Agri NW se Jongboer van 2022 omarm nuwe tegnologie, sonder om beproefde boerderypraktyke wat wérk, in te boet. Herman du Preez (38), ʼn hoender-, saai- en beesboer van Gruisfontein naby Lichtenburg, is die afgelope Vrydag by Agri NW se Jongboerkonferensie as die wenner aangewys. Die geleentheid is by Senwes op Klerksdorp gehou.
Dit is die tweede keer wat Herman vir dié gesogte kompetisie benoem is en hy sal nou met ander provinsies se jongboere meeding om die nasionale titel later vanjaar.
“Die toekenning is ʼn groot eer en bevestig dat harde werk en deursettingsvermoë altyd resultate lewer. Boer is my passie en ek weet hoe afhanklik ek van genade is om my beroep te beoefen,” het Herman kort ná afloop van die plegtigheid gesê.
Arena het in Maart by Frangipani Boerdery op Gruisfontein gaan inloer, toe Herman nog net ʼn finalis was. Fanie Badenhorst van Kameel en Anje Lubbe van Makwassie, was sy teenstaanders.
ʼn Boer in murg en been
Herman se Oupa, Jaap, het naby Coligny geboer. Sy pa, Manie, het later by Jaap die leisels oorgeneem.
Gruisfontein het Manie se aandag getrek vanweë die baie ondergrondse water en hy het dit in 1982 gekoop. Hier het hy mielies geplant, beeste gevestig en Smutsvinger op swakker lande geplant.
“Hy en oom Dorian Parker, wat Henwil Chickens gehad het, was baie goeie vriende. Toe het Dorian op ʼn dag vir hom gesê: ‘die mielieboerdery is so riskant met die droogtes en goed, hoekom groei jy nie vir my hoenders nie?’ Hy het 5 000 hoenders hier in ʼn stoor gehad. Toe het ons begin om die hokkies te bou,” onthou Herman.
Hy het in 2002 aan Hoërskool Lichtenburg gematrikuleer. Hoewel hy ingeskryf het vir ʼn kursus in dieregesondheid in Pretoria en keuring gehad het vir ʼn B.Com-graad by die Universiteit van Stellenbosch, het hy helaas besluit om eerder op die plaas aan te bly.
“Voor my Wiskunde-eksamenvraestel… eindeksamen… het ons die eerste hoenders geslag, 12 000 daardie dag. Ek wou nog altyd kom boer het,” glimlag hy.
ʼn Sterfte wat ook ʼn nuwe era inlui
Manie is in 2016 oorlede en die volgende jaar is Herman vir die eerste keer vir Agri NW se Jongboer van die jaar benoem en het hy tweede geëindig.
Beide sy pa se afsterwe en beoordelaars van die kompetisie se terugvoer oor Herman se boerderypraktyke, het hom die geleentheid gebied om dinge anders te benader.
“In kort, het ek baie meer waarde toegevoeg en gefokus op ʼn hoër omset,” verduidelik hy. “Ek het baie meer uitgebrei. My visie is regtig om te kyk wat jy het en om jou vaste kostes dieselfde te probeer hou, terwyl jy jou uitsette vermeerder.”
Hy gesels puntsgewys verder, “Ek het ʼn groot hoendermisstrooier gekoop, bemesting met hoendermis het my drakrag verhoog, ek het baie meer aandag aan presisieboerdery met my planters en strooiers gegee… grondkarterings gedoen. Ek het dit bietjie gefine tune.”
Hoenders – die hoeksteen van die boerdery
Herman is ʼn aandeelhouer van Henwil Chickens en die hoendervertakking dra 53% by tot Frangipani Boerdery se omset. Daar word 540 000 kuikens per siklus gelewer.
“Ons is deur ʼn moeilike tyd met die hoenders, in 2016, 2017… Dit was ʼn baie, baie moeilike tyd met Henwil. Ons het dit amper nie gemaak nie en toe het die mark… dit was die tyd toe die invoere so skerp gestyg het, die mielies was R5 000/ton, dit was droog,” gesels Herman.
Die gety het egter gedraai en Herman kon uitbrei. “Ons het baie geld by die slagpale spandeer en dubbelskofte begin slag – ons is nou op 128 000 hoenders per dag waar ons net altyd 56 000 hoenders geslag het.”
