Grondverdigting veroorsaak beperkte en swak wortel- ontwikkeling. Swak wortelontwikkeling lei daartoe dat voedingstowwe en vog, wat in dieper grondlae voor kom, onderbenut word. Dit veroorsaak dat graangewasse vogstremming ervaar, met die blare wat heeltemal toe-gedraai is en die fotosintese-tempo wat drasties daal.
Basiese produksieprosesse moet in die seisoen deur produsente gevolg word. Dit behels grondvoorbereiding, die aanplant van gewasse, gewasbeskerming tesame met voeding en uiteindelik die oesproses. Verskeie faktore beïnvloed die sukses van bogenoemde stappe. Grondverdigting (kompaksie) is egter een van die faktore wat ’n groot negatiewe impak kan hê en die bedryfsrisiko verder verhoog.
Wat is grondverdigting?
Dit is ’n term wat gebruik word om te verwys na gronddegradasie deur gronddeeltjies wat styf teen mekaar gedruk is en só die porieruimtes verklein. Die gronddigtheid is dan hoër, wat beteken dat die groot porieë en die totale volume porieë baie minder is. Dit verander die rangskikking van gronddeeltjies en lei tot verhoogde grondsterkte.
Verskillende vorms van grondverdigting kom voor, waarvan oppervlakverdigting (korsvorming) en ondergrondverdigting (normaalweg op bewerkingsdiepte) die algemeenste is.
Wat veroorsaak grondverdigting?
Die meeste verdigtings word deur verkeer en bewerking veroorsaak. Dit volg op die aksie van elke wiel en implement wat oor die grond beweeg. Verkeer trap die grond onder elke wiel vas. Die beweging van trekkers en implemente oor lande is egter onvermydelik en hier speel banddruk ’n groot rol. ’n Té hoë banddruk sal smal, diep spore met groot druk op die grond tot gevolg hê. Figuur 1 toon die uitwerking van banddruk op die grond.

Meganies kan grondverdigting veroorsaak word deur verkeerde implemente of verkeerde verstellings, wat die grond onder die implementskaar vasdruk. Grondbewerking onder ongunstige grondtoestande is ’n groot oorsaak van grondverdigting omdat té nat grond die neiging het om te smeer. Die smeeraksie vorm ’n seëllaag en “pleister” die grond daaronder toe. Wanneer dié laag uitdroog, word dit dikwels só hard dat die wortels sukkel om daardeur te groei.
Hoewel die mens een van die grootste oorsake van grondverdigting is, lewer die natuur soms ook ’n bydrae tot grondverdigting. Die impak waarmee reëndruppels die grondoppervlak tref – veral sonder materiaal of plantegroei as grondbedekking – kompakteer ook die grond, alhoewel die verdigting normaalweg vlakker sal voorkom en ’n kors op die oppervlak tot gevolg sal hê.
Moontlike negatiewe gevolge
Grondverdigting het baie nadelige gevolge, maar grond wat te los is, hou ook sy eie uitdagings in. Wanneer grond losgewerk is, sal groter en meer porieruimtes daarin voorkom, wat gaswisseling makliker sal laat plaasvind. Dit kan tot vogverlies lei en daarom is dit ’n goeie praktyk om die grond te seël deur byvoorbeeld ’n roller agter aan die skeurploeg te voeg.
Té los grond met planttyd sal ook veroorsaak dat onvoldoende kontak tussen die grond en saad plaasvind, wat swak ontkieming tot gevolg kan hê. Dit is waarom ’n drukwiel op ’n planter gebruik word. Wortelontwikkeling in té los grond kan ook problematies wees, hoewel dit danksy reën en die grond wat natuurlik weer in ’n mate vassak nie gereeld voorkom nie.
Die negatiewe impak van grondverdigting kan deur die seisoen waargeneem word in faktore soos verliese aan grondstruktuur, voedingstoftekorte, asook ’n swak stand, opkoms, groeikrag en plantontwikkeling.
Grondverdigting in nat en droë jare hou verskillende uitdagings in omdat die grond se natuurlike water teenoor gasverhoudings nie normaal is nie. In nat jare sal erge verdigtingslae veroorsaak dat die beskikbare grondprofiel nie goeie deurlugting het nie en baie stikstof verlore gaan weens denitrifikasie in anaërobiese toestande. Verder sal versuiptoestande, erosie en die verlies van water deur afloop meer prominent wees.
Grondverdigting lei ook tot swakker wortelontwikkeling. Wortelpenetrasie in die grond word beperk deur verdigtingslae, wat tot swakker wortelontwikkeling en -verspreiding deur die grond kan lei. Dus word die beskikbare hoeveelheid grond waarin die wortels kan versprei, verklein en kan die wortels nie die hele profiel vir voedingstowwe of water benut nie (Foto 1).

Aanspreek van verdigting
Om grondverdigting aan te spreek, moet eerstens vasgestel word of daar wel verdigting teenwoordig is. Die weerstand (verdigting) in die grond kan deur middel van ’n steekstok gevoel word en dit is moontlik om die verdigte lae in profielgate waar te neem. Vir meer akkurate kwantifisering van die ligging en sterkte van verdigtings moet ’n penetrometer gebruik word. ’n Elektroniese penetrometer bepaal die dieptes waarop verdigting voorkom sodat die opheffing daarvan suksesvol gedoen kan word.
Die resultate van hierdie studies word grafies voorgestel, soos in Grafiek 1 gesien kan word. Dit stel die landboukundige en produsent in staat om die geskikste implement te kies, die trekkrag wat benodig word, te bepaal en die bewerkingsdiepte beter te beplan.
Die geheim met grondverdigting lê egter by die voorkoming daarvan. Meganiese praktyke moet aangepas word om potensiële probleme te probeer voorkom of aan te spreek voordat dit tot opbrengsverliese begin lei. Een só ’n strategie is om ’n minimumbewerkingstelsel, gekombineer met spoorverkeer, in plek te stel nadat huidige probleme aangespreek is.

Gevolgtrekking
Grondverdigting kan potensieel tot betekenisvolle opbrengsverliese lei. Indien die probleem onder die mat ingevee word, sal dit toekomstige regstellings duur maak. Die insetkoste is reeds hoog en onnodige risiko’s en onvoorspelbare uitkomste kan nie meer bekostig word nie. Werk saam met jou landboukundige en identifiseer en spreek verdigtingsprobleme so gou as moontlik aan. Werk dan aan ’n strategie om herhalende grondverdigtings te beperk.