jy leer skape ken. Dit gee ’n doel aan jou voerdery.” Hy meng self sy voerrantsoene en gebruik Lubern se voerkraalkonsentraat, wat hy met mielies, sojabone en lusern meng.
Willem het 36 jaar lank ’n melkery op die plaas bedryf voordat hy dit in 2018 gestaak het. Hy het nog altyd Vleismerino’s gehad en het toe met Witdorper-ramme kruisteling begin toepas. Daar is ook ’n Meatmaster-trop van sowat 400 ooie op die plaas. Willem het weens die droogte en hoër insetkoste nie hierdie jaar gewasse aangeplant nie en die lande word nou verhuur.
Voorbereiding vir kompetisies
Willem skryf “bykans suiwer” Witdorpers vir die slaglamskoue in omdat hy glo dit is wat die kompetisie soek. “Die Dorper se gewig, bouvorm en vetverspreiding is ideaal. ’n Meatmaster is heeltemal ’n ander tipe skaap. Dié skaap het mos nie boude nie en daar word gespot dat hulle net vier blaaie het,” glimlag hy.
Hy bestempel die Dorper as ’n geharde skaap wat met minder oor die weg kan kom. “Hulle is hoogs vrugbaar met sterk moederseienskappe.”
Sy reserwe-kampioenlam is afkomstig van ene Centum se genetika – ’n spogram van Henk Greeff (winkelbestuurder by NWK Retail Sannieshof), wat in 2022 tweede gekom het by die Witdorper-wêreldkampioenskappe in die afdeling waarin sestand- en volbekramme meegeding het.
Wat Willem se prestasie by Samic se prysuitdeling merkwaardig maak, is dat hy uit slegs 24 hamels deelnemende diere vir vier kompetisies kon kies. Hy het agt lammers vir NWK Retail se Slaglamskou ingeskryf en ook aan slaglamskoue in Delareyville, Stella en Jakkalskop deelgeneem. Hy het ’n eerste posisie by laasgenoemde ingepalm.
Landbou.com het berig dat Bertus soveel as 500 lammers vir kompetisies kon afrond. Teen druktyd was Willem besig om 24 lammers vir drie kompetisies te voer. Hy begin sowat ses tot agt weke voor ’n skou om hulle af te rond.
Hy het nie aan sy rantsoen vir hierdie jaar se skoue “gepeuter”nie. “Ek glo ek is op die regte spoor,” het hy vertel. “Ons koop alles vir die voerrantsoene en dit raak duur. Winsmarges is baie fyn en alles moet reg wees. Hierdie kompetisies bring ekstra kostes mee, maar dis lekker.”
Sy langtermynplan is bloot om volhoubaar met skape te kan boer.
Ander uitslae
- Jannes Schikerling van Piet Plessis, wat verlede jaar se aan die hak-groepkampioen met ’n punt van 97,59 by NWK Retail se Slaglamskou was, is as reserwekampioen van die lam kommersiële groepwenners by Samic se prysuitdeling aangewys.
- Hoërskool Lichtenburg se Vetveeskou is as reserwekampioen in Samic se bees kommersiële skouwenners aangekondig.
- Damian Smith van Bulskop Boerdery, wat verlede jaar die wenner van Hoërskool Lichtenburg se Vetveeskou was, is die reserwekampioen van Samic se bees kommersiële groepwenners.