
NWK het plaasveiligheid op só ‘n manier op die tafel gesit dat mense dit nie kan ignoreer nie. Dit is volgens Cobus van Zyl, voorsitter van Agri Securitas, nadat NWK R1 miljoen vir dié trustfonds ingesamel het met sy Ysters vir Landbou-inisiatief.
Die geld is reeds aan Agri Securitas oorbetaal en ‘n denkbeeldige tjek is Dinsdag (17 Februarie 2026) aan Cobus en Jason Kümm (landelike veiligheidsbeampte by Agri Securitas) by ‘n geselligheid by NWK se opleidingsentrum in Lichtenburg oorhandig.
Ysters vir Landbou-inisiatief

Die Ysters vir Landbou-inisiatief het behels dat NWK-werknemers en -direksielede asook hul families en ander lede van die Lichtenburg-gemeenskap op 16 November aan die Ysterman-kompetisie in Mosselbaai deelgeneem het. Sewe solo-deelnemers en 12 aflosspanne het hiervoor aangetree.
Hul deelname is aan ‘n aanlyn fondsinsameling gekoppel waarmee die meerderheid van die geld ingesamel is. Deelnemers aan die Ysterman is ook Dinsdag met ‘n sertifikaat van waardering vereer.
Die Ysterman is voorafgegaan deur ‘n aflos-uitdaging by NWK se hoofkantoor op 12 September wat deur Cobus bygewoon is. “Ek het gesien hoe julle met baie ywer weggespring het en dit het my gemotiveer om self ‘n afspraak by ‘n biokinetikus te maak en te begin oefen. Elke keer wat dit moeilik was om op te staan, het ek aan julle gedink. Julle was en is ysters,” het hy by Dinsdag se geleentheid gesê.
Cobus het elke deelnemer vir hul “opoffering” bedank, asook vir die fondse wat ingesamel is. “Hierdie geld gaan op die grond ‘n verskil maak. Ons trust werk met ‘n vaste proses sodat die geld verantwoordelik, regverdig en doelgerig aangewend word. Dit is altyd in samewerking met ons plaaslike strukture, veiligheidsnetwerke en ook die polisie.”
Agri Securitas het sedert 2024, R1, 295 miljoen onder boereverenigings in Noordwes versprei om veiligheidstrukture te versterk. “Die Ysters vir Landbou-inisiatief is vir my ‘n bewys dat as ‘n gemeenskap saamstaan, dinge gebeur. Julle inspireer, bring mense bymekaar en gee vir ons hoop dat ons ons omgewing ‘n veiliger plek kan maak.”
Alf White, groephoof- finansiële beampte van NWK, was die baasbrein agter die inisiatief en een van die solo-deelnemers. “Dit was nie sonder sy uitdagings nie! Die fondsinsameling het stadig begin en ek was op ‘n stadium baie bekommerd. Die deursettingsvermoë van elkeen wat fondse ingesamel het, was egter ongelooflik.
“Vennote van die maatskappy het ook ingetree en die hoeveelheid besighede wat na die tafel gekom het, was oorweldigend.”
Pieter Kleingeld, groephoof- uitvoerende beampte van NWK, het Alf vir sy harde werk agter die skerms bedank. “Hierdie groep se deelname aan die Ysterman het al ander mense gemotiveer en geïnspireer om na hulle gesondheid te kyk en ons wil graag die welstandsinisiatief na die res van die dorp uitbrei.
“NWK wil Ysters vir Landbou as ‘n handelsmerk registreer en sigbaar wees by ander byeenkomste soos plaaslike wedlope en fietswedrenne ten einde bewusmaking oor plaasveiligheid te verhoog.”
Die maatskappy beoog om vanjaar weer ten bate van Agri Securitas aan die Ysterman in Mosselbaai deel te neem. Diegene wat wil deelneem, kan Nita Goussard kontak by officemanager@nwk.co.za






