• Oor Ons/About Us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
Wed, Aug 6, 2025
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou Vennoot/Your Partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors
No Result
View All Result
NWK Arena
No Result
View All Result
Home Tegniek

Plantvenster vir mielies steeds in die kol, toon weerdata

Arno Janse van Vuuren, Tegniese redakteur

29 Jul 2025
in Tegniek
Plantvenster vir mielies steeds in die kol, toon weerdata
Share on Facebook

Daar word deesdae redelik algemeen opgemerk dat die seisoene aangeskuif het en mielie-aanplantings vind dikwels nog diep in Januarie en soms selfs tot in Februarie plaas. Dit is moeilik om hierdie aanname oor later seisoene sonder behoorlike wetenskaplike bewyse te weerlê.

In hierdie artikel word daar aandag geskenk aan die uitwerking van verskillende plantdatums op die groeilengte van mielies om te bepaal wanneer die beste plantdatums waarskynlik is. Die afgelope jaar se daaglikse klimaatdata van ’n weerstasie van die LNR-IGKW (Lat: -26.17928/Lon: 26.31939 Alt: 1505), wat sowat 20 km oos van Lichtenburg versamel is, is in die ondersoek as basis vir die berekenings en vergelykings gebruik.

Hitte-eenhede

Daar word reeds vir etlike jare gebruik gemaak van die beginsel van gemiddelde groeidae as maatstaf vir die uitwerking van die daaglikse minimum en maksimum temperature op gewasse se groeitempo. Dit word aangedui as hitte-eenhede of heat units (Hu) op ’n daaglikse basis.

Die bepaling van die Hu wat per dag vir mielies ontvang word en wat in hierdie geval gebruik is, word met die volgende formule bereken: Hu = ((Maks. temp. + min. temp.)/2) minus 10°C

’n Alternatiewe berekening is om die gemiddelde temperatuur oor 24 uur te gebruik en dan die basistemperatuur van 10°C daarvan af te trek. Eersgenoemde metodiek word meer algemeen gebruik en daarom is dit eerder in hierdie studie gebruik.

Daar is uiteraard redelike verskille tussen kultivars se groeilengtes. Die onderskeie saadmaatskappye dui gewoonlik hierdie verskille in hulle produkkatalogusse aan. Vir hierdie studie is daar volstaan met die hitteprofiel van medium-vinnige kultivars, wat sowat 100 Hu tot opkoms, 750 Hu tot blomstadium en 1 250 Hu tot fisiologiese rypheid benodig.

Gemete Hu

In Grafiek 1 word die daaglikse Hu wat deur die weerstasie vasgelê is vanaf 1 Julie 2024 tot 31 Mei 2025 aangedui. ’n Tendenslyn met ’n aanvaarbare R2 is aan hierdie data gekoppel en dit toon ’n baie insiggewende kurwe van die toenemende Hu, wat in die midsomer ’n piek bereik en dan weer in die nasomer en herfsmaande stelselmatig afneem. Dit is ook op die grafiek duidelik sigbaar wanneer daar potensiële koueskade en selfs ryp kon voorkom.

Grafiek 1: Daaglikse gemete hitte-eenhede.

In die afgelope seisoen het die eerste ernstige koue op 3 Mei voorgekom en dit het op verskeie plekke koueskade op van die laatmielies in laagliggende gebiede veroorsaak. Die gemiddelde intreedatum vir ryp is oor die lang termyn in die laaste week van April en dit behoort beslis in ag geneem te word wanneer mielies laat aangeplant word.

Daar was in die afgelope seisoen ook ’n koue periode aan die einde van September 2024 wat moontlike koueskade aan baie vroeë aanplantings onder besproeiing kon veroorsaak. Hierdie periode was ’n paar dae lank en dit sou beslis ook die grondtemperatuur dramaties verlaag het en tot swak ontkieming en opkomsprobleme aanleiding gegee het.

