
Hoewel die tafel gedek was vir ʼn uiters positiewe landboujaar, het oormatige reën in kritieke produksiestadiums van landboukommoditeite, NWK se winste gekniehalter.
Bogemiddelde mielie- en sojaboonopbrengste is wel behaal, maar die gehalte van mielies en die opbrengs van sonneblom was laer as die gemiddelde – juis weens die oorvloedige reën.
Volgens NWK Beherend Beperk se tussentydse finansiële resultate wat Vrydag bekendgemaak is, het die maatskappy se graansegment teen 31 Oktober ʼn wins van R36 miljoen behaal, in vergelyking met R77 miljoen teen 31 Oktober 2024.
Dit kan grootliks toegeskryf word aan die laat oes, die oordrag van lae voorraadvlakke, asook premies en drakoste van bemarkingsvoorraad wat waarskynlik in die volgende ses maande verhaal sal word.
Volumes wat ontvang is, was beduidend hoër as in die vorige seisoen en daar word daarom verwag dat die tweede helfte van die finansiële jaar ʼn meer rooskleurige prentjie inhou.
Teen 31 Oktober het die NWK-groep ʼn gekonsolideerde inkomste van R3 014 miljoen (R2 943 miljoen teen 31 Oktober 2024) en ʼn gekonsolideerde nabelaste wins van R5 miljoen (R69 miljoen teen 31 Oktober 2024) gerealiseer.
Die handelsegment se inkomste het met 11% gegroei deurdat ʼn inkomste van R1 752 miljoen (R1 576 miljoen teen 31 Oktober 2024) behaal is, wat ʼn wins van R54 miljoen (R5 miljoen teen 31 Oktober 2024) opgelewer het.
Winste het met 80% verbeter, grootliks deurdat die maatskappy besig is om sy brandstofkleinhandelbesigheid te herposisioneer deur brandstof nou ook op plase af te lewer. Meganisasie het ook uitstekend herstel nadat dit die vorige jaar ʼn verlies getoon het en die vooruitsigte vir die res van die jaar is ook positief.
Insetverskaffing, wat die maatskappy se aanbod van saad, chemie en vloeibare kunsmis insluit, het beter as verwag presteer danksy goeie vooruitsigte vir die komende produksieseisoen.
Die gebrekkige gehalte van sonneblomsaad het regstreeks tot die verlies van R70 miljoen by Epko Oil Seed Crushing bygedra. Dié sonneblomoliepers het teen 31 Oktober 2024 met ʼn wins van R27 miljoen gespog.
Tog is die maatskappy se direksie en bestuur optimisties oor die res van die jaar, gegewe die positiewe klimaatvooruitsigte en innoverende produk- en diensaanbiedinge. Dit sluit die onlangs bekendgestelde DJI T100-hommeltuig in, met verbeterde werkswinkel- en versieningsvermoëns deur AgTech@NWK; asook verbeterde drogingskapasiteit by van die silokomplekse.
ʼn Dividend van 23 sent per aandeel (R25 miljoen in totaal) is verklaar om aan aandeelhouers uit te keer.






