Die invloed van ‘n droë 2024 op produsente se kontantvloei en uiteindelik NWK is duidelik in die maatskappy se tussentydse finansiële resultate sigbaar. Die groep se wins het met bykans 50% gedaal in vergelyking met Oktober 2023.
NWK Beherend Beperk het Vrydag bekendgemaak dat, hoewel sy inkomste met 1,6% gestyg het (R2 943 miljoen teen 31 Oktober 2024 in vergelyking met R2 897 miljoen teen 31 Oktober 2023), sy wins met R64 miljoen, oftewel 48% gedaal het (R69 miljoen teen 31 Oktober 2024 in vergelyking met R133 miljoen teen 31 Oktober 2023).
Die grootste deel van NWK se bedieningsgebied het gebuk gegaan onder onvoldoende reënval met gepaardgaande uiters hoë temperature gedurende kritieke fases van oesontwikkeling in die 2023/2024-produksieseisoen.
Gevolglik het slegs ongeveer 40% van die gebied se oesinname gerealiseer. Dit het ʼn noemenswaardige afname in die wins van NWK se graansegment (R71 miljoen teen 31 Oktober 2024 in vergelyking met R168 miljoen teen 31 Oktober 2023) tot gevolg gehad.
Ook NWK se handelsegment het nie na wense presteer nie (R5 miljoen wins in 2024 in vergelyking met R17 miljoen in 2023). Swak graanopbrengste het boere genoop om die rieme dun te sny en daar moes weer wesenlike netto-realiseerbare waarde-aanpassings op tweedehandse landboutoerusting gemaak word.
ʼn Relatiewe laat seisoen het voorts daartoe gelei dat die maatskappy se insetverskaffingsafdeling nog nie op dreef kon kom nie.
ʼn Verblydende aspek is egter dat Epko – die maatskappy se sonneblomoliepersaanleg – ʼn wins van R27 miljoen toon nadat sy inkomste met R502 miljoen gestyg het (R907 miljoen teen 31 Oktober 2024 in vergelyking met R405 miljoen teen 31 Oktober 2023).
Dit volg nadat NWK ʼn ooreenkoms met Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit kon aangaan waarvolgens ʼn alternatiewe kragvoorsieningslyn gebou is sodat Eskom direk aan Epko, Lottiehalte-silo asook NWK se vloeibare kunsmisfabriek, elektrisiteit kan voorsien.
Die land is reeds sedert 26 Maart vry van beurtkrag en Epko kon dus teen volle kapasiteit pers. Hoewel persmarges steeds laer is as ideaal, het uitstekende sonneblomsaadkwaliteit bygedra tot Epko se uitstekende prestasie.
ʼn Sonneblomolieverfyningsaanleg is tans in die implementeringsfase en sal na verwagting tot ʼn derde van Epko se perskapasiteit kan verfyn.
Voorts is ʼn dividend van 14 sent per aandeel – R15 miljoen in totaal – vir uitkering aan aandeelhouers verklaar.