In die tyd wat hierdie stukkie skryfwerk gestalte begin aanneem, staan die sonneblomlande bottergeel in die blom. Ons moet nou ’n oog hou op die peste en plae wat potensieel skade kan aanrig aan die oes. Dit verg gereelde inspeksies van die plante vir moontlike indringers.
Vieserig skud ek die eerste grasgroen loopers van die blare af. Hulle sit soos pofadders onder die blare en vreet groot vensters in die blare. Hierdie destruktiewe wurms kan die oes in ’n paar dae opvreet en daar word inderhaas ’n oproep gemaak na ons “gifman” om ook te kom kyk. Die hommeltuig word gereël om te kom spuit.
Met die inspeksie van die sonneblomplante kyk ek weer opnuut in verwondering na die blomme. Dit tref my weer, soos dikwels vantevore, dat die gesigkant van die sonneblom so ordelik aanmekaargesit is. Die blommetjies is baie duidelik in ’n patroon gerangskik en elke blom se uiteensetting is presies dieselfde. Nóg ’n pragtige voorbeeld van Fibonacci se verduideliking oor die herhalende orde wat in die Skepping heers.
Daar is talle voorbeelde van sy verhoudingsleer in die natuur rondom ons: Die keëls van ’n denneboom, die blaarplasing van ’n broodboom, die manier waarop ’n verkleurmannetjie se stert krul en selfs die spesifieke foutlose samestelling van die dop van die drywende Nautilus-skulp in die see.
Fibonacci is in die 13de eeu in Pisa, Italië, gebore en hy het homself as ’n wiskundige bekwaam. Die alombekende Fibonacci-getallereeks van 0,1,1,2,3,5,8,13,21….. is telkens die som van die twee voorafgaande syfers. Dit het oorspronklik ontstaan uit die vraagstuk oor die vermeerdering van hase en dit het aanleiding gegee tot die “goue verhouding” (golden ratio), wat ’n wiskundige verhouding van 1,618 per iterasie het.
Hierdie verhouding word ook oor die jare algemeen deur argitekte en kunstenaars gebruik om orde en harmonie aan hulle skeppings te gee. Wat besonder merkwaardig is, is dat die plasing van die sade op ’n sonneblomkop volgens hierdie verhouding plaasvind, en dit gee aanleiding daartoe dat hierdie uitleg die meeste sade op die kop inpas.
Kyk van bo na die woestynrosie se blaarplasing en die uitermatige ordelike patroon val jou op. Die blare van ’n roosknop is nog ’n voorbeeld hiervan. Die lugborrels wat walvisse gebruik as hulle jag, word ook in ’n spiraal vrygelaat – en sterrestelsels soos ons eie melkweg toon ’n duidelike spiraal. Die plasing van die blare op die sonneblom se stam volg ’n duidelike patroon, met elke opvolgende blaar in ’n posisie wat telkens volgens die vasgestelde reël plaasvind.
Daar is deesdae toenemende teëstand by sekere kundiges oor die presiese verhouding wat in van hierdie natuurvoorbeelde bestaan. Dit staan egter soos ’n paal bo water dat daar ’n bepaalde orde in die Skepping is en dat hierdie orde noodsaaklik is vir die doeltreffende funksionering van alle spesies op aarde. Selfs die mens se liggaam voldoen aan spesifieke verhoudings, soos Leonardo da Vinci jare gelede geïllustreer het.
Die Afrikaanse skrywer Dana Snyman vertrek in sy boek Die Binneland in (Tafelberg, 2023) op ’n dikwels donker reis van selfontdekking, asook die noodsaaklike evaluering van die waardestelsel waarin hy grootgeword het.
In hoofstuk 83, genaamd Staning, skryf hy: “Ons het met analitiese oë na die wêreld begin kyk.” Hy volg dit verder op met: “Daardie manier van kyk het ’n skeiding gebring tussen ons en die natuur en gemaak dat ons die aarde begin misbruik.” Dan haal hy die skrywer Karen Armstrong aan: “If we could see God clearly, it would not be God. But if we learn to contemplate nature correctly, we find that the tiniest particle of soil can yield a glimpse of the inevitable divine.”
Ek onderneem om voortaan opnuut met nuwe oë te kyk na die natuur en die orde daarvan, en om myself telkens te verwonder aan die wonderbaarlike Skepping waarin produsente en natuurliefhebbers hulself gereeld bevind.