Die gassprekers – prof Johan Willemse, dr Danie Odendaal en Kobus Bester – het in-siggewende onderwerpe soos ’n nuwe graderingstel-sel vir die rooivleisbedryf, ’n gesonde veekudde, asook buurlande se rooivleis-ekonomie en die impak daarvan op die Suid-Afrikaanse produsent, bespreek.
Twee dae nadat dr Danie Odendaal, direkteur van Veearts Netwerk, by die kongres gepleit het vir ’n gesamentlike operasionele kamer waaruit bek-en-klouseer beveg kan word, het dié siekte by Karan Beef se voerkraal by Heidelberg uitgebreek. Dit het Suid-Afrika se rooivleisbedryf ’n ernstige knou toegedien. Die siekte is op 30 Mei by diere in Karan Beef se voerkraal ontdek.
“Ons het ’n operasionele kantoor in die land nodig met iemand wat voltyds daar sit en gevalle van bek-en-klouseer ‘plot’. Elke plaas waar daar geënt word en wat onder kwarantyn is, moet met ’n ander kleur aangedui word.
“Jy kan nie ’n siekte soos bek-en-klou hanteer as jy nie soos in ’n oorlog ’n operasionele kamer het nie. Oordrag en ontwikkeling van die siekte gebeur baie vinnig. As jy binne 48 uur kan optree en dit net dáár beperk, het jy amper gewen,” het Danie gesê.
Daar moet ’n gebeurlikheidsplan vir elke provinsie in plek wees. “Ons moet ook oorskakel na ’n stelsel wat permitte elektronies uitreik en op ’n databasis stoor. Tans word permitte op papier uitgereik, maar dit beteken niks nie omdat dit bloot geliasseer word.”

Daaglikse kommunikasie tussen veeartse en produsente werp vrugte af
Tog is Danie opgewonde oor die groot welslae wat behaal word met die Nasionale Siekterapporteringstelsel en die feit dat dit ’n platform vir daaglikse kommunikasie tussen veeartse en produsente skep.
“In die Lichtenburg-omgewing is die groot sondebok tans inkbessie. Dit groei in katbosse op lyndrade en wanneer die veld in die winter vaal is, vreet beeste graag hierdie groen plant,” het Danie gesê. Daar is tans geen behandeling vir die vergiftiging wat hierdie plant veroorsaak nie en produsente moet dit uitroei.
“Die metodiek van kuddegesondheid op plaasvlak word deur daaglikse kommunikasie verander. Die veearts het dan ’n beter begrip van wat op jou plaas aangaan.”
Hy het produsente aangeraai om ’n behoorlike kuddegesondheidsplan en entingsprogram in plek te hê. “Die plan moet die twaalf maande van die jaar bevat en ook die onderskeie seisoene voorstel. Voorts moet dit al die onderskeie ouderdomsgroepe bevat, omdat diere se inentingsbehoeftes na gelang hiervan verskil. Derdens moet dit die vier produksieperiodes aandui – ’n droë dragtige koei, kalwingseisoen, teel en wanneer dit tyd is om te speen.”
Daar moet eerstens teen dodelike bakteriële infeksies geënt word, dan teen siektes wat deur insekte oorgedra word, derdens teen siektes wat reproduksie aantas en laastens teen bepaalde siektes wat in sekere gebiede voorkom, soos hondsdolheid.
Sowat 80% van inentings moet afgehandel wees teen die tyd wat die vers die eerste keer by ’n bul kom.

