Hulle verteenwoordig verskeie organisasies, insluitend Afriforum, Sakeliga, Agri SA asook ‘n Christelike kerk en het die kongrestema: “Ons moet sélf” toegelig. NWK was die hoofborg van die kongres wat by ATKV Buffelspoort aangebied is.

Die jaarkongres is gekombineer met Agri NW se jongboerkongres omdat die inhoud dikwels oorvleuel. William Harvey van die Piet Plessis-omgewing, is later die aand tydens ‘n glansdinee as Agri NW se jongboer van 2025 aangewys. Hy sal later vanjaar met ander provinsiale wenners om die titel van nasionale jongboer van die jaar meeding.

Willem de Chavonnes Vrugt het ná sewe jaar as president van Agri NW uitgetree en gaan homself verkiesbaar stel om op Agri SA se uitvoerende bestuur te dien. Daan van der Merwe is verkies tot president, Gideon van Zyl is herverkies tot visepresident en Sarel Pretorius is verkies tot medevisepresident.
Kweek ‘n kultuur van luister

Willem het tydens sy presidentsboodskap gesê dat Agri NW se leiers baie tyd daaraan spandeer het om ‘n kultuur van “luister” te kweek, ten einde lede se werklike behoeftes beter te verstaan. “Die impak van verval van veral infrastruktuur op die platteland, asook beleidsonsekerheid op beleggersvertroue en die vryemark ekonomie, bly van die grootste kwellinge.”
Die organisasie beywer hom voorts vir volhoubare boerderypraktyke omdat produsente ‘n verantwoordelikheid het om hulpbronne te bewaar. Willem het benadruk dat Agri NW altyd ‘n onafhanklike siening oor sake sal handhaaf en demokraties in sy besluitneming sal wees. “Ons moet voortbou op die waardestelsel waarop die organisasie se ontstaan geskoei is. Daar moet eers geluister word, dan beplan word en hieruit sal optrede vloei.”
Nelius Beyers, voorsitter van die jongboerkomitee, het aan jonger lede gesê dat pligsbesef by hul huise begin en dat hulle daarna moet streef om ‘n voorbeeld van betrokkenheid vir hul kinders te stel. “Begin deur vergaderings by te woon. Só kry jy blootstelling aan groter geleenthede wat van onskatbare waarde is.
Ons moet self: Watter woord is die belangrikste?

Volgens Johann Kotzé, hoof- uitvoerende beampte van Agri SA, is dit “ons” omdat dit beklemtoon dat die oplossing nie ekstern lê nie. “Die groot dryfvere van landbou se bestaan is ‘n groeiende bevolking, verstedeliking en ‘n veranderende klimaat,” sê Johann.
Beide kommersiële én bestaansprodusente is nodig om aan die groeiende vraag na voedsel te voldoen. “Tot 68% van mense in Suid-Afrika woon in stede en daar word gereken dat hierdie syfer tot sowat 80% binne 25 jaar sal groei. Dit plaas druk op die platteland, omdat dit ontvolk word, maar steeds kos vir stede moet produseer.”
Klimaatsverandering beïnvloed verbruikers se kooppatrone deurdat hulle poog om meer omgewingsvriendelike keuses uit te oefen.
“Ons gaan nooit weer terugkeer na ‘n orde soos vóór 1994 nie, want dit bestaan nie. Die wêreld is eerder kompleks en lande afhanklik van mekaar.”
Johann het die belangrikheid van begrip van ‘n situasie verduidelik deur te verwys na ‘n vroeë uitbreking van varkpes in Suid-Afrika. Varke is ‘n goedkoop vleisbron en Johann het besef dat armoede ‘n groot dryfveer agter die verspreiding van die siekte was.
Daar is gevolglik besef dat bestaansprodusente ingelig sou moes word oor die belangrikheid van biosekuriteit. ‘n WhatsApp-groep is gestig waarvan tot 375 000 van hierdie bestaansprodusente deel geword het. Hier is hulle touwys gemaak oor maatreëls wat hulle kon instel om die verspreiding van die siekte te bekamp en kon hulle hulself begin bestuur.
Verandering word nooit alleen bewerkstellig