Dit is belangrik om plantdatums te kies wat die hoogste Hu gedurende die seisoen kan benut en dus logies dat hierdie periode gedurende die piek somermaande voorkom. Die skerp afname in Hu later in die seisoen verlaag die kumulatiewe Hu drasties en dit het ’n betekenisvolle nadelige effek op die tyd wat dit neem vir die plant om fisiologiese rypheid te behaal.

In Grafiek 2 word die kumulatiewe Hu vir die afgelope seisoen getoon. Dit wys duidelik wanneer die Hu vinniger of stadiger opgestapel word. Uiteraard het dit dan ’n direkte invloed op die plant se groeitempo gedurende daardie tydperke. Dit is veral in die geval waar die grafiek se helling afplat waar die plant se groeitempo verlaag en meer groeidae benodig word.

Grafiek 2: Kumulatiewe hitte-eenhede.

Met besonderse laat aanplantings veroorsaak hierdie tendens dat die geakkumuleerde Hu só stadig verhoog dat die plant nooit fisiologies volwasse kan raak nie. Dit beteken in die praktyk dat graanvulling nooit voltooi word nie en ’n lae opbrengs onafwendbaar is.

Dit sal ook in baie gevalle tot kwaliteitsprobleme aanleiding gee omdat die saad melerig voorkom weens die lae digtheid daarvan. Blink, harde pitte soos dit deur die meulenaars verkies word, kan onder hierdie omstandighede nie geproduseer word nie.

Plantdatums en kumulatiewe Hu

In mieliekultivars met ’n medium-vinnige groeilengte word sowat 100 Hu benodig om die saailing se opkoms bo die grond moontlik te maak. Verder neem dit ook sowat 750 Hu om blomstadium te bereik en sowat 1 250 Hu om fisiologiese rypheid te bereik. Dié data word in Grafieke 3.1, 3.2 en 3.3 aangebied. Die onderskeie plantdatums wat gebruik is om die analise mee te doen, word op die horisontale as van die figure aangedui.

Grafiek 3.1: Aantal dae benodig om 100 Hu te bereik.
Grafiek 3.2: Aantal dae benodig om 750 Hu te bereik.
Grafiek 3.3: Aantal dae benodig om 1 250 Hu te bereik.

Volgens Grafiek 3.1 is dit duidelik dat daar nie regtig betekenisvolle verskille voorkom in die aantal dae wat dit met verskillende plantdatums neem om die plantjies bo die grond te kry nie. Die spoed van saadontkieming word grootliks beïnvloed deur die grondtemperatuur, beskikbare grondvog, saad/grond-kontak en plantdiepte. In nat, warm grondtipes kan mielies binne vyf dae reeds opkom.

Die langer tydperk wat dit vir die 15 Oktober-plantdatum geneem het, kan ’n direkte gevolg wees van die besondere koue tydperk wat hierdie plantdatum direk voorafgegaan het. Dit sou waarskynlik tot lae grondtemperature aanleiding gegee het. In die praktyk is daar egter geen rede om bekommerd te wees oor mielies wat ’n bietjie langer neem om op te kom nie. Indien die temperature só laag daal dat ryp- of koueskade moontlik kan voorkom, is dit beslis ’n probleem.

Die aantal dae tot die blomstadium word in Grafiek 3.2 aangedui en dis opvallend dat die tendens hier omgekeerd is van die grafiek wat die daaglikse Hu aandui. Aanplantings wat grootliks die koue gedeelte van die seisoen beleef, neem heelwat langer om te blom as aanplantings wat die warmste deel van die seisoen benut.

Dis baie duidelik dat die planttydperk wat vir hierdie deel van die land as die ideale plantvenster beskou word, naamlik vanaf middel November tot middel Desember, ook die tydperk is waartydens die aantal dae tot blomtyd die minste is. Dit dui uiteraard op ’n plant wat uiters doeltreffend ontwikkel en dat die aanplanting se groeitoestande optimaal is.

