
Grondversuring in Suid-Afrika het nog nie ’n draaipunt bereik nie. Dit is wêreldwyd, asook in Suid-Afrika, een van die grootste oorsake van verliese in graanproduksie. In hierdie artikel word hernude lig op hierdie krisis in graanproduksie gewerp.
Die Suid-Afrikaanse graanbedryf benodig elke jaar na beraming meer as 2,2 miljoen ton landboukalk om grondversuring te bekamp, wat deur die gebruik van gereduseerde stikstof-kunsmis veroorsaak word. Die verwydering van basiese katione deur die gewas, asook die loging van hierdie katione as gevolg van hoë reënval, dra by tot hierdie verskynsel.
Tydens die afbreking van gewasreste vorm daar organiese en anorganiese sure, asook waterstof (H+), wat die plant in die grond afskei. Verder versnel die vinnige afbreking van grond-organiese materiaal as gevolg van bewerking ook hierdie jaarlikse versuringstempo.
Statistieke, soos aangehaal deur Fey (2001), dui daarop dat ongeveer 5 miljoen hektaar in Suid-Afrikaanse gronde erg versuur is en ’n verdere 11 miljoen hektaar matig versuur is.
Volgens Van Zyl (2020) en Van Zyl (2024) is dit duidelik dat daar nog nie ’n draaipunt gekom het in die tempo van grondversuring nie. Die omvang van grondsuurheid en ondergrondse versuring in Suid-Afrika dui op ’n probleem van nasionale belang.
Neem grond- en plantmonsters
Stygende insetkoste veroorsaak dat produsente nie meer kan bekostig om te raai oor die voedingstatus van hulle gronde nie. Grondontledings is van kardinale belang en moet ten minste een keer elke drie jaar, verkieslik op ’n ruitmetode, gedoen word om te verseker dat bekalking so doeltreffend as moontlik gedoen word. Daar word aanbeveel dat ondergrondse monsters ook op ’n ruitmetode geneem word sodat die produsent hom/haar kan vergewis van die ondergrondsuurheid se status.
Gereelde gewasinspeksies tydens die groeiseisoen is ook noodsaaklik om te bepaal of daar tussenbeide getree moet word voor geskeduleerde regstelling gemaak word.
Neutraliseer grondsuurheid gereeld
Om suurheid te neutraliseer, moet die H+-ione met ander ione van ’n alkaliese aard reageer. Bekalking met kalsitiese en dolomitiese kalk (landboukalk) word algemeen hiervoor gebruik.
Wanneer suiwer kalsiumkarbonaat met suur grond (’n oormaat H+-ione) vermeng word, is die eindprodukte kalsium (Ca²+), wat ’n makrovoedingselement is, water (H2O) en koolstofdioksied (CO2). Die ongewenste waterstofione (H+) bind met suurstof (O2) om water in die grond te vorm, wat neutraal en dus gewens is. ’n Vereenvoudigde voorstelling van dié reaksie is as volg:
CaCO3 + 2H+ → Ca²+ + H2O + CO2
Dolomitiese kalk bevat beide kalsiumkarbonaat (CaCO3) en magnesiumkarbonaat (MgCO3). Die magnesiumkarbonaat het ’n soortgelyke reaksie as kalsiumkarbonaat en lewer magnesium (Mg²+) as makrovoedingselement, water (H2O) en koolstofdioksied (CO2). Dié reaksie word ook vereenvoudig as volg voorgestel:
MgCO3 + 2H+ → Mg²+ + H2O + CO2
Die magnesiuminhoud van landboukalk bepaal of die produk dolomietiese of kalsitiese kalk is. Indien die magnesiuminhoud minder as 4,3% is, is die kalk kalsities, en indien dit meer as 4,3% is, is die kalk dolomities.
Die Mg- en Ca-ontleding van die grond is nodig om vas te stel of dolomitiese of kalsitiese kalk toegedien moet word. In Figuur 1 kan die soort kalk bepaal word na gelang van die Ca:Mg-massaverhouding en die Mg-ontleding (Fouche, 1979).