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, het gesê dat verandering nooit alleen bewerkstellig word nie. “Die fokus is egter op gemeenskapspolitiek en nie dié van ‘n party nie.”
Hy het aan kongresgangers gesê dat hulle ‘n uitdaging moet verstaan om dit te kan hanteer. “Die ou hefbome vir verandering, soos ‘n munisipaliteit, is weg en ons moet daarvan afskeid neem.”
Hy waarsku dat verval op die platteland ‘n kettingreaksie het en nou reeds in stede soos Bloemfontein en Johannesburg sigbaar is. “‘n Vakuum wat verval veroorsaak, is besig om te ontstaan. Ons moet daardie vakuum betree en met orde vul voor ander elemente dit betree. Herordening is die goue middeweg.”
Hoewel howe nie ‘n “towerstaffie is om dinge reg te ruk nie”, glo Piet dit bied ‘n gesaghebbende platform om ‘n kwessie in die openbaar te besleg. “Dit is byvoorbeeld beter as nasionale dialoog en bied die geleentheid om alternatiewe in plek te stel. Die pad vorentoe lê in samewerking op organisasievlak op ‘n wyse wat gesag afdwing, tesame met litigasie.”
Plaaslike regerings is nie meer plaaslik nie

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van Afriforum, het verwys na die “de facto-vierde regeringsfeer” wat behels dat georganiseerde gemeenskappe funksies in kleiner geografiese gemeenskappe uitvoer.
“Plaaslike regerings is lankal nie meer plaaslik nie. Inwoners van ‘n dorp het ‘n beter begrip van wat daar aangaan en meer energie om probleme te takel as regeringsamptenare in ‘n kantoor in ‘n ander dorp,” het hy verduidelik.
Hy het verwys na verskeie inisiatiewe van Afriforum wat dienste vervang wat munisipaliteite veronderstel is om te lewer, soos vullisverwydering.
Ons is nie eienaars van ons plase nie, maar rentmeesters

Dominee Willem Badenhorst van die Moreleta-kerk het verskeie teksverse uit Nehemia aangehaal en aan kongresgangers gevra hoe hul “geestelike mure” lyk.
“Ons moet erken ons is nie die eienaars van ons plase nie, maar eerder rentmeesters. Gebed is die hoofslagaar van ons verhouding met God. Julle moet brûe bou met bure en jul werkers, nie mure nie.
“Die toekoms lê nie in politiek of tegnologie nie en is in God se hand. Jy is eers ‘n kind van God, dán ‘n boer. Boer eers met gebed, dan met mielies. Eers met geloof, dan met sonneblom. Eers met vrede, dan beeste.”
Platteland bevat stories van hoop

Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, het uitgebrei oor suksesverhale van samewerking op die platteland, na aanleiding van die Oplossings vir die platteland-kongres wat dié publikasie verlede jaar by Nampo Park by Bothaville aangebied het.
“Ons sien eerstehands die verval op die platteland. As ‘n organisasie wat stories vertel, het ons besluit om vir diegene wat reeds iets op die platteland doen ‘n platform te bied om hulle stories te vertel en hul hand te versterk.
Altesaam 77 sprekers het oor twee dae hul stories van hoop gedeel. Hulle het vertel hoe inisiatiewe en samewerking gelei het tot oplossings vir probleme soos voedseltekorte, misdaad en slaggate. “Probleme gee vir ons ‘n gesamentlike doel. Dit is een van die redes waarom koöperasies op die been gebring is. Die ou wat géé, kry eintlik meer as die een wat ontvang. Om te help is waarlik edel.”
Hoe lyk die pad vorentoe?
Willem en Nelius het hierna die gesprek opgesom en die volgende belangrike punte uitgelig:
- Winsgewendheid as hefboom: ’n Volhoubare en winsgewende landboubedryf kan help om plaaslike infrastruktuur en sosiale uitdagings te verlig, en dra by tot die breër gemeenskap se welvaart.
- Plaaslike impak en verantwoordelikheid: Die bydrae van produsente en plaaslike besighede is besonders groot in kleiner dorpe waar hulle ’n sigbare verskil kan maak, veral binne die vakuum wat deur ’n falende staat gelaat word. Indien die vakuum nie gevul word nie, sal wetteloosheid toeneem.
- Kennis en data: Om doeltreffende gesprekke met die staat en ander belangegroepe te kan voer, moet landbouers die beste ingelig wees en toegang hê tot intydse, betroubare data.
- Plaaslike oplossings: Plaaslike probleme verg plaaslike oplossings. Die federale struktuur van produsenteverenigings is ideaal om daadwerklik en prakties ’n verskil te maak.
- Nuwe maniere van invloed: Die tradisionele maniere van beïnvloeding is nie meer voldoende nie. Breër samewerking met diverse organisasies en die gebruik van nuwe strategieë en platforms is noodsaaklik om impak te hê.