
Arno Janse van Vuuren (65), voormalige tegniese redakteur van NWK Arena, is op 17 November ná ’n moedige stryd teen kanker oorlede. Hy het 29 jaar op die tydskrif se redaksie gedien, waarvan hy 14 jaar die voorsitter van die redaksionele komitee was. Hy was vanaf 2011 tot 2019 die redakteur en sedert 2020 die tegniese redakteur.
Sy loopbaan by NWK het op 12 Januarie 1987 begin. Hy het op 30 April 2022 afgetree as bestuurder van Landboubestuursdienste (nou AgTech@NWK) ná 35 jaar diens by die maatskappy. Hierna het hy op ’n kontrakbasis aangebly as die tydskrif se tegniese redakteur tot met sy afsterwe.
Kollegas bring hulde
“Dit is ’n groot slag vir ons as sy kollegas en ook vir die tydskrif se getroue lesers,” sê Nicolene Smalman-Kotze (redakteur).
“Toe ek in 2019 vir die tydskrif begin skryf het, het ek altyd gespot dat ek van ‘Brixton Moord en Roof’ is, omdat ek grootliks oor misdaad en ander ‘harde nuus’-kwessies verslag gedoen het en nie tegniese kennis van landbou gehad het nie.
“Arno het my egter nooit uit my diepte of ‘dom’ laat voel nie. Hy kon ingewikkelde en wetenskaplike onderwerpe altyd op ’n verstaanbare wyse verduidelik – nie net vir ons redaksielede nie, maar ook vir die lesers. Hy het boonop goeie insig in joernalistieke kwessies soos taalgebruik en bladuitleg getoon en ons het baie lekker saamgewerk.
“Hy het werklik omgegee vir sy kollegas op die redaksie, belangstellend uitgevra oor ons lief en leed en ons bemoedig waar nodig. Op ’n persoonlike vlak was sy onwrikbare geloof, lus vir die lewe en humorsin regdeur sy siektestryd werklik ’n inspirasie. Rus sag, liewe Arno.”
Johan Bezuidenhout (groepbestuurder van Korporatiewe Bemarking en Kommunikasie by NWK) sal nou as voorsitter van die redaksionele komitee dien.
“Arno was een van die eerste kollegas wat ek met my aanstelling by NWK in 2004 ontmoet het. Ons het vir 21 jaar baie nou saamgewerk as deel van die redaksionele komitee aan die stuur van NWK Arena, wat in gedrukte formaat as die spreekbuis dien om met klante, aandeelhouers en personeel te kommunikeer oor NWK-sake en landbou as wetenskap.
“Ek onthou Arno as ’n man van inbors, integriteit, deeglik, berekend en analities. Hy was een van die beste landboukundiges met wie my pad in landbou gekruis het. Ek het altyd vir Arno gesê as hy vir my biologie en wetenskap op hoërskool gegee het, my uitslae aansienlik beter sou gewees het.
“Innovasie en tegnologie het deel van ons lewens geword en só was dit dan ook met Noordwes-Nuus, nou bekend as NWK Arena. Ons het die visie as span gehad om die tydskrif na ’n geïntegreerde digitale model om te skakel. Vandag kyk ons as span terug en kan ons met reg trots wees op ’n job well done.
“Arno, jou stoel en plek rondom die redaksionele komiteevergaderingstafel gaan vir altyd leeg wees. Ons belowe jou dat ons mooi na dié baba van ons sal omsien.
“Die laaste paar jaar was ’n moeilike pad vir jou en jou gesin, maar jy was ondanks die swaarkry steeds die tydskrif se tegniese redakteur en dit was een van jou gróót liefdes. Ons het berusting gevind en ons weet jy is nou by ons Hemelse Vader.”
Johan Smit, bestuurder van Infoworks (uitgewer van NWK Arena), sê dit was “altyd ’n voorreg” om saam met Arno te werk sedert Infoworks in 2012 as uitgewersvennoot aan boord gekom het.
“Die redakteurskap van ’n bedryfstydskrif soos NWK Arena verg onder meer uitgebreide landboukundige kennis (waaroor Arno by uitstek beskik het), geslypte taalvaardigheid en ’n oor op die grond-nuussin.