Dit is verder ook duidelik dat die aantal dae benodig tot blomtyd by die laat aanplantings nie veel meer is as by die optimale plantdatums nie. Die rede hiervoor is dat daar steeds voldoende Hu ontvang word in hierdie tydperk (Januarie/Februarie) om die plante te laat blom. Dit het egter baie ernstige gevolge vir fisiologiese rypwording.

In Grafiek 3.3 word die aantal dae getoon wat met verskillende plantdatums benodig word om fisiologiese rypheid te verkry. Die tendenslyn is hier ook omgekeerd van die tendenslyn in Grafiek 1. Die aantal dae met baie vroeë en baie laat plantdatums is weereens betekenisvol langer as wat dit is met plantdatums tydens die aanvaarde optimale plantdatums.

Dis egter opvallend dat die vroeë plantdatums waarskynlik nie betekenisvol benadeel word nie. Hierdie plantdatums neem slegs ’n klein bietjie langer as die optimale tydperk om fisiologies ryp te word en die hoë temperature tydens graanvulling dui waarskynlik op ’n weglaatbare laer opbrengs as met die optimale plantdatums.

Baie laat aanplantings is egter problematies.

  • Met ’n aanplanting aan die einde van Desember word voldoende kumulatiewe Hu tot fisiologies rypheid eers teen einde April bereik, wanneer die risiko vir rypskade reeds onaanvaarbaar hoog is. Indien ryp twee of drie weke vroeër voorkom, soos al in vorige seisoene gebeur het, is die waarskynlikheid van grootskaalse opbrengs- en kwaliteit skade van die graan wesenlik.
  • Met aanplantings teen middel en einde Januarie is die vooruitsigte aansienlik swakker en teen die einde van Mei 2025 was daar steeds nie voldoende kumulatiewe Hu bymekaargemaak om hierdie twee aanplantings by fisiologiese rypheid te kry nie. Volgens die berekende Hu-teiken kan fisiologiese rypheid vir ’n aanplanting teen die middel van Januarie eers teen 7 Junie 2025 bereik word en in die geval van ’n aanplanting aan die einde van Januarie is dit eers teen 6 Julie moontlik.

Die risiko van sulke laat aanplantings is onaanvaarbaar hoog, maar nogtans word gesien dat sommige produsente tog bereid is om hierdie kans te waag.

Vergelykende versameling van Hu

Die aantal dae wat dit vir mielies neem om te blom (blou horisontale lyn) en fisiologiese rypheid (groen horisontale lyn) te bereik met verskillende plantdatums word in Grafiek 4 aangedui.

Grafiek 4: Kumulatiewe hitte-eenhede vir verskillende plantdatums.

Daar is min verskil in die dae tot blomtyd met die verskillende plantdatums omdat die hoeveelheid Hu wat in die tydperk vanaf planttyd tot blomtyd ontvang word voldoende is vir doeltreffende plantontwikkeling. Wat egter daarna gebeur, is nogal skrikwekkend. Uiteraard is die aanplanting in die middel van November (oranje lyn) die beste keuse. Daar is ook bykans geen verskil in die aantal dae tot fisiologiese rypheid tussen die aanplanting in die middel van Oktober (donkerblou lyn) en die aanplanting in die middel van Desember (grys lyn) nie.

Dit is egter baie duidelik dat die aanplanting aan die begin van Januarie (ligte blou lyn) reeds sukkel om ná blomtyd voldoende Hu te versamel en dat die lyn vinnig afplat. Fisiologiese rypheid word in hierdie geval wel ná sowat 117 dae bereik, maar dis opvallend langer as met die vroeër aanplantings, terwyl rypskade reeds ’n wesenlike bedreiging is.

