
NWK se personeel het weereens bewys dat hulle die maatskappy se Betrokka-strategie ter harte neem. Nie net ontsien hulle geen moeite om puik klantediens te lewer nie, hulle is ook aktief betrokke by aksies wat die maatskappy loods om ’n daadwerklike verskil in ons gemeenskap te maak.
Só sou meer as 20 NWK-direksielede en -werknemers op 16 November aantree vir ’n Ysterman in Mosselbaai ten bate van Agri Securitas. Teen druktyd het ons reeds bykans R365 000 vir hierdie doel ingesamel en het elkeen nog onverpoos gewerk om nóg donasies hiervoor te werf.
Dit sou van hulle se eerste halfmarathon van 21,1 km wees, ’n eerste fietswedren van 90 km of ’n swem in die oop see van bykans 2 km. Hulle het hárd geoefen in die koue wintermaande en geswéét in die weke in aanloop tot hierdie uitdaging. Ons bedank elkeen vir hulle opoferringe om ons mikpunt van R1 miljoen vir Agri Securitas te help verwesenlik.
Elkeen van ons is in ’n wedloop van ons eie gewikkel om 2025 te voltooi. Ons is tans in die pylvak wat ons kan vergelyk met die bekende Comrades-ultramarathon se Polly Shorts – ’n stywe bult van 2 km – sowat 8 km van die einde van dié 90 km wedloop. Die bene kramp, die asem blaas en ons energie is min. Gee jou álles en kruip oor daardie eindstreep as jy moet!
Die feestyd wink en ons moet tyd maak om stil te staan by dit wat saakmaak – ons Skepper en ons geliefdes.
Kyk op uit die kajuit van jou trekker waaruit jy plant en waardeer opnuut die sonopkoms of -ondergang. Maak tyd om jou kind of kleinkind op jou skoot te tel en te vertel van die Grootste Geskenk wat die Here vir ons gestuur het.
Geseënde Christusfees! Mag julle ’n veilige blaaskans vol vreugde ervaar.
Pieter Kleingeld
Hoof- uitvoerende beampte, NWK






