Wat ’n vreemde jaar was 2024 nie vir die landboubedryf nie! Die afgelope droë seisoen het veral in die westelike somersaaigebiede tot misoeste gelei, maar dan was daar ook gevalle waar die oeste steeds aanvaarbaar was. Wat vir my spesifiek uitstaan van die 2024-oes, is dat die uitkomste uitermatig wisselvallig en hoogs onvoorspelbaar was – nog tot redelik ver in die groeiseisoen in.
Met die skrywe hiervan in die tweede helfte van November 2024, het Noordwes reeds ’n paar betekenisvolle buie reën ontvang. My pa sou met ’n groot glimlag aangekondig het dat ons nou al vier duim (100 mm) reën gehad het. Die grond is al lekker nat en die trekkers dreun teen sonop uit land toe om te gaan werk.
Maar slegs drie weke gelede was dit nog kraaie-gaap droog en snikkend warm. Die omgewing was vaal – valer as die midwinter. Daar was absoluut geen grasbedekking meer oor in die veldkampe nie. Die laaste paar stukkies gras is deur die termiete ondergronds verskuif.
En toe val die lewegewende reëndruppels en die grond word nat. Nuwe groei beur uit die voorheen lewelose graspolle en binne dae begin die veld ’n groen skynsel wys. Dis niks minder as ’n wonderwerk dat die natuur so kragtig kan reageer as die eerste reën van die seisoen neerplons nie. Die beeste bokspring selfs en skop agterop, terwyl die jong kalwers mekaar die stryd aansê in ’n resies oor die vlakte. Ook hulle toon hul dankbaarheid vir die genade.
Dis vreemd dat ons mensdom tog so maklik moedeloos kan raak wanneer dinge uitdagend raak. Soms voel dit asof dit nooit weer gaan reën nie. Soms lyk dinge donker – sonder ooglopende oplossings vir die probleme wat nou op die tafel lê. Dikwels is dinge regtig vir ons moeilik en sien ons nie hoe dit hanteer moet word nie.
Ons almal verstaan dit ook, want min mense het nog nie êrens op moedverloor se vlakte gesit nie. Maar dan, uit die bloute, kom die reën. Dit reën op die weivelde en op die saailande, en dit reën geil in ons harte. Soveel só dat die moedeloosheid van flussies gelede vinnig vergete is en daar ’n dapper glimlag om ons mondhoeke verskyn. Nou gaan ons die bul by die horings pak en die wêreld versit.
In Psalm 16 vers 8 verklaar koning Dawid: “Ek het die Here altyd by my: Omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.” Selfs in die moeilike tye wat hy beleef het, hou hy steeds vas aan die Here. Hy sluit die gedig af met: “Uit U hand kom net wat mooi is.” Dis tog interessant dat ons soms so sukkel om vas te hou aan die Een waar ons hulp vandaan kom – en dan struikel ons.
In boerdery is dit onmoontlik om suksesvol te wees sonder om te weet dat die Here by ons is en dat alles wat ons ontvang mooi is – omdat dit uit Sy hand kom.
Teen publikasietyd van hierdie tydskrif is die 2024/2025-produksieseisoen reeds ver gevorder. Ons vertrou dat die verwagte natter reënvalsiklus wel gerealiseer het, en dat die stand van die aanplantings en weidings op ’n belowende uitkoms dui.
Natuurlik is daar verskeie uitdagings wat die landboubedryf in die oë staar. Klimaatsveranderings en die reënvalpatrone wat daardeur beïnvloed word, is waarskynlik die gewildste besprekingspunt. Veesiektes soos bek-en-klouseer het ook ’n reuse-impak op die veebedryf. Logistieke probleme om landbou-insette op plase asook geproduseerde kommoditeite in die markplek te kry, het ook ’n wesenlike uitwerking – veral in die vrugte- en groentebedrywe, waar die produk se raklewe ’n belangrike faktor is.
Dis hier waar ons – soos Dawid – kan bely dat Hy altyd by ons is, ons nie sal struikel nie en dat dit wat vir ons uit Sy hand kom, mooi is.