
‘n Gesamentlike poging tussen produsente, die Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF) en SAPD het gelei tot die arrestasie van twee verdagtes ná ‘n veediefstal voorval in die Bakerville-gebied buite Lichtenburg.
Op Maandag 23 Februarie 2026 omstreeks 11:00 is inligting ontvang dat ‘n bees met ‘n tou aan ‘n boom vasgemaak is in die Bakerville-gebied. Die toneel is ondersoek en foto’s van die oorplaatjie en brandmerk is geneem om die eienaar op te spoor. Kort daarna het die eienaar na vore gekom en toestemming gegee dat die dier as lokaas gebruik kan word om die verdagtes vas te trek.
Later die aand is ‘n voorlê-operasie uitgevoer. Omstreeks 23:00 het vier persone by die toneel opgedaag en die bees begin slag. Die bees karkas is daarna ongeveer 700 m te voet na ‘n pad gedra. Tydens die operasie is termiese nag toerusting gebruik om die verdagtes dop te hou.
Omstreeks 03:00 op 24 Februarie 2026 het ‘n voertuig opgedaag en die beeskarkas is op ‘n Ford Ranger dubbelkajuitbakkie gelaai. In samewerking met die GPF is die voertuig net voor Lichtenburg gestop met die beeskarkas agterop. Lichtenburg SAPD is onmiddellik in kennis gestel en die saak is aan hulle oorhandig.
Die saak het gister, 5 Maart 2026, in die Lichtenburg-landdroshof voorgekom. Ongeveer 37 produsente van die omliggende gebied het by die hof opgedaag om hul ondersteuning te toon dat borgtog nie toegestaan word nie.
‘n Petisie met 253-handtekeninge van produsente is ook aan die hof oorhandig waarin versoek word dat die beskuldigdes nie borg moet ontvang nie. Die Noordwes Rooivleisprodusente-organisasie was ook teenwoordig ter ondersteuning van die produsente en om hulle ondersteuning te wys aan die teenstaan van borgtog.
Advokaat Mrabe, wat die staat verteenwoordig het, het beklemtoon dat veediefstal as ‘n prioriteitsmisdaad geklassifiseer is in Suid-Afrika weens die enorme ekonomiese verliese wat dit veroorsaak. Borgtog vir die twee beskuldigdes is geweier op grond van die hoë voorkoms van die misdaad, asook moontlike intimidasie en inmenging met getuies, aangesien verdere persone nog betrokke kan wees en die ondersoek steeds voortduur. Die saak is uitgestel tot 9 April 2026.
Produsente al jare geteiken
Veediefstal bly ‘n ernstige probleem in die Bakerville- en Lichtenburg-gebied, waar produsente reeds vir jare deur georganiseerde veediefstal geteister word en groot finansiële verliese ly.
Volgens beskikbare statistiek het veediefstal tussen April 2024 en Maart 2025 na raming minstens R880 miljoen se direkte verliese aan die Suid-Afrikaanse landboubedryf veroorsaak.
Landbou is naas mynbou een van die grootste bydraers tot Suid-Afrika se ekonomie en voedselsekerheid. Die voortgesette toename in veediefstal hou ‘n ernstige bedreiging vir die volhoubaarheid van die bedryf en vir landelike gemeenskappe in.
Veediefstal is nie net ‘n misdaad teen produsente nie – dit is ‘n misdaad teen Suid-Afrika se voedselsekerheid en ekonomie.
Die RPO Noordwes moedig produsente aan om alle gevalle van veediefstal onmiddellik by die SAPD aan te meld en aktief betrokke te raak by plaaslike strukture wat teen veediefstal werk. Die stigting van veediefstal inligting sentrums in landelike gebiede speel ‘n belangrike rol in die versameling en deel van inligting wat help om dié misdaad te bekamp.
Wanneer ons saamstaan, inligting deel en saamwerk kan ‘n werklike verskil gemaak word in die stryd teen veediefstal.
Saam kan ons ‘n verskil maak!