Graderingstelsel kan rooivleisbedryf meer volhoubaar maak
Kobus Bester, direkteur van die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF), het verduidelik waarom ’n graderingstelsel van vleis, eerder as die huidige klassifikasiestelsel, uiteindelik meer geld vir die rooivleisprodusent kan beteken.
“Die laaste 24 uur van ’n dier op die plaas en die 48 uur ná slagting is uiters belangrik en bepaal die gehalte van die produk. In 2024 is 777 000 ton beesvleis geproduseer. Die aantal diere wat geslag is, het egter afgeneem omdat die karkasmassa toeneem.”
Abattoirs is nie almal ingerig vir hierdie groter karkasse nie. Die binnetemperatuur van ’n karkas moet binne 24 uur na 7°C afgekoel word. Met groter karkasse daal die temperatuur nie vinnig genoeg nie en is dit tussen 9°C en 11°C. “Die pH van vleis kan dan nie voldoende daal nie (die ideaal is sowat 5,5) en dit het ’n invloed op die vleisgehalte,” het Kobus verduidelik.
Selfs die hangmetode maak ’n verskil. “Sommige rasse verouder beter as die spiere nie onder spanning is nie. Marmering en kleur speel ’n groot rol. Hoewel donkerrooi beesvleis mooi is, is dit taai en soek jy eerder ligter vleis. Ons verstaan nie eens ons eie produk nie!”
Hy het Suid-Afrika se klassifikasiestelsel, wat ’n dier se ouderdom op grond van die tande bepaal, veroordeel. “Daar is geen ordentlike korrelasie tussen ’n dier se tande en die sagtheid van vleis nie. Dit is oor en oor bewys. Sommige rasse het ’n unieke bloedsamestelling, wat veroorsaak dat hulle tande langer hou en dit later wissel.”
Hy het verduidelik dat ossifikasie (die verandering van kraakbeen na harde been) ’n beter maatstaf is om ouderdom te bepaal.
Met ’n graderingstelsel word daar ook meer klem gelê op die vetpersentasie, wat belangrik is vir uitvoere. “Suid-Afrikaners en Europeërs hou van min tot geen vet, terwyl die Midde-Ooste, waarheen ons ook uitvoer, meer vet verkies.”
Kobus het na navorsing verwys wat toon dat verbruikers bereid is om tot 31% meer te betaal vir ’n bevredigende produk, wat 5% meer in die boer se sak kan beteken. “Hulle soek sagte vleis wat sappig en geurig is. Jy lewer ’n lewendige dier wat gras in ’n hoëwaardeproduk omskakel. Die dier moet gesond wees, genoegsame spiere kan bou en die nodige vetbedekking hê. Wanneer dit geslag word, moet dit in die regte fasiliteit plaasvind wat hoëgehalte prosesse stimuleer om spiermassa na vleis te verander.”
Hy het ter afsluiting gemaan dat ’n graderingstelsel eers tot sy reg sal kom sodra naspeurbaarheid in plek is. “Registreer jou plaas op die LITS-sisteem. Hou op verskonings maak en negatief wees. Vat hande en maak die bedryf beter.”

Suid-Afrikaanse verbruikers is arm, ontgin meer uitvoere
Die landbou-ekonoom, prof Johan Willemse, het benadruk dat uitvoere belangrik is omdat Suid-Afrika se ekonomie onder ernstige druk verkeer. “Die per capita verbruik daal omdat mense armer is en ons kan nie verwag om premiepryse te kry nie. Met ’n werkloosheidsyfer van 42%, produseer ons tans te veel vir wat mense kan bekostig.”
Hy het verwys na die Suid-Afrikaanse Doeane-unie (Sadu), waarvolgens daar handelsooreenkomste tussen Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Eswatini (Swaziland) en Lesotho is. Dit bepaal dat produkte vrylik binne die grense van hierdie lande kan beweeg en dat ’n gemeenskaplike buite-invoertarief gehef word. “Ons as boere kan nie sê ons wil kan uitvoer na buurlande, maar niks invoer nie. Daar is tans ’n 40% uitvoertarief op bees- en skaapvleis en ons geniet groot beskerming.”
Nico Kilian, voorsitter van die NWRPO, het gesê dat sowat 7% van binnelandse produksie uitgevoer word en dat Visie 2030 se mikpunt 20% beloop. “Volgens die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) se vooruitskattings, gaan plaaslike beesvleisverbruik teen 2034 met 17% groei en dié van varkvleis met soveel as 20%. Dit skep geleenthede wat benut moet word.”
Daar is verlede jaar 13 000 beeste, 22 000 skape en 13 000 bokke ter waarde van R139 miljoen gesteel. Die RPO het vroeër vanjaar ’n nuwe mobiele toepassing bekendgestel waar veediefstal aangemeld kan word. Dit behels ’n eenvoudige proses waarvolgens produsente bepaalde inligting na ’n nommer moet WhatsApp. Nico het egter beklemtoon dat dit nie die rapportering van veediefstal aan die polisie vervang nie.