Herlewingslandbou, puik rekordhouding en die bereidwilligheid om raad te vra is die sleutel tot die toppresteerder van die Delareyville-studiegroep se sukses. Attie Smook (55) palm telkens die titel van algehele wenner in by die studiegroep se jaarafsluitings.
Attie is in 2017/2018, 2021/2022 en weer in 2023/2024 as die algehele wenner én beste graanprodusent van Delareyville-studiegroep aangewys. Dis nie net totale hektare geproduseer en veevertakkings wat vir die toekenning van algehele wenner oorweeg word nie, maar ook die boerdery se totale inkomste, uitgawes en balansstaatinligting.
Al die graangewasse wat elke deelnemende produsent gedurende die produksiejaar geplant het, word per boerdery-eenheid in berekening gebring en sluit dus die graanvoorraad op hande, asook die totale inkomste en direkte uitgawes, in.
NWK Arena het meer gaan uitvind oor sy benadering wat hom telkens bo die res laat uitstyg.

Jy kan nie reën koop nie
Attie het homself in elektroniese ingenieurswese bekwaam voordat hy in 1995 by sy pa op hul plaas in die Delareyville-omgewing aangesluit het. Daar is egter later ’n grondeis hier ingestel en Attie het in 2011 op die plaas Kameelboom naby Sannieshof begin boer.
Hy het mielies en sonneblom op 492 ha aangeplant en met 15 Bonsmara-koeie begin. Hy het later verder gediversifiseer deur ook sojabone te plant om sy risiko te versprei.
Attie het besef dat die klimaat besig is om te verander en dat hy sy boerderypraktyke moes hersien. “Hoewel die reënval oor dekades geleidelik was, kry jy nou uitskieters. Dan te veel, dan te min,” gesels hy. Graangewasse se plantvenster is ook baie korter. “Ons kon altyd mielies in tien dae plant en sonneblom in tien dae. Deesdae moet jy álles in tien dae plant. Jy moet by die natuur aanpas.”
Dit is alles tendense wat Attie en ander lede danksy die Delareyville-studiegroep se data kon identifiseer en waarby hulle kon aanpas. Hy het daarom sewe jaar gelede geenbewerking op die proef begin stel en pas dit sedert 2022 op ál sy lande toe.
“Reën kan jy nie koop nie. Vogbewaring is eerste, die res kan jy koop,” verduidelik Attie.
Geenbewerking – ’n konserwatiewe begin
Michael van Rooyen, bestuurder van adviesdienste by NWK Finansiering en ’n landbou-ekonoom, is die studieleier van die Delareyville-groep.
Toe Attie besef dat hy sy bewerkingspraktyke moes aanpas, met die veranderende klimaat in gedagte, het hy Michael geraadpleeg. “Ek en Michael het somme gemaak. Primêr in boerdery moet dit by die som begin, dán vat jy dit praktyk toe,” sê hy.
Hy erken dat hy baie onseker was toe hy met geenbewerking begin het. “Ek het nie blindelings ingespring nie en baie konserwatief begin. Baie rondgebel en vrae gevra. Ek is glad nie bang om raad te vra nie.”
Attie en ’n medelid van die studiegroep, praat bykans daagliks met mekaar. “Ons is mekaar se klankbord. Dis wat die studiegroep vir ons bied.”
Hy het intussen al meer herlewingslandboupraktyke begin toepas en was verlede jaar een van die sprekers by Landbouweekblad se herlewingslandboukonferensie, wat jaarliks by Ottosdal aangebied word.
Attie plant dekgewasse op klein skaal – ’n kombinasie van drie sorghums en twee peulgewasse. Dit dra nie net by tot grondgesondheid en vogbewaring nie, maar bied ook ’n welkome voedingsbron vir sy veekomponent.
Hy beskryf 2023/2024 as sy droogste tot dusver – met 293 mm reën wat tydens die produksieseisoen (September 2023 tot Maart 2024) ontvang is. Sy totale reënval van September 2023 tot Augustus 2024 was 384 mm.
Uit die studiegroep het 14 produsente hul syfers vir beoordeling ingedien. Twaalf van hulle het mielies geplant, 13 sonneblom en 11 sojabone.
