Voel jy ook soms soos ’n buitestaander in die wêreld? Verwyderd – asof jy staan met ’n glasbal in jou hand waarin ’n toneel afspeel. Soos daardie snow globes in die rolprente wat kinders aanmekaar skud om te sien hoe die “sneeu” daarin val.
Jy skud telkens die bal in die hoop dat dit ’n ander prentjie sal voortbring, maar dis tevergeefs. Wat jy sién, hóór en erváár, vul jou met ongeloof en afgryse.
’n Kleuterskoolonderwyseres van Johannesburg word aangekla van die verkragting en moord van haar kêrel se vierjarige dogtertjie. Sy het die kind na bewering in ’n bad water verdrink. Die motief? Uiterste jaloesie en wraak.
Ek skud die bal.
Dis skaars ’n week nadat president Cyril Ramaphosa en sy afvaardiging Donald Trump in die Withuis besoek het. Die EFF-leier, Julius Malema, sing weer die gewraakte “vryheidslied” by ’n massabyeenkoms en kondig breëbors aan dat Trump hom nie sal intimideer nie.
Ek skud die bal.
Daar word berig hoe belastinggeld aangewend word om hemelhoë salarisse aan uitvoerende hoofde van swak presterende staatsentiteite te betaal. Dié van die Padongelukkefonds verdien R7,1 miljoen per jaar, met uitstaande eise wat tientalle miljarde beloop.
Ek skud die bal.
Slegs drie weke uitmekaar is 224 aasvoëls in die Laeveld van Mpumalanga vergiftig – 124 tydens die eerste voorval in die Nasionale Krugerwildtuin en 100 in die Marloth Park-omgewing. Baie van hierdie voëls sluit die uiters bedreigde witrugaasvoël in. Afgesien daarvan dat aasvoëls gesog is vir moetie, bestaan die vermoede dat hulle bloot geteiken word omdat hulle teenwoordigheid veldwagters waarsku dat daar moontlik stropers in ’n gebied doenig is.
Ek skud die bal.
Nege uit tien kinders van ’n doktersegpaar in Gasa is in ’n lugaanval deur Israel uitgewis. Hul enigste oorlewende kind is ernstig beseer.
Ek skud die bal.
Dis die begin van Kinderbeskermingsweek in Suid-Afrika en die verminkte lyk van ’n 14-jarige meisie van Roodepoort word ’n dag ná haar verdwyning ontdek.
Ek sit die bal neer. Ek wil nie meer speel nie. Die prentjies lyk elke keer dieselfde. Ek gaan stap eerder. Ek en my man. In Doornfonteinweg stap ons verby twee mans (die een wit, die ander een swart) wat buite ’n voertuig staan met hul koppe gebuig en besig om te bid. Vir die land? Vir mekaar? Ek weet nie.
’n Sprankie hoop vat vlam in my binneste. Dalk, net dalk, sal alles okay wees.