Suidelike Afrika is bekend vir sy ryk verskeidenheid flora. Daarom is dit nie vreemd dat minstens 600 giftige plantspesies in dié streek groei nie (Snyman en Schultz, 2009). Plantvergiftigings kan soms katastrofiese afmetings aanneem. In die ergste uitbrekings het meer as 500 000 stuks kleinvee aan geeldikkop gevrek, terwyl ’n miljoen skape in die voormalige Griekwaland-Wes aan vermeersiekte dood is (Snyman en Schultz, 2009).
’n Verskeidenheid soorte vergiftigings kom onder vee voor. Swambesmettings van mielies en ander veevoere kan ernstige vergiftiging veroorsaak. Hoë fluoor-, nitraat- en nitrietvlakke in boorgatwater, sekere giftige alge in damwater, ureum in veevoere en blousuur in sommige weigewasse is onder meer bekende bronne van vergiftiging.
Gifplante in die NWK-gebied
TULPE
Daar kom sowat 70 soorte inheemse tulpe (Homeria en Moraea spp) in Suid-Afrika voor. Ons kan aanneem dat hulle almal giftig is vir herkouers. Dit is die belangrikste kardioglikosied-bevattende plant in Suid-Afrika. Geeltulp kom wydverspreid voor en groei goed in ’n verskeidenheid van klimaatstoestande, topografiese gebiede en grondsoorte (Snyman et al, 2011).
Tulpe in gebaalde gras is steeds giftig, want die toksiene bly behoue in die tulp se blare. Diere wat met dié plante vergiftig word, is lusteloos, hou hul koppe laag en kreun. Hipersensitiwiteit, hartkloppings en senuweeagtigheid kom ook dikwels voor. Diere loop moeilik en raak later verlam. Maagwerking kan ook voorkom. Die simptome is gewoonlik akuut en diere vrek binne ses tot agt uur aan hartversaking. Teen lae innames kan diere egter langer leef en selfs oorleef, slegs met ligte laksering. Daar is al selfs vrektes onder honde aangeteken wat tulpblare gevreet het.


SLANGKOP
U. burkei is die meer bekende slangkopspesie in die NWK-bedieningsgebied. Verskeie ander giftige Urginea– en Ornithoglossum spp kom egter ook in Suid-Afrika voor. Hierdie plante is elke jaar verantwoordelik vir talle vrektes onder beeste, skape, bokke en soms donkies. Dit kom veral voor wanneer dit vroeg in die seisoen saam met nuwe groei ingeneem word. Daar is in die lente dikwels meer druk op die diere om weidings baie kort te wei.
Simptome van slangkopvergiftiging is soortgelyk aan dié van tulpvergiftiging, met maagwerking as die belangrikste simptoom (Mönnig en Veldman,1981).
CHEMIESE BEHEER VAN TULPE EN SLANGKOP
Die inname van hierdie plante kom meestal voor wanneer die veelading te hoog is, veld oorbewei is of tydens droogtes. Swak veldbestuur lei dikwels tot die vinnige vermeerdering van die plante. Diere wat boonop nie slangkop en tulpe ken nie, is ook meer geneig om die groen gifplante in die lente saam met die groen uitloop van die veld in te neem. Vee wat gedwing word om weiding baie kort te wei, is meer geneig om tulpvergiftiging te kry.
In Suid-Afrika is daar geen onkruiddoder vir die beheer van tulpe of slangkop geregistreer nie (Botes, 2021). ’n Toevallige waarneming deur koringprodusente het egter daartoe gelei dat daar ’n moontlike oplossing is. Breëblaaronkruide op koringlande word teen baie lae dosisse met ’n mengsel van chlorsulfuron (750 g/kg) en metsulfuronmetiel (600 g/kg) beheer.
Dié twee middels word in gelyke dele saam met ’n benatter gebruik. Dit is toe waargeneem dat waar ’n dubbeldosis toevallig toegedien is (byvoorbeeld waar lasrye oorvleuel), tulpe ook goed beheer word. Let asseblief daarop dat die gebruik van hierdie doders nie vir die beheer van tulpe en slangkop geregistreer is nie. Dit word dus nie hiervoor aanbeveel nie.
Wanneer produsente wel oorweeg om hierdie metode te volg, moet enkele bestuursbeginsels in ag geneem word. Die doeltreffende toediening van die middels word bemoeilik omdat die blare dun is, met ’n klein blaaroppervlakte wat moeilik benat word. Die blare is met ’n waslaag bedek, wat die onkruiddoder se opname vertraag. Gebruik dus ’n benatter sodat die onkruiddoder die blare doeltreffender kan bereik en deur die waslaag kan dring.
Die ondergrondse bolle vorm in sekere tye dogterbolle om voort te plant. Dit is dus moeilik vir onkruiddoder om die bolle te bereik. Die oorwegende grootte van die bolle bepaal die dosis van die mengsel. ’n Eenmalige oordosis kan egter die blare brand en opname belemmer. Kleiner opvolgbespuitings gee die beste resultate.