Die twaalf se gemiddelde mielie-opbrengs is 1,16 t/ha, terwyl Attie 2,05 t/ha behaal het. Sy sonneblom-opbrengs was die beste met 1,89 t/ha, teenoor die groep se gemiddeld van 1,02 t/ha. Attie se sojaboon-opbrengs was 0,96 t/ha, teenoor ’n gemiddeld van 0,26 t/ha in die Delareyville-omgewing.

Dié som klop
Die hele boerdery word in vennootskap met verkoopsverteenwoordigers van saad, kunsmis en ander insette bedryf. ’n Meer konserwatiewe benadering met topbemesting stel Attie in staat om dit in ’n droër jaar soos 2023/2024 te verminder en die koste van hierdie insetmiddel beter te beheer.
Grondprofiele word jaarliks ontleed en Attie ervaar dat die grond se gehalte en gesondheid danksy geenbewerking toeneem. Dit vereis boonop ’n verminderde kapitale uitleg, waaroor hy breed glimlag. “Jy sit maar 200 ure op ’n trekker per jaar. Dit behels slegs 2 000 ure oor tien jaar. Uiteraard spandeer jy ook minder op diesel en herstelwerk.”
Graanbemarking op die regte tyd
Met winsmarges onder ernstige druk, het Attie sedert 2012 begin om “klein te bêre” en sy graanvoorraad na ’n volgende jaar oor te dra. “Dit gaan oor emosie. As die mielies bemark is, is hulle weg. Dit word altyd bemark in ’n moeilike tyd wanneer jy nie tyd het vir jouself nie, want jy moet rekeninge betaal,” motiveer hy dié besluit.
Die minimum bedrag waarteen Attie sy mielies verkoop, is sy insette se koopprys plus 35%. “Dan weet ek dat ek 35% wins maak. Ek is in ’n posisie waar ek nie nodig het om te verkoop nie, omdat ek teruggehou het. Ek kan dit selfs ’n tweede jaar terughou as dit nodig is.”
Sy raad aan ander produsente is om te begin deur klein hoeveelhede graan terug te hou. “Begin net klein. Jy sal stelselmatig beheer oor jou graan kry.”
Goeie rekordhouding onontbeerlik
“Alles op my plaas word aangeteken. Elke boutjie, elke moertjie … Elke land se diesel word apart aangeteken. As ’n kragtuig uit die land gaan, word dit aangeteken,” sê Attie.
Hy steun sterk op die boekhouprogram, Simfini. Michael komplimenteer ook sy deeglike rekords.
“’n Boerdery kan nie meer vandag sonder ’n finansiële program bedryf word nie. Sigaretboksies is nie meer daar nie en dis in elk geval baie klein,” verduidelik Attie.
Veekomponent nou geprioritiseer
Attie boer kommersieel met Bonsmaras. ’n Ramp het hom twee jaar gelede getref toe ’n groot aantal van sy beeste weens vergiftiging deur inkbessiebos gevrek het. Hy het belê in chemie om dié onkruid uit te roei en streef nou aktief daarna om sy kudde uit te brei. “My veekomponent maak tans slegs 10% van my totale inkomste uit. Gegewe die risiko in die graanbedryf, maak dit sin om meer aandag aan my diere te gee.”
Attie se dogter, Margarette, het haarself as verpleegster bekwaam en sy seun, Chris, is tans in matriek. “Sy het die spuit gery (bestuur) vanjaar,” verwys hy na Margarette en sê hy hoop om eendag “die stokkie” aan sy kinders te kan oorgee.
Ten spyte van politieke onsekerhede, soos die Onteieningswet wat onlangs onderteken is, hoë insetkoste en droogtes, is Attie hoopvol oor die toekoms danksy organisasies soos Graan SA en Agri SA, wat alles in die stryd werp om ’n gunstiger omgewing vir produsente te skep.
Sy raad aan diegene wat nog huiwerig is om hul hand aan herlewingslandbou te waag, is eenvoudig: “Gaan leer by jou buurman. Vra vrae. Hoekom doen hy iets op ’n bepaalde manier? En hou rekord. Jy gaan nie weet of jy op die regte pad is as jy nie rekord hou nie. Papier is geduldig.”