Die belangrikheid van die regte en tydige bemesting vir elke land kan nie genoeg beklemtoon word nie. Produsente moet daarom gereeld in die lande wees om optimale gewasbestuur te verseker.
Die nuwe generasie kultivars se groeiseisoene is oor die algemeen korter, terwyl die opbrengste hoër is. Dit noodsaak dat ’n groter hoeveelheid voedingstowwe oor ’n korter tydperk opgeneem moet word. Een van die maniere om aan hierdie behoeftes te voldoen, is om die konsentrasie van voedingstowwe in die grond te verhoog. Verder behoort die toedieningstyd én ook die voedingstowwe wat toegedien word, aangepas te word.
Mieliegroeistadiums
’n Mielieplant ontwikkel aanvanklik stadig (Foto 2) en neem ongeveer 21 tot 35 dae om die vyfblaarstadium (V5) te bereik. Hierna neem die groeitempo drasties toe en word die blomtydperk ongeveer 55 tot 85 dae ná opkoms bereik. Ongeveer 680 tot 730 hitte-eenhede word benodig tot 50%-blomstadium en ’n konstante vogvoorsiening speel ’n belangrike rol in die groeitempo van mielies (Labuschagne en Van Zyl, 2015).
Die belangrikste groeistadiums van ’n mielieplant kan in vier fases opgedeel word:
- Opkoms tot V5.
- V5 tot pluim.
- Pluim tot hardedeeg.
- Hardedeeg tot fisiologies ryp.

blare vorm ’n “kragie” om die hoofstam.
Bron: Agtag, 2017
In die eerste fase vind geweldig baie selverdeling en -verlenging in die bogrondse groei, asook in die wortels, plaas. Die opbrengspotensiaal en aantal rye pitte per kop word reeds tydens die V5-groeistadium vasgelê. Op elke internode sal ’n kop ontwikkel, alhoewel slegs die boonste een tot twee koppe normaalweg sal volmaak.
’n Gebalanseerde voeding van makro-elemente (N, P en K), sekondêre elemente (S, Ca en Mg) en mikro-elemente (Cu, Fe, Mn, Zn, B en Mo) moet gevolglik tydens die V5-stadium beskikbaar wees vir plantopname. Hulpmiddels soos blaar- en sapmonsters kan gebruik word om te verseker dat geen voedingstekorte tydens hierdie stadium voorkom nie.
Vanaf V5 tot by pluim neem die groeitempo drasties toe en dit bereik ’n piek 49 tot 70 dae ná opkoms. Die finale opbrengspotensiaal (pitte per ry en kopgrootte) word tydens die V12-stadium bepaal. Die bepaling van die aantal pitte per ry is egter eers teen ongeveer V17 voltooi. Gedurende V12 sal die stutwortels begin vorm en is die mielieplant uiters gevoelig vir voedings- en vogtekorte.
Van pluim tot hardedeeg word die meeste van die fotosintaat na die kop vervoer en begin die voedingstofopname se tempo afneem. Droogte en/of koue tydens hierdie groeistadium kan ’n laer pitgewig tot gevolg hê. Indien blare in die oggend reeds toedraai weens vogstremming, kan oesverliese van tot 3% per dag verwag word (Agtag, 2017).
Opname van voedingstowwe
By die bepaling van die gewas se voedingsbehoeftes (uit bemesting) vir ’n beraamde opbrengs, moet die bydrae wat deur die grond gelewer word en die gewas se voedingsbehoeftes met mekaar in verband gebring word.
Meer spesifiek moet die verwydering van die plantvoedsel deur die geoeste (verwyderde/bemarkbare) deel van die plant in aanmerking geneem word (Tabel 1). Die verwyderingsyfers moet dus sinvol volgens die beskikbare resultate aangepas word om ’n bemestingsprogram te beplan.
Die opname van voedingstowwe (N, P en K) deur mielies kan grafies in Figuur 1 waargeneem word. ’n Mielieplant het teen sy blomstadium reeds 65% N, 75% K en 50% P opgeneem (Botha, 2015). Uit hierdie figuur is dit duidelik dat mielies se tempo van K-opname vroeg in die groeiseisoen ’n piek bereik, terwyl die P- en N-opname se piek saam met dié van blom en maksimum waterbehoefte val. Dit maak dus sin om te sorg dat voldoende P en K met plant beskikbaar gestel word. Stikstofbemesting word egter in twee inkremente toegedien om verliese as gevolg van loging te beperk.

