
By NWK hou ons ook asem op oor wat die seisoen vir ons mag inhou. Ons het die afgelope twee jaar een van die droogste en daarna een van die natste seisoene in ’n baie lang tyd beleef – elkeen met sy unieke uitdagings.
Elke jaar staan ek verstom oor hoe innoverend en veerkragtig ons bedryf en ons produsente is … of in Afrikaans: “Jou geld kan op wees, maar net nie jou planne nie!”
Dit laat my dadelik dink aan my pa se woorde: “’n Goeie boer kan jy aan sy deurgeskaafde knieë uitken.” My gebed vir elke produsent is dat genoegsame reën op die regte tyd sal val, en dat die Vader sy hand van seëning in dié seisoen oor jou en jou familie sal hou. Doen wat jou hand vind om te doen, en die Vader sal vir die res sorg.
Kerstyd is die tyd van die jaar wanneer ons vir ’n oomblik moet briek aanslaan. Dis die tyd wanneer
ons weer moet besef hoeveel genade ons verniet ontvang deurdat daar soveel jare gelede vir ons ’n Verlosser gebore is in Betlehem.
Dis die tyd wanneer ons moet onthou dat al wat Hy van ons verwag is om Hom lief te hê en lief te wees vir ons naaste. Dis die tyd wanneer ons as families bymekaar moet kom en vir mekaar vertel dat ons omgee vir mekaar, dat ons belangrik is vir mekaar, dat ons lief is
vir mekaar.
Mag hierdie feestyd vrede na julle huise bring, vreugde na julle harte en rus na julle hande.
Groetnis
Pieter Jansen van Vuuren
Voorsitter NWK Beperk






