Produsente moet toenemend die impak van klimaatsverandering en aardverwarming trotseer, wat in Suid-Afrika en spesifiek die sentrale gedeeltes van die land droogte beteken – elke produsent se grootste nagmerrie.
In 2024 het Agri SA berig dat die totale graan- en oliesaadproduksie met ongeveer 21% afgeneem het in vergelyking met die vorige jaar weens die tóé heersende droogte. Nietemin het Agri SA ook beklemtoon dat produsente se veerkragtigheid gelei het tot die implementering van verskeie tegnologieë om proaktiewe risiko-mitigasie te verseker en sodoende ’n stabiele voorsiening van landbouprodukte te handhaaf.
Per slot van rekening maak ’n boer mos ’n plan! Ongelukkig begin en eindig die risiko’s en negatiewe impak van droogte nie net by die produksie van graan, sade en dies meer nie, maar dit hou ook die baie werklike risiko van veldbrande in.
Daar was deur die jare verskeie berigte oor vernietigende veldbrande wat nie net ’n reuse-impak op Suid-Afrika se gewasse gehad het nie, maar ook tot die dood van ontelbare diere gelei het, en in sommige gevalle het dit selfs tragies die lewens van produsente en plaaswerkers geëis.
Selfs meer ingrypend is die moontlike aanspreeklikheid indien ’n persoon versuim om te voldoen aan die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande (Wet 101 van 1998, oftewel die Wet) .
Wetlike vereistes vir brandstroke
Hoofstuk 4 van die Wet, “Veldbrandvoorkoming deur brandstroke”, handel spesifiek oor die plig van grondeienaars om brandstroke voor te berei en te onderhou. Artikel 12(1) bepaal dat elke eienaar op wie se grond ’n veldbrand kan ontstaan, brand of versprei, ’n brandstrook aan die grens van sy of haar grond en die aangrensende grond moet voorberei en onderhou.
Artikel 12(2) brei hierop uit deur die vereistes vir brandstroke deur middel van brand te bepaal. Indien ’n grondeienaar hierdie metode kies, moet ’n wedersyds aanvaarbare datum met die aangrensende eienaars bepaal word, en die brandbeskermingsvereniging in die betrokke gebied (indien enige) moet hieroor ingelig word.
Wanneer geen ooreenkoms bereik kan word nie, moet die grondeienaar ten minste 14 dae vooraf skriftelik kennis gee aan die aangrensende eienaars en die brandbeskermingsvereniging oor die beoogde branddatum(s), onderhewig aan die brandgevaarvlak.
Wat gebeur as jou buurman nie op die geskeduleerde dag beskikbaar is nie? Gelukkig bepaal Artikel 12(3) dat óf die aangrensende eienaar self óf ’n verteenwoordiger namens hom of haar teenwoordig kan wees.
Boonop moet daar ’n voldoende aantal mense teenwoordig wees om te voorkom dat die brand onbeheerbaar raak. Is daar tye wanneer die produsent glad nie brandstroke deur brand mag maak nie? Ja, en Artikel 12(4) verskaf drie omstandighede waarin dit verbode sal wees, selfs al word alle ander vereistes nagekom:
- Indien die brandbeskermingsvereniging (indien enige) wat in kennis gestel is, daarteen beswaar maak.
- Indien die minister van bosbou, vissery en die omgewing verklaar dat die betrokke gebied ’n hoë of uiterste risiko vir brandgevaar inhou.
- Indien die omstandighede nie geskik is vir brand nie.
Brandbeskermingsverenigings
Artikel 12(2), soos hierbo genoem, bepaal dat ’n mens jou brandbeskermingsvereniging in kennis moet stel van enige beoogde stappe indien daar wel so ’n vereniging is wat op jou van toepassing is. Maar wat is ’n brandbeskermingsvereniging?
Artikels 3 tot 8 van die Wet handel oor hierdie verenigings en skryf presies voor hoe om een te stig en te registreer, wat die vereniging se pligte is, wie en wat ’n brandbeskermingsbeampte is, die finansiële aspekte en hoe om ’n vereniging te deregistreer.
Kortliks maak artikel 3 voorsiening vir die stigting van ’n vereniging waar grondeienaars bymekaarkom met die doel om veldbrande te voorspel, voorkom, bestuur en te blus, indien een ontstaan.
Artikel 4 sit uiteen hoe om die nuutgevormde vereniging te registreer en dit bepaal dat die minister sekere vereistes vir die vereniging mag stel. Dit is belangrik om in ag te neem dat daar net een vereniging per gebied mag wees.