Herman kon toe vir die eerste keer in ʼn lang tyd nuwe hoenderhokke vestig. ʼn Groot dryfveer agter Herman se strategie, is die optimale benutting van arbeid. Dáárom belê hy nou in geoutomatiseerde hoenderhokke.
Herman het reeds twee geoutomatiseerde hokke, elk met ʼn beheerde omgewing, laat oprig met ʼn kapasiteit vir 54 000 kuikens elk. Hy hoop om in totaal 11 van hierdie hokke te laat oprig.
“Of jy na 5 000 of 55 000 hoenders kyk, dit verg dieselfde arbeid, dieselfde plaasbestuurder, kantoordames en bakkie. Jou kapasiteit raak net baie beter,” verduidelik hy.
Herman ondersoek ook groener, dog meer bekostigbare energiebronne. Hy gebruik tans steenkool om die oonde te stook wat die hoenders moet warm hou. Hoewel gas ʼn skoner produk as steenkool is, is dit as energiebron nie tans lonend in dié area nie.
“Dit is egter iets wat die hoenderbedryf vorentoe gaan móét aanspreek. Met gas verminder jy ook arbeid. Hoewel die kapitale uitleg goedkoop is, is die lopende koste op gas wel baie duurder. Waar dit jou met steenkool 40c kos om ʼn hoender warm te hou, sal gas jou sowat 75c per hoender uitwerk.”
Soos talle ander hoenderprodusente, voel Herman steeds die effek van die onluste in KwaZulu-Natal in Julie verlede jaar toe hoenderplase aan die brand gesteek is. Dít en voëlgriep, het ʼn noemenswaardige invloed op kuikenbeskikbaarheid en -kwaliteit.
Mielies – verbou meer met minder
Soos enige ander graanboer, poog Herman om meer winsgewend te produseer, terwyl hy sy insetkostes so laag moontlik probeer hou.
Hy beskou droogte as ʼn groter bedreiging vir dié vertakking van sy boerdery (32%), as ʼn dalende prys, omdat hy ʼn groter verbruiker van mielies is as wat hy produseer.
Herman weet nog nie hoeveel mielies hy in die komende seisoen gaan plant nie en hoop die oorlog tussen Rusland en Oekraïne is dan al verby. “Ek dink egter dat dit nog lank ʼn rimpeleffek gaan hê. Hoewel ons die hoendermis grootliks op die weiding gebruik, sal ons moontlik van die mielies met dit bemes. Ons sal grondontledings nader aan die tyd doen.”
Daar is baie water vir besproeiing op Gruisfontein, maar Eskom se onstabiele kragvoorsiening is ʼn groot kwelpunt wat tot reusebesteding aan diesel vir kragopwekkers lei. Herman fokus vir eers op ander kapitaalprojekte, maar oorweeg beslis sonkragalternatiewe vir die toekoms.
Beter genetika die mikpunt
Herman het ʼn Bonsmara-kudde en Simmentalerstoet wat hy saam met sy skoonpa bedryf. Die beesvertakking dra 10% tot die totale omset by. Hy het sedert sy pa se dood voerkrale gevestig, beter bulle gekoop en produksieveilings gehou.
“Daar is ongelooflike tegnologie om in te span, soos ras- en stamboeke.”
Herman het tot 3 300 ton hoendermis per jaar waarmee hy weiding se potensiaal kan verhoog. Oorbeweiding word vermy en indringerplante uitgeroei.
Speenkalwers word nie verkoop nie. Verse groei tot produserende koeie en bulkalwers word grootgemaak op bemeste gras waarna hulle in die voerkraal afgerond word.
Herman is, soos baie ander beesboere in die omgewing, diep bekommerd oor die onlangse ontdekking van bek-en-klouseer op ʼn plaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp. “Die mark is baie gevoelig daarvoor. Dit het reusegevolge as ons onder kwarantyn geplaas moet word. Ons kan nie kalwers aankoop of verkoop nie en uiteraard nie produksieveilings hou nie.”
Hy koop veral nie vroulike diere op vreemde plekke nie en koop slegs by erkende stoettelers en produksieveilings. As hy wel speenkalwers koop, moet hulle vir ʼn week op kraal staan en word gedip.