Stikstof (N) is belangrik tydens selvermeerdering en -verlenging. Daarom vind vinnige vegetatiewe groei plaas by plante wat stikstof ontvang het. Die vergroening van plante ná die toediening dui op die rol wat stikstof by bladgroenvorming en daarom fotosintese speel. N word in die boustene van proteïen (aminosure) ingebou en het dus ’n direkte invloed op die graangehalte deurdat ’n tekort aan stikstof tot ’n laer proteïeninhoud lei.
Die topbemesting van groot hoeveelhede N maak sin as in aanmerking geneem word dat ongeveer 20% van die totale N alreeds teen week vyf en 50% alreeds teen week agt deur die plant opgeneem is (Van Biljon, 2009).
Kalium (K) is belangrik vir die sterkte van vesels en daarom is plante met ernstige kaliumtekorte geneig tot omval. K speel ook ’n belangrike rol by die oop- en toemaak van huidmondjies en beïnvloed daarom droogte- en ook koueverdraagsaamheid. Dit bevorder ook die vorming van proteïene, suikers, stysel en olies, en speel ’n belangrike rol in die vervoer van stysel na die kop. K-tekortsimptome in mielies sal dus swak kop- en/of saadvul tot gevolg hê.
By mielies is ongeveer 18% van die totale K alreeds gedurende week vyf en 60% alreeds teen week agt deur die plant opgeneem (Van Biljon, 2009).
Toedieningstyd
Dit is uiters belangrik om met ’n gebalanseerde plantermengsel, asook die regte vorm van bemesting, weg te spring. Om aan hierdie vraag na voedingstowwe te voldoen, kan voor-plant en/of topbemesting met hoofsaaklik N, K en S toegedien word. Topbemesting word tradisioneel tussen drie tot ses weke ná opkoms toegedien. In Foto 1 kan die swakker rye wat geen bemesting tydens planttyd ontvang het nie, duidelik waargeneem word ten spyte daarvan dat dieselfde hoeveelheid topbemesting op al die rye toegedien is.
Die volgende moet ook in gedagte gehou word:
- N wat vooraf toegedien word, word aan logingsgevare blootgestel en die versuring van die ondergrond raak ’n wesenlike probleem indien N in groot hoeveelhede toegedien word.
- ’n Deel van die N behoort voor plant toegedien te word indien ’n N-negatiewe tydperk weens baie plantreste verwag word.
- Voorsiening moet gemaak word vir N-reaksies wanneer ureum of ammoniumbronne as topbemesting oorweeg word, weens die omskakelings wat moet plaasvind voordat alle N plantbeskikbaar is. Omgewingstoestande, soos nat gronde en lae grondtemperature, kan hier ’n beperkende faktor vir omskakeling wees.
- Wanneer P vooraf toegedien word, moet na die bron van P en N gekyk word, omdat sekere antagonistiese reaksies kan plaasvind (byvoorbeeld ureum en diammoniumfosfaat of DAP).
- VS-tekorte tydens die vegetatiewe en reproduktiewe stadiums kan opbrengste nadelig beïnvloed. Inkorporeer dus swael as deel van die bemestingsprogram (plantmengsel en/of topbemesting).
Ten slotte
Daar is genoeg hulpbronne beskikbaar om te verseker dat risiko’s beperk en elke korrel of druppel kunsmis optimaal benut word. Praat met ’n NWK-landboukundige oor chemiese grondontledings vir die korrekte bemestingsaanbevelings, bepaling van die grondpotensiaal, neem van blaarmonsters, sap-analises en die verwerking van stroperkaarte om te verseker dat elke stuk grond sy volle potensiaal bereik.
Die plant se vog- en voedingsbehoeftes bepaal uiteindelik die opbrengs en graangehalte. Daarom is dit belangrik om jou spesifieke grond te ken, sodat die grond reg gevoed kan word en om te verseker dat aan die gewas se behoeftes voldoen word.
Bronnelys
- Agtag, 2017. Afgriland. https://agtag.co.za/category/14/post/16010
- Bemestingshandleiding, 2019. Verwydering van plantvoedsel deur gewasse. In FERTASA
(pp. 155-156). Lynnwoodrif: Fertiliser Association of Southern Africa - Botha P, 2015. Bemesting – wanneer is hoeveel nodig? SA Graan: https://sagrainmag.co.za/2015/07/19/bemesting-wanneer-is-hoeveel-nodig/
- Labuschagne A en Van Zyl K, 2015. Bemesting van mielies. https://www.grainsa.co.za/bemesting-van-mielies
- Van Biljon J, 2019. Stikstof en kalium.