
In my vier dekades op aarde was die jare 1996, 2006 en 2016 aan noemenswaardige gebeurtenisse en/of verandering gekoppel. Is dit toevallig dat ’n jaar wat die syfer 6 bevat nog altyd ’n skommeling van een of ander aard vir my ingehou het?
Ek gaan snuffel op Google en vind dat daar geglo word dat die syfer 6 die mens en sy onvolmaaktheid simboliseer, aangesien die (sondige) mens op die sesde dag geskep is.
Op ’n ander plek lees ek dat ses nie net harde werk simboliseer nie, maar ook rus voorafgaan, deurdat die Here ons juis in die vierde gebod beveel om op die sewende dag te rus omdat hy weet dat die mens in sy onvolmaaktheid nie sewe dae aaneen (of aanhoudend) kan werk nie.
Ek weet nie wat die jaar vir my inhou nie. Ons almal hunker na sekerheid, terwyl die enigste ding waarvan ons seker kan wees, verandering is.
Ek werk deur die geloofsouteur, Milanie Vosloo, se Sielsgedagtes. Sy skryf by 27 November hoe sy en haar kleinseun besig was om vissies in poele met ’n net te vang. Die seuntjie (4) trippel opgewonde rond, maar raak dan gefrustreerd wanneer die sand na bo styg en die water te troebel raak om enigiets te sien. “Dis dán wanneer ek hom elke keer weer daaraan moes herinner dat hy eers sal moet stilstaan sodat die modder kan gaan lê voordat hy weer die lekker van vissies vang kan voortsit.”
Sy skryf dat volwassenes op ander maniere “vis” vang in die poele van die lewe. Hierdie poele raak ook troebel deur beide ons eie toedoen en faktore buite ons beheer. “Dis dan wanneer ons uit frustrasie, spanning, vrees, ongeduld of moedeloosheid begin rondtrippel … net sodat die modder nog meer opstyg.
“Kom ek en jy kies om in modder-moedelose tye stil te staan by die Een wat ons omstandighede ken, ons harte verstaan en enige modderpoel weer glashelder, mooi en rustig kan maak.
“Heilige Here, help my om stil te staan – veral as alles in my wil rondhardloop! Ja, help my dan om stil tevrede in genade te bly.”
In ons desperate, ongeduldige soeke na antwoorde en sekerheid, maak ons dikwels die water om ons net meer troebel. Daarom is bogenoemde vir my ’n baie gepaste boodskap om enige nuwe jaar mee tegemoet te gaan.
Ons kan dit slegs regkry deur juis te rus. Deur oor te gee (nie op te gee nie). Deur elke dag tyd te máák vir stil word. Dit is eers wanneer ons werklik stil is, dat ons Sy stem hoor en wéét Hy is die Heer.
Wat 2026 inhou, is onseker, maar dat Hy langs jou sal wees met elke tree … gewaarborg!