Artikel 5 is van kardinale belang omdat ’n vereniging sekere pligte onderneem met sy registrasie. Artikel 5(1)(a)-(l) bevat twaalf pligte waaraan elke vereniging moet voldoen, onder andere die ontwikkeling van ’n brandbestrydingstrategie vir die vereniging se gebied, die opleiding van lede in brandbestryding, die aanstelling van ’n brandbestrydingsbeampte en die indiening van statistiek by die minister oor die hoeveelheid brande in die gebied. Dit moet minstens elke twaalf maande geskied.
Artikel 6 handel oor die brandbestrydingsbeampte en lys dié persoon se pligte. Soos in artikel 5 hierbo, word die beampte se pligte in artikel 6(1)(a)-(g) uiteengesit en sluit dit in om lede van die vereniging in brandbestryding op te lei en om lede se grond met redelike kennis te betree om te verseker dat hulle aan die Wet voldoen.
Artikel 7 bepaal dat die minister ’n lening, toelae of ander bystand aan ’n vereniging mag toestaan waar dit nodig is om te verseker dat die vereniging sy pligte kan nakom, of waar brandstroke voorberei is en die koste daarvan buitensporig was.
Artikel 8 sit uiteen dat die minister ’n vereniging mag deregistreer indien dit ondoeltreffend of onaktief is. In só ’n geval is enige lening en bates wat deur die minister aan die vereniging voorsien is, soos bepaal in artikel 7, terugbetaalbaar aan die minister en moet die bates teruggegee word.
Laastens, en van kardinale belang, bepaal artikel 34(1) van die Wet dat, indien ’n persoon wat ’n siviele geding aanhangig maak, bewys dat hy of sy ’n verlies gely het as gevolg van ’n veldbrand wat:
- Deur die verweerder veroorsaak is.
- Begin het op of versprei het vanaf grond wat deur die verweerder besit word, waar daar vermoed word dat die verweerder nalatig was met betrekking tot die veldbrand totdat die teendeel bewys word, tensy die verweerder ’n lid is van ’n brandbeskermingsvereniging in die gebied waar die brand voorgekom het.
Die voordeel om dus aan ’n brandbeskermingsvereniging te behoort, is dat daar met die outomatiese aanname van nalatigheid aan die kant van die verweerder weggedoen word.
Hoe moet brandstroke lyk?
Nadat al bogenoemde bepalings nagekom is, mag ’n grondeienaar voortgaan met die voorbereiding van brandstroke. Artikel 13 bepaal egter die vereistes vir hierdie brandstroke, ongeag of dit deur brand of ander middele gemaak word.
Die Wet erken dat elke grondeienaar se situasie uniek is, en spesifiseer daarom nie presiese breedtes of ander meetbare riglyne nie.
-
- Grondeienaars moet hul brandstroke voorberei en onderhou met inagneming van faktore soos die weer, klimaat, terrein en plantegroei van die omgewing.
- Die brandstrook moet wyd en lank genoeg wees om ’n veldbrand se verspreiding na die aangrensende grond ’n redelike kans te gun om gestuit te word.
- Verder moet die brandstrook só onderhou word dat dit nie gronderosie veroorsaak of materiale bevat wat ’n veldbrand kan laat oorspoel nie.
Is jy gereed vir brandbestryding?
Nadat jy brandstroke gemaak het soos voorgeskryf in artikels 12 en 13 van die Wet, en selfs ’n vereniging gestig het soos in artikels 5 tot 7, is die werk sekerlik klaar? Ongelukkig nie. Artikels 17 en 18 stel nóg twee vereistes, maar dit handel grootliks oor gereedheid vir die dag waarop ’n brand ontstaan en wat dan moet gebeur.
Artikel 17 vereis dat elke grondeienaar op wie se grond ’n veldbrand kan ontstaan of na wie se grond ’n veldbrand kan versprei, die nodige toerusting moet hê om die brand te bestry. Indien die eienaar afwesig is, moet daar ’n persoon in sy plek wees om hierdie taak te verrig. Artikel 17(2) bepaal selfs dat ’n persoon formeel aangestel kan word om hierdie verantwoordelikheid te hanteer.
Artikel 18 is van die uiterste belang en dit handel oor wat moet gebeur indien daar ’n brand ontstaan. Artikel 18(1) bepaal dat enige grondeienaar wat vermoed dat daar ’n vuur ontstaan het op sy eie grond of op die grond van ’n aangrensende eienaar, wat lewens, eiendom of die omgewing kan bedreig, onmiddellik alle redelike stappe moet neem om die brandbestrydingsbeampte of die brandbeskermingsvereniging (indien daar een is) in kennis te stel, asook die eienaar van die aangrensende grond. Daarna vereis die Wet dat die persoon alle redelike stappe moet neem om die verspreiding van die veldbrand te keer.
