NBC News het op 23 Mei 2012 berig dat ’n bergfietsryer, Evan van der Spuy, deur ’n eland bestorm is wat teen amper 50 km/uur op hom afgepeil het terwyl hy aan ’n bergfietswedren in KwaZulu-Natal deelgeneem het. Terloops, dié voorval is deur sy spanmaat op video vasgevang en dit het vinnig in ’n kubertreffer ontaard.
Wat sê die reg oor wilde diere?
Die regsposisie rondom wild is eintlik baie interessant. Die Romeinse reg is in ons regstelsel opgeneem in die vorm van die actio de feris. Wilde en gevaarlike diere is verbied in openbare plekke.
Indien ’n wilde of gevaarlike dier ’n persoon sou aanval, beseer of doodmaak op plekke waartoe die algemene publiek toegang het, was daar ’n eis teen die eienaar van die wilde dier sonder dat die eiser hoef te bewys dat die eienaar nalatig was, omdat daar ’n vermoede van nalatigheid is.
In terme van die Suid-Afrikaanse reg word wilde diere oor die algemeen beskou as res nullius (die Latynse woorde wat aandui dat hulle aan niemand behoort nie). Wanneer wilde diere vry en natuurlik rondloop, behoort hulle inderdaad aan niemand nie. Sodra ’n persoon egter die dier op ’n regmatige wyse vang of inperk, en doeltreffende beheer daaroor uitoefen, word dit daardie persoon se dier. Hierdie beginsel is bevestig in die saak van Prokureur-Generaal v Van der Merwe (1996 (2) SA 365 (O)).
Die ontsnappingsreël bepaal egter dat ’n persoon eiendomsreg op ’n wilde dier verloor wanneer hy fisiese beheer oor die dier verloor. Die begrippe “fisiese beheer” of “doeltreffende beheer” is egter nie heeltemal duidelik nie.
Het die eienaar van ’n wildplaas fisiese beheer wanneer die dier in ’n baie groot omheinde gebied vrygelaat word? Wat gebeur as ’n koedoe oor die draad spring na die aangrensende wildplaas? Jou kombers en my matras, en daar loop die ding …
VOORBEELDE TER VERDUIDELIKING
In die saak van Mathenjwa NO v Magudu Game Co (Pty) Ltd 2010 (2) SA 26 SCA het die appèlhof beslis dat fisiese beheer deur die grondeienaar steeds behou word, ten spyte van die feit dat die grond waarop die wilde diere loop uitgestrek was en die diere moontlik moeilik gevind sou word.
Die hof neem in ag dat die gebied behoorlik omhein was, sodat diere moeilik daaruit kan ontsnap. Dit sal interessant wees om te sien in hoe ’n mate die howe hierdie regsbeginsels oor tyd uitbrei, gegewe die modernisering van wildboerdery.
Die Wet op Veediefstal (Nr. 105 van 1991) bepaal dat die eienaar van wilde diere wat vir kommersiële of jagdoeleindes aangehou word, die eienaarskap daarvan behou wanneer ’n wilde dier ontsnap vanaf grond wat behoorlik omhein is. Behoorlike omheining verwys na ’n omheiningsertifikaat wat deur die premier van ’n provinsie se kantoor uitgereik word. Hierdie sertifikaat is vir drie jaar geldig.
Doeltreffende beheer oor wilde diere is ’n belangrike faktor wanneer aanspreeklikheid vir skadevergoeding oorweeg word.
Wanneer ’n wilde dier ’n persoon beseer of doodmaak, kan die eienaar of persoon wat doeltreffende beheer oor die wilde dier het onder andere aanspreeklik gehou word op grond van ’n deliktuele eis gebaseer op nalatigheid. Vir ’n deliktuele eis gebaseer op nalatigheid om te slaag, moet die eiser bewys dat:
- Daar ’n sorgsaamheidsplig gerus het op die eienaar of persoon wat doeltreffende beheer oor die wild het.
- Die sorgsaamheidsplig nie nagekom is nie, en as gevolg hiervan het die eiser skade gely.
- Die skade redelik voorsienbaar was.
’n Voorbeeld van só ’n situasie is waar daar nie genoegsame waarskuwingstekens opgerig is nie en die eienaar van ’n wildplaas toeriste toelaat om naby die heining waar gevaarlike wilde diere aangehou word, te loop, of die heinings word nie behoorlik in stand gehou nie. Wanneer ’n dier egter teen sy normale aard sou optree, sal dit byvoorbeeld onvoorsienbaar wees, en sal só ’n eis waarskynlik nie slaag nie.
Wildeienaars kan ook strikte aanspreeklikheid (regsaanspreeklikheid sonder dat jy nalatig was) ingevolge die actio de feris opdoen (in welke geval nalatigheid aan die kant van die eienaar of die persoon wat doeltreffende beheer het nie bewys hoef te word nie). Die bydraende nalatigheid van die slagoffer word egter wel in ag geneem.
Mense word gereeld gewaarsku om diere nie te voer of te terg nie, en met goeie rede. In die saak van GS van der Westhuizen v WJ Burger [2017] ZASCA 178; 2018 (2) SA 87 (SCA) (1 Desember 2017) het mnr Burger ’n lelike bloutjie met ’n wilde volstruis geloop. Hy het probeer weghardloop, oor ’n stuk hout gestruikel, sy Achilles-tendon geskeur en R6 750 000 van die grondeienaar geëis.
Gedurende die verloop van die saak is beweer dat mnr Burger by verskeie geleenthede die volstruis met mieliepitte in sy hand nader gelok het, en wanneer die volstruis heerlik gesmul het, sou hy die volstruis aan die nek gryp en sy kop afdruk, wat ’n hewige reaksie by die volstruis ontlok het. Die hof het ook die getuienis aanvaar dat mnr Burger die volstruis op die gewraakte dag met ’n klip gegooi het.
EIENAAR SE AANSPREEKLIKHEID
Hoe kan eienaars van byvoorbeeld wild- en jagplase hul aanspreeklikheid beperk? Dit sal raadsaam wees om:
- Publieke aanspreeklikheidsversekering uit te neem.
- Vrywaringsvorms deur gaste te laat onderteken. (Hou egter in gedagte dat dit nie die eienaar van hulp sal wees in gevalle waarin hy grof nalatig optree nie).
- Waar toepaslik, die nodige waarskuwingstekens op te rig.
- Die omheinings behoorlik in stand te hou.
Jagters aanvaar uiteraard ’n sekere mate van risiko wanneer hulle die jagveld betree. Vreemde dinge gebeur, soos dat elande op fietsryers in die bos afstorm. Aanvalle deur leeus, jagluiperds, olifante ensovoorts is egter minder vreemd. Die nodige voorsorgmaatreëls behoort die kans dat jagters in die pekel beland, te beperk.
Bronnelys
- https://www.google.com/search?q=convert+30+miles+per+hour+to+kilometers&rlz=1C1CHWL_enZA1099ZA1099&oq=convert+30+miles+per+hour+to+kil&gs_lcrp=EgZjaHJvbWUqBwgAEAAYgAQyBwgAEAAYgAQyBggBEEUYOTINCAIQABiGAxiABBiKBTINCAMQABiGAxiABBiKBTIKCAQQABiABBiiBDIKCAUQABiABBiiBDIKCAYQABiABBiiBNIBCDYyNjNqMGo3qAIAsAIA&sourceid=chrome&ie=UTF-8
- https://www.saflii.org/za/cases/ZAFSHC/2014/236.html
Kliek op die skakel om na die video oor Evan van der Spuy te kyk.