Martiens de Jager (62) en sy seun, ook Martiens (33), het die wenbul – Gulland Gemmer – geteel. Dié driejarige bul is deel van die Gulland Simmentalers-stoetery, wat op die plaas Vlanknek naby Grootpan bedryf word – die tweede grootste Simmentaler-stoetery in die land.
Martiens senior is reeds meer as 30 jaar in die slaghuisbedryf en het opgelet dat dit telkens Simmentalers was wat die skaal harder laat kreun het. Toe hy later sy eerste plaas gekoop het, was dié beesras daarom vir hom die ooglopende keuse om mee te boer.
Die waardeketting “agterstevoor” benut
Tydens NWK Arena se besoek aan Vlanknek was Martiens senior oorsee. Martiens junior het vertel dat sy pa, ’n gekwalifiseerde ingenieur, in 1991 Hyper Slaghuis in Rustenburg gevestig het. Hy het sedertdien nog drie slaghuise in Rustenburg en een in Pretoria geopen. Die slaghuise se teikenmark is grootliks huishoudings en nie handelaars nie.
Martiens senior besit ook die abattoir in Koster. Hy het in 2003 sy eerste plaas naby Swartruggens gekoop om met beeste te boer om dié vleis aan sy slaghuise te kon verskaf. “In die ou tyd was daar mos nie skale op veilings nie, so hulle moes skat wat die diere weeg. By die slaghuis op die skaal het Simmentalers altyd meer geweeg as wat my pa die diere geskat het en hy het daarom op hulle besluit.”
Pa Martiens het aanvanklik eers daarop gefokus om sy kudde uit te brei en slegs fenotipies geselekteer. Martiens junior beskryf die Simmentaler as gemaklik om mee te werk, baie vrugbaar en met goeie melk om ’n kalf te versorg. “Ons gemiddelde speengewig is 309 kg op sewe maande, wat baie goed is op ons suurveld,” vertel hy.
Hulle verbou ook mielies wat as kuilvoer in hul voerkraal gebruik word. Smutsvingergras word aangeplant en met mis uit die voerkraal bemes. Die diere se konsentrate en ruproteïen word deur Tygerfontein Boerdery verskaf.

Goeie genetika ontsluit meer waarde
Martiens junior het homself as ’n finansiële rekenmeester bekwaam en in 2014 by die slaghuise betrokke geraak. Dit het sy pa die geleentheid gegun om hom meer op genetika toe te spits.
Die De Jagers het van die beste genetika regoor die land bekom en rekordpryse vir diere betaal om in hul spoelprogramme te gebruik. Martiens junior verklap dat dit R340 000 vir ’n koei en kalf en R500 000 vir ’n bul beloop het. Dié bul van Drie Riviere in Gauteng is verlede jaar as die kampioen by die nasionale Simmentaler-kampioenskappe in Bloemfontein gekroon.
“Ons kry egter daardie waarde terug deurdat dit aan ons goeie pryse by ons produksieveilings besorg,” verduidelik hy.
Daar is verlede jaar 24 bulle van die De Jagers se stoet na Mooirivier in KwaZulu-Natal gestuur, waar hulle aan streng toetse vir netto voerinname (NFI) van die Simmentaler-genootskap onderwerp is. Die NFI word omskryf as die verskil tussen die dier se werklike en verwagte voerinname, geskoei op sy grootte en groei.
Die dier word 14 dae gegun om aan te pas, waarna hy 31 dae lank rantsoene gevoer en sy gewigstoename gemonitor word. Die doel hiervan is dus om die dier se doeltreffendheid te toets en die ideaal is ’n dier met ’n lae onderhoudsbehoefte.
“Gulland Gemmer gebruik 12% minder voer as die Simmentaler se gemiddeld om 1 kg vleis aan te sit,” verduidelik Martiens junior. “Ons leuse vir die stoetery is juis: ‘Die braaikuiken van die rooivleisbedryf’. Hoe minder voer ’n bees benodig, hoe meer ekonomies is dit vir ons.”
Hy het ook ’n besonderse fenotipe. “Hoe beter ’n bees groei, hoe hoër en meer rankerig raak hy gewoonlik op sy bene. Gemmer het ’n mediumraam met baie breedte en lengte, en dis die moderne tipe waarna die mark streef.”
Kompetisies bied uitstekende publisiteit
Die genootskap het sewe van die De Jagers se bulle vir Vleissentraal en SA Stamboek se elitebultoekenning genomineer. Die paneel beoordeel foto’s van kwalifiserende bulle en wys hul topkeuses aan. Gulland Gemmer het reeds verlede jaar aan die nasionale Simmentaler-kampioenskapskou deelgeneem en sy klas gewen. Hy was dus nie ’n nuweling in die arena nie.
Martiens vertel dat voorbereiding hiervoor sowat ses maande neem. “Sodra jy hom mak maak, stres hy en verloor gewig. Jy moet hom dus eintlik eers vet maak vóór jy hom mak maak.”
Hy het op 28 April by die Bloemskou vir die titel van elitebul meegeding en met die louere weggestap. Martiens junior was oorweldig deur die reaksie. “Ons het nie aanvanklik gedink dit is só ’n groot eer nie. Mense het van oral gebel en die wentitel verleen goeie blootstelling aan jou kudde. Dit bied leverage vir produksieveilings.”
Verse kalf nou vroeër danksy goeie bestuur
Die stoetery het in 2021 die teeldoelwit gestel dat verse op 24 maande moet kalf en nie eers op 29 maande nie. Hulle het dit met verbeterde bestuur en voeding reggekry.
Martiens junior het die stoetbestuurder, Dolf Theunissen, uitgesonder vir sy bydrae tot die behaal van hierdie mikpunt.
“Die groepe word volgens hul ouderdomme bestuur omdat hul voedingsbehoeftes hiervolgens verskil. In my opinie is voedingstatus die belangrikste faktor wat bepaal of ’n vers dragtig raak. ’n Kondisietelling van 2,8 is ideaal.”
Volgens hom is dit ’n balanseertoertjie wat fyn dopgehou moet word. “Ons het verlede jaar ’n groep koeie op sorghumlande gehad wat te vet geword het en nie wou dragtig raak nie. Te veel vet ‘broei’ die eierstokke en dan brand die semen dood.”
Hulle skou ook nie meer verse nie, omdat skougehalte ’n hoër liggaamsgewig vereis wat daartoe lei dat hulle nie dragtig raak nie.
Sowat 80% van hul dekkings is natuurlik, met 20% wat kunsmatig is weens die fokus op genetika.
Hulle beoog om Simmentalers se vleis so gesog te maak soos dié van Wagyu en Angus en as sodanig te bemark. Hulle karkasse se vleis is reeds aan sagtheidstoetse by die Universiteit van die Vrystaat onderwerp. Sekere snitte word verouder en dan meganies “gebyt”. “Sowat 70% van ons vleis was bogemiddelde restaurantgehalte,” vertel Martiens junior.
Pa en seun se visier is nou op die nasionale Simmentaler-kampioenskappe, wat in April 2026 in Lichtenburg gaan plaasvind. “Ons resep is reg en ons gaan daarop voortbou,” het Martiens junior afgesluit.