In die geval van die aanplanting op 15 Januarie (geel lyn), is die berekende datum vir fisiologiese rypheid eers 7 Junie. Teen die einde van Mei lyk dit onmoontlik om enigsins die teiken-Hu vir fisiologiese rypheid te behaal. Dis veral belangrik omdat die kans vir koue- en rypskade wesenlik is. Tegnies gesproke het die produsent die kans om rypskade op te doen vir sowat 60 dae tydens die graanvullingstydperk. Dit maak dus geen sin om so ’n laat aanplanting met mielies eers te oorweeg nie.

Samevatting

Produsente vind dit dikwels uitdagend om plantdatums vooraf te beplan en dan daarby te bly omdat omgewingstoestande altyd ’n stok in die speke steek. Dit reën dalk laat, die grond is nie klaar voorberei nie en dan reën dit dalk nie weer wanneer planttyd aanbreek nie.

Hoewel die data in hierdie studie slegs een seisoen se temperatuurinligting bevat, gaan die afleidings waarskynlik nie betekenisvol verskil van ander seisoene se inligting nie. Dit is egter baie duidelik uit hierdie studie dat die plantdatums vir mielies ’n belangrike invloed op die gewas se ontwikkelingsvermoë uitoefen.

Laat aanplantings kan veral veroorsaak dat die gewas nie voldoende Hu ontvang om produktief deur die vege­tatiewe en reproduktiewe groeistadiums te vorder nie, en dit het beslis ’n negatiewe uitwerking op die opbrengs en selfs graangehalte.

Die studie bevestig egter dat die aanvaarde optimale plantvenster van middel November tot middel Desember – uit hoofde van die temperatuurinligting – steeds die mikpunt moet wees. Daar is dus geen ondersteuning vir die mening dat die seisoene aangeskuif het en dat later aanplan­tings wel oorweeg kan word nie.

Tags: Jul/Aug 2025
Previous Post

Benader bek-en-klouseer soos oorlog

Next Post

Mieliekuilvoer is ’n waardevolle ruvoerbron


Recommended

Uitsonderlike finansiële resultate vir NWK

NWK-groep positief oor toekoms ondanks ‘n 50% daling in wins

29 Jul 2025
Landbou vandag

Landbou vandag

28 Jul 2025
Molibdeen: Die onmisbare skakel tussen kalk- en stikstofbenutting

Molibdeen: Die onmisbare skakel tussen kalk- en stikstofbenutting

28 Jul 2025

Oor Ons/About us

Arena is ‘n landbouklantetydskrif wat ses keer per jaar in gedrukte formaat deur NWK uitgegee word. Dié hardekopie-gesprek met klante – wat onder meer raakvat- tegniese inhoud bevat – word aanlyn verder gevoer deur Arena (die webtuiste) wat sorg vir geloofwaardige nuus oor landbou in Noordwes en die sektor se mense.

Lees meer/Read more

Tydskrif/Magazine

Kategorieë/Categories

  • Buitelewe
  • Coach Owl
  • Dinamiese vennoot
  • Nuus
  • NWK Impact Reports
  • Promosie
  • Tegniek

Nuutste/Latest

Uitsonderlike finansiële resultate vir NWK

NWK-groep positief oor toekoms ondanks ‘n 50% daling in wins

29 Jul 2025
Landbou vandag

Landbou vandag

28 Jul 2025
Molibdeen: Die onmisbare skakel tussen kalk- en stikstofbenutting

Molibdeen: Die onmisbare skakel tussen kalk- en stikstofbenutting

28 Jul 2025

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

No Result
View All Result
  • Oor ons/About us
  • Adverteer/Advertise
  • Tydskrif/Magazine
  • Teken in/Subscribe
  • Tuis/Home
  • Nuus/News
  • Jou vennoot/Your partner
  • Tegniek/Technique
  • NWK impact reports
  • Buitelewe/Outdoors

© 2025 NWK Arena. All rights reserved.

Welcome Back!

Login to your account below

Forgotten Password?

Create New Account!

Fill the forms below to register

All fields are required. Log In

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Log In