Begin behandel in die vroeë blomstadium en herhaal indien daar nie nekrose (vergeling) van die blare waargeneem word nie (Botes, 2021). Nuutgevestigde aangeplante weidings kan beskadig word indien hul sekondêre wortelstelsel nog nie ontwikkel het nie. Wag dus met bespuiting totdat die gras goed ontwikkel het.
Wanneer die infestasie erg is, kan die mengsel met ’n trekker en balkspuit toegedien word (300 liter water per hektaar of meer). Wanneer die besmetting laer is, kan rugsakspuite gebruik word. Met opvolgbehandelings kan kolbehandeling met rugsakke gedoen word. Gebruik ook ’n kleurstof indien moontlik om tussen behandelde en onbehandelde areas te onderskei.
Slangkoppe het ’n groter blaaroppervlak en groter ondergrondse bolle. Dus moet groter volumes gif toegedien word, soms met herhaling tot hulle nie meer hergroei nie (Botes, 2021).
Volg in alle gevalle die vervaardiger se voorskrifte soos op die etiket aangedui. Let ook daarop dat daar onttrekkingsperiodes vir beweiding kan wees.

GIFBLAAR
Hierdie plant (Dichapetalum cymosum) is in Afrikaans algemeen bekend as “gifblaar”. In Engels word dit poison leaf genoem en in SeTswana mogau. Dit is ’n laaggroeiende (ongeveer 15 cm hoog), struikagtige plant wat in die noordelike dele van Suidelike Afrika voorkom.
Gifblaar het ’n groot wortelstelsel met veelvuldige bogrondse lopers. Die opvallendste bogrondse dele is die heldergroen blare, wat aanvanklik met fyn haartjies bedek is en later fluweelagtig raak. Dit blom in die lente en dra digte trossies klein wit blommetjies. Die sekondêre aartjies op die blare vorm lusse, wat nie aan die blaarkante raak nie (Anon 2, 2021). Gifblaar word, soos vermeerbossie, as een van die ses giftigste plante in Suid-Afrika geag (Anon 1, 2013).
Dit bevat natriumfluoorasetaat, ’n gifstof wat akute hartversaking by diere veroorsaak. Veld waarin gifblaar voorkom, word geassosieer met die voorkoms van sekere soorte bome soos sandsering of wildesering (Burkea Africana), vaalboom (Terminalia sericea), lekkerbreek (Ochna pulchra) en grys appelbossies of sandappel (Parinari capensis). Laasgenoemde lyk ook na gifblaar en kan maklik daarmee verwar word.
In Suid-Afrika kom die plant hoofsaaklik in die sogenaamde “gifblaar-driehoek” voor, naamlik tussen Mahikeng, Middelburg (Mpumalanga) en Musina. Die Magaliesbergreeks vorm die tradisionele suidelike grens van waar dit voorkom.
Dele op die plaas waar gifblaar voorkom, moet afgekamp word. Die plante moet veral in die lente en herfs vermy word. Die meeste diere vrek vinnig, maar soms sal hulle langer leef en net moeilik beweeg. Aangetaste diere is kortasem, met ’n onreëlmatige hartklop. Soms kom senuweesimptome soos bewerasie en stuiptrekkings voor. Diere vrek binne vier tot 24 uur nadat die plant ingeneem is (Mönnig en Veldman, 1981).
Behandeling bestaan meestal daaruit om diere kalm en rustig te hou. Skuif diere onmiddellik uit die besmette kamp, sonder om hulle te ontstel. Die prognose kan verbeter deur hulle vir 48 uur van drinkwater te weerhou. Fisiese verwydering van alle sigbare gifblaarplante word aanbeveel.
BEHEER
Die volgende chemiese formulerings is vir die beheer van gifblaar oor verskeie proefpersele in Botswana ondersoek (Phillips et al, 2008):
- Ethidimuron en tebuthiuron.
- ’n Grond-toegediende vloeibare formulering van tebuthiuron.
- Blaartoedienings van chloorfenac, glifosaat, imazapyr en picloram.
Die omvang van hergroei is oor ’n tydperk van sewe jaar ná behandeling gemonitor. Geeneen van hierdie middels kon die plant volledig beheer nie. Die uitwerking van glifosaat was van korte duur. Chloorfenac het stingelgroei vir vyf jaar onderdruk, maar is intussen van die mark onttrek.
Imazapyr het hergroei vir drie tot vier seisoene beheer, en het die doeltreffendste en mees kostedoeltreffende beheer van al die getoetste middels gehad. Opvolgbehandeling met imazapyr in die seisoene ná behandeling om hergroei te beheer, is belangrik.
