Ons het ’n paar skaaphonde op die plaas wat nie net deel van die familie is nie, maar ook daagliks hulle brood en botter verdien wanneer die skape getel of mee gewerk word. Een van die ouer honde het uit die bloute begin siek word en die prognose was nie goed nie. Ons besef toe dat haar insette in die skaapwerk eersdaags nie meer beskikbaar gaan wees nie en dat dit tyd is om ’n nuwe lid tot die gesin toe te voeg.
Die baba-nuweling is in Bultfontein gehaal en aan haar nuwe familie bekendgestel. Met ons aankoms op die plaas het sy haar nuwe hondefamilie met groot opgewondenheid tegemoet gehardloop om haarself voor te stel.
Die uitkoms was egter katastrofies. Sy het sommer al by die eerste hond ’n waarskuwende byt gekry. By die tweede een was dit ’n ernstige knor met tande wat wys. Sy het nie eers die derde keer probeer nie en met ’n hartseer gesiggie eenkant gaan lê. Sy het hierdie saak glad nie verstaan nie. Ons gee toe genoeg liefde en aandag om haar deur die trauma te help.
Mettertyd begin die ander honde gewoond raak aan die kleinding en versag hulle optrede teenoor haar. Dis veral die ouer siek hond wat eerste rustig raak. Die nuwe hondjie het gelukkig ’n sterk persoonlikheid en sy het voortdurend probeer kontak maak – hoewel baie versigtig. Ná ’n week of twee was die groot honde gemaklik met die nuwe toevoeging en het hulle gedrag vinnig verander. Dik pêlle na drie weke. Sy is nou deel van hulle trop.
Hierdie verhaaltjie hou vir my ’n kosbare lewensles in. Die aanvanklike vyandigheid, die klein hondjie wat nie tou opgegooi het met die vestiging van ’n verhouding met elk van die ander honde nie, en uiteindelik die kameraadskap wat nou tussen hulle heers. Hulle speel saam, slaap saam, eet saam en werk saam.
Dit alles was vir my ’n openbaring van hoe verhoudings tussen mense ook soms wankelrig begin en afhangend van die erns en toewyding, vestig in waardevolle verbintenisse. Dit geld seker vir enige verhouding – man en vrou, ouers en kinders, werksverhoudings, sakeverhoudings.
Met die besoek van Ramaphosa en sy span aan die Amerikaanse president, het ek ook hierdie interaksie uiters interessant gevind. Die verhouding tussen die twee lande het ernstige skade opgedoen deur ’n aantal onsinnige uitlatings en die wyse waarop die Suid-Afrikaanse regering die verhouding hanteer het. Indien dit nie uiters belangrik vir Suid-Afrika was nie, sou die besoek nie eens nodig gewees het nie. Die skade is nie ten volle herstel nie, maar ’n oop kanaal is weer geskep.
Die situasie tussen Rusland en Oekraïne, asook tussen Israel en Palestina, is nog voorbeelde van verhoudings wat skipbreuk gely het. Die gevolge van hierdie totale verval in die vertrouensverhoudings het verreikende gevolge en dis ironies dat die leiers wat die besluite neem, nie regtig self onder die gevolge van hulle keuses deurloop nie.
Ek glo heelhartig dat goeie verhoudings die eerste tree na sukses in enige onderneming is. Dis die eerste ding wat ons ook aan ons opvolgers moet oordra – veral in die landboubedryf. Instansies of ondernemings word deur mense bestuur.
Die verhouding is nie met die maatskappy self nie, maar met die persoon wat daardie instansie verteenwoordig. Hy of sy moet met jou besigheid doen omdat dit vir hulle ’n aangename ervaring is en nie omdat dit hulle plig is nie. Dis die enigste manier hoe jy iemand kan oortuig om vir jou iets te wíl doen omdat dit vir hulle persoonlik waardevol is – en nie net om so vinnig as moontlik van jou ontslae te raak nie.
As jy sukses in enige onderneming wil behaal, benodig jy onder andere ’n netwerk van diensverskaffers wat ook jou vriende is. En toksiese verhoudings of mense wat vir jou ’n onaangename ervaring inhou? Stap weg en moenie terugkyk nie.