Herman beoog om ʼn Bonsmara-stoet te begin om selfvoorsienend in bulle te wees.
Beheer wat jy kan
Hoewel produsente prysnemers is, glo Herman daar is baie faktore wat hulle wel kán beheer. “Ek het nie beheer oor die kwaliteit van die kuiken wat by my aankom nie, maar ek kan toesien dat die hok reg is. Ek kan kies waar ek saad koop, hoe ek daardie pit neersit en my lande silwerskoon hou.”
Met geen formele opleiding nie, het Herman baie by sy pa geleer en boeredae bygewoon. Hy het kursusse in Safax en Simfonie voltooi en hy steek ook gereeld kers op by NWK en Omnia, wat deurlopend navorsingsuitslae en marktendense kommunikeer.
“Aanpasbaarheid is baie belangrik. Ons gaan ons bewerkingspraktyke, met diesel en klimaatsomstandighede in gedagte, móét aanpas.”
As jongboer is Herman baie opgewonde oor die moontlikhede wat nuwe tegnologie bied. “Veral outonome trekkers. Dit gaan ʼn baanbreker wees en ʼn omwenteling in landbou veroorsaak.”
Passievol oor landbou
Herman haal ʼn oudminister van landbou, SP le Roux, aan: “ʼn Volk wat vir sy landbou sorg, sorg vir sy toekoms”.
Hy beklemtoon die feit dat landbou tot 6% van werksgeleenthede bydra en in 2020 die beste groei van alle sektore getoon het.
“Die platteland is afhanklik van landbou vir werkskepping en voedselsekuriteit. Jongboere het ʼn verantwoordelikheid om nuwe tegnologie in te span om boerderymetodes te verbeter, ten einde vir ʼn vinniger groeiende wêreldbevolking kos te kan voorsien.”
Herman meen boereverenigings moet die vraelyste van die kompetisie aan alle jongboere beskikbaar stel om te voltooi, omdat dit waardevolle insig bied. “Dit laat jou met ander oë na byvoorbeeld jou visie vir die boerdery kyk. Werk fisies deur die vraelyste en antwoord elke vraag eerlik.”
Hoewel Herman daaraan glo om deurlopend in nuwe tegnologie te belê, sorg hy eers dat hy bestaande kort- en langtermyndoelwitte bereik en wyk hy nie sommer van hierdie beplanning af nie.
“Sonkrag byvoorbeeld… Dis nuwe tegnologie wat ek beslis gaan inspan, maar eers wanneer my bestaande kapitaalprojekte afgehandel is.”
Hy sluit af, “Jy moet hierdie boerdery ry soos ʼn perd wat jou wil afgooi, jy moet net die leisels styf vashou die hele tyd.”
Sy visier op die nasionale titel

Met sy oog op die titel van Agri SA se nasionale Jongboer van die Jaar later vanjaar, gaan Herman skouer aan die wiel sit om verder te verbeter en “alles in plek” te kry.
“Ek gaan die kriteria as maatstaf gebruik om veranderinge te implementeer en sien baie uit na die nasionale geleentheid. Dit bied die ideale geleentheid om nuwe boere te ontmoet, kennis te deel en te sien hoe ander boere hul boerderye bestuur.”
‘n Beoordelaar se indrukke
Arno van Vuuren, tot onlangs bestuurder van Landboubestuursdienste by NWK, was een van die beoordelaars. Wat hom beïndruk het van Herman se boerdery-opset, is die volgende:
-
Herman het ʼn deeglike kontrole- en bestuurstelsel in plek waar die finansiële posisie van elke vertakking op vasgestelde tye saam met die verantwoordelike persone onder oë geneem en geëvalueer word.
-
Die bestuur- en kantoorspan is ʼn hegte groepie, wat myns insiens, gewaardeerd voel en daarom eienaarskap van hul verantwoordelikhede neem.
-
Herman het heelwat wysigings en nuwe inisiatiewe aangepak sedert hy alleen vir die boerdery verantwoordelik geraak het.
-
Die boerdery is redelik wyd gediversifiseer en Herman is goed op hoogte van al die kritiese produksieprosesse wat nodig is om sukses te behaal.