“Dan natuurlik die vermoë om as ambassadeur van die publikasie brûe te bou met kollegas, artikelskrywers, adverteerders en meningsvormers om deurentyd die tydskrif se geloofwaardigheid te verseker. Hierdie eienskappe het Arno tot op die laaste oomblik getoon – ernstig, toegewyd, presies, dikwels vernuwend, maar altyd met waardigheid en respek teenoor elke spanlid.”
Louise Kunz (projekbestuurder van NWK Arena) se pad het in 2013 met dié van Arno gekruis toe Infoworks die tydskrif se bestuur oorgeneem het. Sy moes deurentyd met Arno skakel om die nuuslys op te dateer en die tydskrif op skedule te hou.
“Aanvanklik het ek maar katvoet geloop vir hierdie kundige man met die netjiese hare en ongekreukelde klere. Arno se passie vir landbou, die NWK Arena-tydskrif en die Afrikaanse taal het my egter diep beïndruk.
“In ons redaksiekomiteevergaderings en skakeling rakende die tydskrif se inhoud, het ek gou ontdek dat hy eintlik iemand met ’n sagte hart en ’n baie fyn sin vir humor is – ’n persoon wat lekker kon gesels oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe. Hy het nie gehuiwer om komplimente (en soms ook kritiek) uit te deel nie, maar was altyd ’n ware gentleman in sy optrede. Arno het dit nogal geniet om ons so ’n bietjie te terg as ons ’n ‘dom fout’ misgekyk het – en mettertyd het my ‘bewe’ plek gemaak vir ’n kosbare vriendskap.
“Wat my die meeste getref het tydens sy gesondheidsuitdagings sedert 2019, is dat hy nooit gekla het nie. Hy het deurentyd onwrikbare geloof geopenbaar dat hy die kanker weer ’n vuishou sou toedien. Elke navraag is beantwoord – met dankbaarheid vir ons belangstelling.
“Arno se betrokkenheid by die tydskrif gaan beslis gemis word – nie net sy kundigheid nie, maar ook sy glimlag, omgee en uniekheid.”
Ruth Schultz van Schmiltz Marketing (advertensiekonsultant) het in 2010 vir Arno by NWK leer ken as bestuurder van Landboubestuursdienste (nou AgTech@NWK), toe sy as projekbestuurder en joernalis by NWK se bedryfsinligtingsblad, Koördinaat (voor NWK Arena se ontstaan) gewerk het. Ruth het met Arno gekommunikeer om sy afdeling se nuus vir dié blad te kry.
“Ek sal Arno altyd onthou vir sy sagte glimlag wanneer hy jou gegroet het, asook die manier waarop hy met soveel kennis en insig ernstig met jou oor landbou kon gesels.”
Later jare het Ruth as advertensiekonsultant by NWK Arena aangesluit.
“Arno se deeglikheid in alle fasette van die publisering van NWK Arena, asook sy lojaliteit en passie teenoor die tydskrif, is iets wat my altyd sal bybly. Sy deurlopende dankbaarheid teenoor elke spanlid se bydrae en harde werk, ten spyte van sommige uitdagings, was ook altyd ’n groot inspirasie vir my.”
Bydraes tot landbou as wetenskap onthou
Martiens du Plessis is ’n onafhanklike grondkundige en sal nou as tegniese redakteur van die tydskrif dien.
Hy het saam met Arno by NWK gewerk en was ’n hegte vriend. Hy sal Arno onthou vir sy entoesiasme vir landbou. “Arno het by NWK as hoof van die navorsingsafdeling begin werk. Hy het NWK se proefplaas en die proewe wat daar geplant is, tot ’n nasionale standaard opgehef. Hy het selfs die Landbounavorsingsraad (LNR) se proewe in NWK se bedieningsgebied by die NWK-navorsingsprogram ingelyf en NWK se proewe is in die LNR se bundel vervat.
“Ná sy pa se dood, het hy hulle familieboerdery ook op sy vurk gelaai, terwyl hy steeds voltyds as bestuurder van Landboubestuursdienste gedien het. Hier was hy nie net die bestuurder nie, maar ook ’n mentor vir sy landboukundige span om die landbouwetenskap by elke landboukundige wat onder sy leiding gewerk het, in te dril en om hulle te leer hoe om die landbouwetenskap prakties op die plaas toe te pas. Hy was ook vir etlike jare deel van die span wat Graan SA se Boer van die Jaar aangewys het.”
