
Die Great Brick Run in Potchefstroom is ’n gewilde wedloop wat uit ’n halfmarathon van 21,1 km, 10 km en ’n pretdraf van 5 km bestaan. Dit word deur Berts Bricks Atletiekklub aangebied. Berts Bricks is een van die grootste baksteenondernemings in Suid-Afrika en is net buite Potchefstroom geleë.
Deelnemers aan die halfmarathon gaan draai op ongeveer 10,6 km in dié baksteenonderneming se fabriek om, waar hulle dan die keuse het om ’n baksteen op te tel en daarmee na die eindstreep terug te hardloop. Jy “ruil” by die eindstreep jou baksteen “in” vir ’n sespak bier van jou keuse.
Dit is geen geringe taak om met ’n baksteen van ongeveer 2 kg altesaam 10,6 km te hardloop nadat jy reeds 10,6 km afgelê het nie. Buiten dat dit swaar is, is dit ’n ongemaklike voorwerp om mee te hardloop, omdat dit nie regtig vashouplek het nie en jy dit as’t ware in een hand moet vasklem.
Ek het met my deelname aan die halfmarathon op 24 Januarie met groot belangstelling die deelnemers dopgehou wat wél ’n baksteen geneem en daarmee na die eindstreep gemik het. Sommige laat dit moeiteloos lyk, maar die meeste sê les op om die wedloop met die ekstra gewig te voltooi.
Van hulle hardloop met ’n lap-inkopiesak waarin hulle die baksteen prop. Ander sit dit in ’n rugsak, maar besef later dat dit nie baie slim was nie omdat die baksteen nogal hard op jou rugwerwels kap elke keer wat jou tekkie die teer slaan.
Die beloning by die eindstreep is egter groot! Yskoue bier wag op hulle
en baie deelnemers knak die eerste een daar en dan.
Ek het nie ’n baksteen opgetel nie, dankie! ’n Halfmarathon is uitdagend genoeg sónder ’n baksteen! Dan hoes ek eerder self die R100 wat ’n sespak Flying Fish kos.
Tog het ek groot bewondering vir die dapperes wat wel ’n baksteen neem en daarmee die wedloop voltooi. Die lekkerste deel van hulle hele wedloop is wanneer hulle daardie baksteen uiteindelik kan neersit! Dit is vir my simbolies van ’n gelowige wat sy/haar (swaar) bagasie by Jesus se voete neersit. Daardie verligting wat hulle ervaar …
Ons het nog betreklik min “kilometers” in 2026 afgelê. Tog is baie mense met wie ek praat se tenks reeds leeg. Die spreekwoordelike wiele is pap. Ons kreun almal onder die gewig van een of ander probleem. ’n Beeskudde wat lamgelê word deur bek-en-klouseer. Mielies wat hittestres ervaar terwyl die reën wegbly. ’n Geliefde wat die stryd teen kanker verloor. Gebrekkige finansies wat dit onmoontlik maak om jou kind universiteit toe te stuur.
Dis komplekse probleme, sonder eenvoudige oplossings. 1 Petrus 5:7 sê: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.”
Ek het al gebid vir uitkomste wat ek nie gekry het nie – of ek het ander uitkomste gekry as waarvoor ek gevra het. Tog het elke probleem waarmee ek nog geworstel het, ligter gevoel deur net met my Skepper daaroor te praat. Hy verstaan. Ons sal eendag ook.