HOEVEEL KALK IS NODIG?
Daar bestaan verskeie metodes om die kalkbehoefte (t/ha) te kwantifiseer. Slegs twee word bespreek, naamlik:
- Grond-pH(KCl) en tekstuur
Met hierdie metode word verskeie tabelle gebruik om die kalkbehoefte, uitgedruk in CaCO3, te bepaal en dan met die bekalkingsregstellingsfaktor (BKF) aan te pas. Die tabelle is opgestel om die grond-pH tot op ’n diepte van 150 mm reg te stel. Die mikpunt is om die pH(KCl) by verskillende grondtekstuurpersentasies tot by 5 te neem.
- Inkubasie van grond met suiwer CaCO3
Spesifieke massas grond word met akkuraat bepaalde hoeveelhede CaCO3 vermeng, wat verskillende toedieningshoeveelhede verteenwoordig. Genoegsame tyd word toegelaat sodat die volledige reaksie met die ideale hoeveelheid vog kan plaasvind in beheerde laboratoriumtoestande. Sodoende word ’n neutralisasie-kurwe opgestel en kan die hoeveelheid kalk benodig vanaf die kurwe afgelei word.
Hierdie waarde word dan verwerk deur die bewerkingsdiepte, die brutodigtheid en die bekalkingsregstellingsfaktor (BKF) te gebruik. Sodra ’n kurwe op ’n spesifieke grond opgestel is, kan dit ook in die toekoms gebruik word.
Die inkubasiemetode word algemeen beskou as waarskynlik die akkuraatste metode – veral as die spesifieke kalk wat toegedien gaan word in die inkubasie gebruik word. Dit is meer tydsaam om uit te voer. Dit is ook belangrik dat die kalkbehoefte-bepalingsmetode herhaalbare waardes moet gee en spesifiseer watter gronddiepte van toepassing is.
ONDERBEKALKING
Alhoewel daar met groot sorg berekenings gedoen word ten einde die optimale pH te bereik, vind onderbekalking steeds plaas. Indien onderbekalking wel plaasvind, het die volgende faktore moontlik daartoe bygedra:
- Kalk is toegedien, maar nie van die bron waarop die berekenings gedoen is nie.
- Dit kan bloot wees dat die korrekte hoeveelheid kalk nie toegedien is nie. Dit is baie belangrik dat die strooier reg gekalibreer en die strooipatroon reg gevolg word om die regte hoeveelheid kalk toe te dien.
- Die regte hoeveelheid kalk is toegedien, maar die kalk is nie doeltreffend ingewerk nie.
- Dit is moontlik dat die hoeveelheid kalk wat toegedien moes word, verkeerd bereken is deur ’n foutiewe aanname oor die bruto digtheid van die kalk en grond.
- Die kalkbehoefte is bepaal op grondmonsters wat nie verteenwoordigend van die geteikende grondprofiel is nie.
- Nog ’n rede kan wees dat die kalk wat gebruik is, ’n laer neutralisasiewaarde het as wat aanvaar is.
Onderbekalking lei tot onvoldoende neutralisasie en kan tot oesverliese lei. Indien dit nie gekontroleer word nie, kan gronde versuur sonder dat die produsent daarvan bewus is. Hierdie versuring kan volgens Haumann (1986) ’n oesverlies van 10% veroorsaak by mielies wat op grond met pH(KCl)-vlakke van tussen 4,5 en 4,0 (Grafiek 1) geproduseer word.
Daar word ’n verdere 30% oesverlies by grond-pH(KCl)-vlakke van kleiner as 4 verwag. Haumann (1986) het bewys dat die opbrengs by ’n grond-pH(KCl) van bo 5,2 nie meer deur die pH van die grond beïnvloed word nie.

Toepassing in die praktyk
Moet ’n produsent dan net bekalk tot by 5,2 of hoe word dit in die praktyk toegepas? Aangesien die bekalking van ’n spesifieke land slegs elke drie tot vier jaar gedoen word, word dit aanbeveel om vir ’n pH(KCl) van 5,5 of selfs hoër te mik, afhangende van die versuringstempo. Dit sal verseker dat die maksimum voordele van bekalking verkry word totdat daar weer bekalk word.
Indien na ’n praktiese voorbeeld gekyk word, soos in Tabel 2, waar twee produsente reg langs mekaar mielies verbou, kan gesien word dat daar oor vier seisoene ’n verskil van R15 705/ha gerealiseer het. Produsent A het presisie-opnames gedoen en daarna variërend bekalk. Hierdie verskil is nadat die bekalkingskoste en ontledingskostes reeds afgetrek is. Produsent A het dus oor ’n tydperk van vier jaar 34,5% beter as produsent B gevaar.
Die versuring van Suid-Afrikaanse gronde is ’n groot uitdaging en kan slegs bestuur word as dit gereeld gemeet word. Hierdie metings moet gebruik word om ’n goed berekende bekalkingsprogram in plek te stel, wat ten minste elke drie jaar herhaal word.

Samevatting
Versuring van grond is ’n realiteit en besig om te vererger. Kalk is ’n goedkoop bron wat versuring teenwerk en die optimale opname van voedingstowwe deur die plant verbeter. Hou dus jou fondasie reg.
Bronnelys
- Fertasa, 2016. Bemestingshandleiding. Agtste hersiene uitgawe. Fertiliser Association of Southern Africa. Posbus 75510, Lynnwoodrif, Suid-Afrika
- Fey MV, 2001. Acid soil degradation in South Africa: A threat to agricultural productivity? Misstofvereniging. Suid-Afrika. J., 37-41
- Fouché PS, 1979. Kalkbehoefte. Misstofvereniging. Suid-Afrika. J., 1, 25-28
- Haumann PE, 1986. The influence of liming and phosphate application on the acid properties of three soils under maize (Zea Mays L). Ph.D. Agric. thesis, University of Free State
- Van Zyl K, 2020. Die onsigbare bedreiging vreet aan graanoeste. SA Graan/Grain, Julie 2020
- Van Zyl K, 2024. Ondergrondsuurheid beperk steeds opbrengste. SA Graan/Grain, Julie 2024