Voerweersin
Interessante navorsing is oor die afgelope drie dekades gedoen om ’n gekondisioneerde voerweersin teen gifplante by diere te ontwikkel. Dit kan ’n potensieel goedkoop en omgewingsvriendelike metode wees om plantvergiftiging by vee te voorkom. Vee word hiermee deur ’n proses van kondisionering geleer om spesifieke gifplante in die veld te vermy.
Navorsing aan die Utah-staatsuniversiteit en die navorsingslaboratorium vir giftige plante in Amerika het daartoe gelei dat ’n gekondisioneerde voerweersin vroeg in die nuwe millennium tot ’n prakties toepasbare metode ontwikkel is. Hiervolgens ontvang diere ’n beperkte hoeveelheid van ’n gifplant saam met ’n middel wat naarheid of ongemak van die spysverteringskanaal veroorsaak.
Diere assosieer dan die middel se ongunstige uitwerking met die smaak en geur van die gifplant. Hulle ontwikkel ’n weersin daarvoor en vermy dit dan wanneer hulle wei. ’n Nadeel van hierdie metode is dat dit onprakties raak wanneer ’n groot aantal diere behandel moet word.
Die toepassing van ’n gekondisioneerde voerweersin om tulpvergiftiging by beeste te voorkom, word sedert 1991 deur die toksikologie-afdeling by die Onderstepoort Instituut vir Veeartsenykunde nagevors. Geeltulp, anders as die gifplante wat in Amerika ondersoek is, is van nature weersinwekkend. Diere wat geeltulp gevreet het en die vergiftiging oorleef, het daarna só ’n weersin vir die plant dat hulle nie maklik weer daardeur vergiftig sal word nie (Snyman en Schultz, 2009).
In die navorsing by die Onderstepoort Instituut vir Veeartsenykunde word die geeltulp se eie, natuurlike weersinstof gebruik om vee ’n weersin daarteen te gee. Die werking van hierdie stof, wat uit geeltulp geïsoleer is, is so kragtig dat ’n bees van 200 kg met slegs 12 mg ’n weersin daarteen kan kry. Die toediening daarvan saam met ’n beperkte hoeveelheid geeltulp veroorsaak ’n sterk weersin teen die inname van geeltulp.
Dié metode is egter onprakties en selfs gevaarlik wanneer ’n groot aantal diere behandel moet word. Daarom is die smaak- en geureienskappe uit geeltulp gehaal en saam met die weersinstof in die bek gedoseer. Behandeling op hierdie wyse is baie makliker en veiliger (Snyman en Schultz, 2009).
In proewe is beeste wat ’n weersin teen geeltulp ontwikkel het, op tulpbegroeide weidings met onbehandelde beeste vergelyk. Van die onbehandelde beeste is 16 ernstig vergiftig, teenoor slegs een uit 27 wat vooraf ’n weersin teen geeltulp ontwikkel het.
Ten slotte
Die volgende logiese stap sal wees om ’n bemarkbare produk op die mark beskikbaar te stel. Dit is egter nog onduidelik wanneer dit gaan gebeur. ’n Gekondisioneerde voerweersin word ook ondersoek ten opsigte van ander natuurlik weersinwekkende plante soos slangkop en bloutulp. Tans is die proses van kondisionering redelik omslagtig om toe te pas. Die moontlike voordele, naamlik die voorkoming van vergiftiging en gevolglike vrektes, behandelingskoste en produksieverliese, kan dit die moeite werd maak.
Bronnelys
- Anon 1, 2013. About poison leaf. Farmer’s Weekly, 12 August 2013. https://www.farmersweekly.co.za/crops/field-crops/about-poison-leaf/
- Anon 2, 2021. Dichapetalum cymosum. Wikipedia, die vrye ensiklopedie. https://en.wikipedia.org/wiki/Dichapetalum_cymosum
- Botes A, 2021. Verslag t.o.v. die gebruik van chlorsulfuron (Glean® of ander
750 gram aktief formulerings) vir die onderdrukking/beheer van slangkoppe en tulpe in die Vrystaat en Noordwes-provinsie. Tegniese mededeling. AECI Plant Health, Sentraalstreek - Mönnig HO en Veldman FJ, 1981. Handboek oor veesiektes. Derde uitgawe. Tafelberg Uitgewers, Kaapstad
- Phillips MC, Riches CR en Sweet RJ, 2008. Chemical control of the poisonous plant Dichapetalum cymosu (Hook). International Journal of Pest Management. Volume 39, 358-365
- Snyman LD en Schultz RA, 2009. Leer vee om gifplante te vermy. Onderstepoort Instituut vir Veeartsenykunde, 8 April 2009
- https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/7206/1aec2bd5d1624ed7bb47f2ef02b481ed.pdf
- Snyman LD, Schultz RA en Van den Berg H, 2011. Variability of yellow tulip (Moraea pallida Bak.) toxicity. Short communication. J. S. Afr. Vet. Assoc. vol. 82 no. 2