Martiens het bygevoeg dat Arno ontsettend passievol oor landbouwetenskap was. “Arno was van meet af deel van die Gewasproduksievereniging van Suid-Afrika. Met sy kennis van landbounavorsing, het hy gereeld bydraes tot die vereniging gemaak en is hy raakgesien as ’n meningsvormer onder die lede van die vereniging. Hy is later tot die vereniging se raad verkies en is ’n paar jaar later ook tot president van die vereniging verkies.”
Martiens sal Arno ook onthou as ’n strateeg en filosoof. “Hy was ’n denker en kon geleenthede en bedreigings vooraf voorspel. In NWK het hy dit juis as lid van die departementele bestuurskomitee toegepas en het hy as meningsvormer talle strategiese denkrigtings gevestig.
“Hy was een van die inisieerders om die strategie te vestig wat tot die oorhoofse Raad vir die Gewasproduksie-, Grondkunde- en Hortologievereniging van Suid-Afrika gelei het. Dit het die drie vakverenigings onder een sambreel verenig met ’n gesamentlike sekretariaat, maar steeds elkeen onafhanklik met sy eie raad.
“As landboustrateeg, was dit Arno se passie om landboukundige kennis by NWK se klantebasis uit te kry. Daar het ook baie artikels uit sy pen gevloei. Veral tydens sy navorsingsloopbaan was dit sy droom dat elke produsent jaarliks ’n kopie van NWK Navorsing se navorsingsverslag in die hande moes hê.
“As bestuurder van die landboukundige span, het hy verwag dat elke landboukundige jaarliks minstens drie artikels moes skryf. Hy het die skryf van artikels as deel van ’n landboukundige se ontwikkeling gesien en ook as ’n geleentheid om ’n landboukundige aan NWK se klantebasis bekend te stel.
“As lid van die redaksionele komitee van die eertydse Noordwes Nuus en later NWK Arena, het sy strategiese leiding die tydskrif se standaard gelig sodat dié tydskrif verskeie kere die prys vir die beste tydskrif van die eertydse koöperasies en later landbou-ondernemings gewen het.
“Sy kritiese ‘rooi pen’ het elke landboukundige artikel tot ’n hoër vlak opgehef. Ek het selfs my eksterne artikels aan dié ‘rooi pen’ toevertrou. Sy impak by NWK Arena het diep spore gelaat en sal moeilik deur sy opvolgers oortref kan word.”
Laastens het Martiens Arno as vriend en kollega geloof. “Ek en Arno het in die vroeë 1980’s universiteitsbanke gedeel en derhalwe was hy vir my ’n lewenslange kollega, met wie ek oor komplekse landboukundige vraagstukke kon filosofeer om by die mees toepaslike wetenskaplike antwoord uit te kom.
“As deel van die landboukundige departement se bestuurspan, het ons talle ure aan strategiese denke gewy om die departement se pad vooruit te beplan en strategieë te implementeer.
“As vriende het ons ook ons albei se liefde vir die natuurlewe, vakansie-avonture en watersport met mekaar gedeel en het ons ons ook saam oor ons kinders se hoogtepunte verheug. Wanneer een van ons die lewe se driwwe teëgekom het, het ons dit sy aan sy aangedurf om saam anderkant uit te kom. Op sy plaas het ons saam ‘mielies gaan kyk’ en tussen sy beeste rondgeloop.
“Arno het ’n groot impak gemaak en ’n sterk fondasie as nalatenskap vir ons as landbougemeenskap agtergelaat waarop ons wat agterbly, net kan voortbou om nóg hoër hoogtes te bereik. Só sal die landbougemeenskap hierdie landbouwetenskaplike, strateeg, denker, leier, filosoof en landbouskrywer onthou.”
Arno se dogter, Arné Louw, sê dat NWK Arena vir haar pa ’n groot trots was en dat hy met groot opgewondenheid elke artikel en uitgawe aangepak het. “Dit was vir hom ’n groot passie.”