Artikel 18(2) maak dit duidelik dat enige persoon wat ’n geldige rede het om te glo dat ’n vuur op enige grond ontstaan het en ’n bedreiging vir menslike lewens, eiendom of die omgewing inhou, daardie grond mag betree om die vuur te blus en die verspreiding van die veldbrand te keer.
Artikel 18(3) en (4) handel oor die magte van die brandbestrydingsbeampte (artikel 18(3) en die magte van die bosbeampte (artikel 18(4). Wanneer die brandbestrydingsbeampte by die veldbrand opdaag, mag die persoon beheer neem van die brandbestryding en enige persoon tussen die ouderdom van 16 en 60 jaar beveel om hom/haar daarmee te help. Artikel 18(4) gee dieselfde magte aan die bosbeampte in ’n geval waar daar nie ’n brandbestrydingsbeampte teenwoordig is nie.
Artikel 18(5) bepaal dat enige persoon wat ingevolge artikels 18(1) tot (4) optree en glo dat dit nodig is om menslike lewens, eiendom of die omgewing te beskerm, of om die verspreiding van ’n veldbrand te keer of te blus, die volgende mag doen: Enige grond betree, bome, gras, oesgewasse of ander plantegroei vernietig, enige perseel betree of breek en betree, enige persoon verhinder om enige perseel te betree, enige persoon wat in gevaar verkeer of wat hom of haar in die uitvoering van sy of haar pligte hinder, met geweld van die toneel te verwyder, en enige voertuig of ander voorwerp verwyder of gelas dat dit verwyder moet word.
Laastens handel artikel 18(6) oor die stappe wat geneem moet word waar ’n brand oor die grens van ’n brandbeskermingsvereniging versprei of kan versprei. Dit bepaal dat ’n brandbestrydingsbeampte sy ampsgenoot van die gebied waarheen die brand versprei of kan versprei, in kennis moet stel en alle nodige stappe moet neem om die brandbestrydingsoperasie te koördineer, ooreenkomstig die brandbeheerstrategie soos bedoel in artikel 5(1)(a) en (b).
Die waarde van proaktiewe nakoming
Dit is ’n tydsame en moeisame proses om brandstroke voor te berei en in stand te hou. Brandbestrydingsgereedheid en die nakoming van die stappe soos uiteengesit, kan boonop soos rompslomp lyk. Wat is die waarde dan van proaktiewe nakoming van die Wet?
Om hierdie vraag te beantwoord, word daar verwys na MTO Forestry (Pty) Ltd v Swart N.O. (420/2016) [2017] ZASCA 57, [2017] 3 All SA 502 (SCA), 2017 (5) SA 76 (SCA) (MTO-saak). Mnr Swart was die eienaar van ’n stuk grond wat aangrensend aan ’n 1 300 ha Witelsbosplantasie was, waarvan MTO ’n begunstigde eienaar was. MTO het beweer dat ’n veldbrand op mnr Swart se grond ontstaan het en daarna na die plantasie versprei het, wat gevolglik tot groot verwoesting gelei het.
MTO het skadevergoeding van mnr Swart geëis en aangevoer dat hy nalatig was in die nakoming van die Wet. Mnr Swart kon egter aan die hof bewys dat hy nie nalatig was nie en dat hy die Wet nagekom het. Gevolglik het MTO nie daarin geslaag om die verlies van mnr Swart te verhaal nie.
Die waarde van die potensiële nie-nakoming van die wetlike vereistes? Ongeveer R23 miljoen, ’n bedrag wat mnr Swart sou moes betaal indien hy nie die Wet nagekom het nie. Dit is dus duidelik dat die nakoming van die Wet nie net lewens, eiendom en die natuur kan red nie, maar jou ook ’n aansienlike bedrag in aanspreeklikheid kan spaar.
Bo en behalwe die moontlike aanspreeklikheid soos hierbo uiteengesit, maak artikels 24 en 25 van die Wet dit duidelik dat versuiming om artikels 12, 13, 17 en 18 na te kom daartoe kan lei dat ’n persoon tot ses maande tronkstraf, ses maande gemeenskapsdiens of ’n boete opgelê kan word.
Dit is dus duidelik dat proaktiewe nakoming van die Wet ’n móét is.
Bronnelys
- AgriSA, 2024. South Africa’s agricultural sector equipped to navigate the drought. Taken from: https://agrisa.org.za/centre-of-excellence-economics/south-africas-agricultural-sector-equipped-to-navigate-the-drought/
- MTO Forestry (Pty) Ltd v Swart N.O. (420/2016) [2017] ZASCA 57, [2017] 3 All SA 502 (SCA), 2017 (5) SA 76 (SCA) (MTO-saak)