Die Landbounavorsingsraad (LNR) se mentor van 2023 beskou dié toekenning as ‘n groot voorreg, maar ook ‘n groot verantwoordelikheid. Naudé Pienaar (60) is dié gesogte titel die afgelope Donderdag (23 November) tydens die LNR se 45ste nasionale vleisbeestoekennings toegeken.
Naudé van Zondagspan Santas naby Zeerust is Agri NW se adjunkhoofbestuur. Hy deel die toekenning met Piet Mothepu, ‘n produsent in die Vrystaat. Naudé is ook sekretaris van die onlangs gestigte Ditsobotla Dienstevereniging (DDV), wat hom beywer om dienslewering in die sukkelende Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit te verbeter.
‘n Passie vir jongmense
Naudé het op ‘n plaas naby Slurry grootgeword en ‘n B.Sc.-graad in plant- en dierkunde asook wiskunde verwerf. Hy het ook ‘n onderwyskwalifikasie verkry en ná afloop van sy studies by Hoërskool Lichtenburg begin skoolgee.
“Ek is lief vir mense, vir kinders, vir leer. Dis hoe die Vader my geskep het. Ek wil nie hê mense moet dieselfde foute as ek maak nie.”
Hy het die onderwys in 1994 verlaat en voltyds saam met sy pa gaan boer. In 1998 het hy weer Wiskunde by ‘n privaatskool in Mahikeng onderrig en is later as hoof van dié skool aangestel. Naudé was sowat vyf jaar hier werksaam voordat die skool gesluit is en hy ekstra klasse in wiskunde aan leerlinge in Mahikeng, Lichtenburg en Zeerust begin gee het.
“Dit was baie aangenaam om te sien hoe die kinders vorder.” Hy vertel hoe hy smiddae by ‘n skool in Zeerust sou opdaag, wat soms gesluit was omdat dit gereën het. “Die kinders het volgehou dat hulle wou leer. Ons het op die stoepe gesit en ek het op die ruite van die klaskamers vir hulle geleer. Hulle toegewydheid was spesiaal,” onthou hy.
Naudé het ook atletiek en rugby afgerig en rig nou nog laasgenoemde by Laerskool Lichtenburg af.
Santa Gertrudis staan uit bo die res
Naudé het aanhou boer en ‘n groot liefde vir die Santa Gertrudis-beesras ontwikkel.

“Santas word dikwels verkeerdelik bestempel as ‘n ras wat nie gehard is nie. Tog word ander rasse slegs sowat drie maande lank in die veld geëvalueer. Enige dier lyk mooi as hy vet is. Ons Santas is vir nege jaar lank op die veld getoets teen ‘n ander ras en het elke keer ten minste die eerste vier plekke behaal. Ons wou hulle aan maklike én moeilike omstandighede onderwerp en hul meet teen dit wat beskou word as voorlopers wat omset van gras na vleis betref.
“Santas het van die topspeengewigte, die beste kalfgemak, baie goeie voeromset en top-uitslagpersentasie.”
Naudé het verskeie kursusse voltooi en was as senior keurder aktief betrokke by skoue. Hy en 16 ander telers, wat grootliks in Noordwes en Limpopo gesetel is, het ‘n studiegroep gestig wat onder andere bulle se genetika evalueer.
“Ons keur saam as ‘n groep en leer baie by mekaar. Elkeen moet sy besluit kan motiveer. Dit stimuleer goeie debat en laat almal dink,” vertel Naudé.
Die Noordwes-Universiteit het hom gevolglik sowat tien jaar gelede gevra om betrokke te raak by die praktiese onderrig van hulle studente. Honneursstudente van die Mahikeng-kampus kom doen ‘n bees-evalueringskursus by Naudé. Dit bestaan uit teoretiese en praktiese gedeeltes. “Die vroue vaar beter as die mans,” glimlag Naudé. “Hulle is baie meer leergierig en wil weet wat aangaan.”
Hoekstene van gesonde jongmense
“Ons kinders is in die moeilikheid,” sê Naudé ferm. “Dit wat my pa gesê het, het die dominee gesê, die polisiebevelvoerder en die koerant. Almal het my pa se taal gepraat.
“Vandag is ‘n ouer maar ‘n stem in ‘n woestyn. Predikante stem nie saam nie. Leiers stem nie saam nie. Dan is daar nog die invloed van sosiale media. Die wêreld skree die teenoorgestelde van wat ouers sê. Hoe kan ons verwag dat hulle goeie besluite gaan neem?”
Naudé meen dit is daarom belangrik vir enigeen wat betrokke is by kinders, om hulle op te voed. “Dit gaan oor soveel meer as leer. Ons kinders smag na dissipline en geniet struktuur.”
Hy meen dit is nie moeilik om dissipline toe te pas as dit met liefde gedoen word en regverdig is nie.
Landbouers moet kan saamstaan
In sy amp by Agri NW, kry Naudé eerstehands te doen met uitdagings soos gebrekkige dienslewering, asook beleidskonsepte en wetgewing wat landbou as sektor se werksaamhede kortwiek.
Hy is bekommerd oor die toekoms van landbou, maar meen dié sektor se toekoms kan verbeter as rolspelers twee goed doen: “Eerstens moet ons saak met ons Skepper uitsorteer en seker maak ons doen wat Hy van ons verwag. Tweedens moet ons ons saak met mekaar uitsorteer. Daar is te veel troonbouers en te min spanbouers.
“Iemand in landbou wat nou nog dink hy kan al die uitdagings alleen hanteer, maak ‘n groot fout. Hy/sy sal nooit grand en ryk genoeg wees om die aanslag alleen te hanteer nie. Hoe meer druk ons ervaar, hoe meer spat ons uitmekaar.”
Naudé waarsku dat daar reg in die hand van die “vyand” gespeel word deur té onafhanklik te wil wees. Hy verwys na voorbeelde waar spanwerk goeie vrugte afgewerp het, soos gekoördineerde brandhulppogings en hulpverlening tydens die berugte onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng in 2021.
“Die krag van saamwerk en spanwerk is ongelooflik en ek sal altyd daarvoor baklei. Dit is al hoe ons die situasie gaan draai.”
Hou aan leer
Hoewel hierdie toekenning vir Naudé ‘n groot eer is, sal sy fokus bly op die verantwoordelikheid wat dit inhou. “Dit kan ‘n troontjie raak en ek moet seker maak ek bly op hoogte, hou aan leer en mentor vir die regte rede.”
Ook mentors het rolmodelle waarna hulle opkyk en vir Naudé is dit die legendariese Bloubul-afrigter, Buurman van Zyl. “‘n Verslaggewer het een dag vir hom gevra wat sy geheim tot sukses is, waarop hy geantwoord het: ‘Ek weet nie alles nie’.
“Dit was vir my ongelooflik om te besef dat hierdie wêreldbekende man besef het dat hy kon aanhou leer.
“Ek het baie skoolgeld betaal en is baie raakgery in my lewe. ‘n Ou verkoop dikwels wat hy hét, nie dit wat jy nodig het nie. Hoekom moet ek nie ander mense help om nie dieselfde foute te maak nie?”
Naudé hoop om eendag onthou te word as ‘n spanbouer. “Ek wil onthou word as iemand wat nooit gedink het hy weet alles nie, maar aanhou leer het.”