Ná 20 jaar se diens sit NWK se voormalige groephoof- uitvoerende beampte stil-tevrede op sy plaashuis se stoep die sonsondergang oor Jacobsdal naby Zeerust en bewonder. Diegene wat vir Theo Rabe (57) ken, kan hom sonder moeite só in hulle geestesoog voorstel nadat hy die tuig neergelê en uitgetree het.
Die “krokodil” (sy bynaam onder sommige kollegas) het op Woensdag 30 April die laaste keer sy kantoordeur agter hom toegetrek. Met sy toekenning vir 20 jaar se diens en die naambordjie “TE RABE” wat bo sy parkeerplek gehang het, onder die arm, is Theo hier weg. Die pad terug plaas toe wyd en oop, soos die bladsye van dié nuwe hoofstuk waaraan hy nou begin skryf.
As jong seun het Theo graag die Rapport op Sondae oopgeslaan en deur die loopbane-afdeling geblaai. “Ek het tóé al vir myself die doelwit gestel om eendag die hoof van ‘n groot besigheid te wees,” vertel Theo.
Hy het deurlopend vir homself verskeie mikpunte gestel en voluit daarvoor gegaan. Daarom het hy besluit om nie nóg ‘n termyn in dié posisie, wat behoorlik sy pond vleis van die ampsdraer eis, te dien nie. “Ek het my innings gehad en my álles gegee. I’m finished,” lag hy.
Boerseun met ‘n kop vir syfers
Theo het op ‘n plaas in die Wakkerstroom-omgewing in Mpumalanga grootgeword waar sy pa hoofsaaklik met skape geboer en ‘n melkery bedryf het. As die jongste van vier kinders, wou Theo baie graag boer, maar sy ouer broer het hom toe reeds by hulle pa op die plaas aangesluit.
Hy het op skool uitgeblink in vakke met syfers soos wiskunde en rekeningkunde en het by die Universiteit van Pretoria begin studeer om homself uiteindelik as geoktrooieerde rekenmeester (GR) te bekwaam. Hy het ná twee jaar se voltydste studies met sy klerkskap in Pretoria begin en verder deeltyds aan Unisa studeer.
In 1991 het hy “genoeg gehad van die stad” en besluit om dit vir die platteland verruil. Hy het sy klerkskap op Ermelo in Mpumalanga voltooi waarna hy in 1993 by PwC in Mahikeng gewerk het.
Polities was dit ‘n plofbare tyd met die oorgang na ‘n demokrasie en die destydse Bophuthatswana (waarvan Mahikeng deel was) wat deel van Suid-Afrika geword het. Theo se eersteling was op pad en hy het besluit om eerder te verhuis.
Hy is na NTK (Noord-Transvaal Landboukoöperasie in Nylstroom. “As jy in kleiner gebiede wil bly, is landbou-organisasies jou grootste werkgewer,” verduidelik Theo.
Hy was twee jaar hier werksaam voor hy na NLK (Natal Landboukoöperasie) in Dundee is waar hy uiteindelik as GR gekwalifiseer het. “Danksy die ondervinding wat ek opgedoen het, is ek die geleentheid gegun om ʼn rekenaarstelsel waarmee hulle gesukkel het, te ontsyfer en is ek binne twee jaar tot die hoofbestuur bevorder.” Theo was reeds op 32-jarige ouderdom ʼn finansiële direkteur.
Hy is egter te jonk geag om as uitvoerende hoof te dien en met die aanstelling van ‘n nuwe hoof, is hy in 2001 na Rainbow Chicken se streekskantore in Carolina in Mpumalanga.
Hier het Theo een Sondag weer ‘n Rapport oopgeslaan en ‘n vakature vir ‘n finansiële direkteur by NWK het sy oog gevang. “Ek het vir Magda (sy vrou) gesê ‘daai is my volgende job’ en haar gevra: ‘Is jy reg? Ons gaan Wes-Transvaal toe’.”
‘n Nuwe en moeilike era by NWK
Theo het in 2005 by NWK as finansiële direkteur begin en beskryf dit as baie soortgelyk as wat nou by NWK plaasgevind het met die aanstelling van ‘n nuwe handels-, finansiële én groephoof – alles binne ‘n jaar.
Hy was steeds groep- finansiële beampte toe hy in 2016 gevra is om as groephoof- beampte óók waar te neem. Hy beskryf dit as ‘n moeilike tyd in NWK se geskiedenis. “Ons moes ‘n klomp kritiese besluite neem en was gelukkig dat ons die maatskappy kon swaai en weer winsgewend raak,” vertel hy.
“Solank jy met graan werk, gaan jy ‘n siklus van moeilike en beter tye hê. Ons in die platteland is absoluut uitgelewer aan wêreldgebeure en as jy nie katvoet is nie, kan jy gewipe word.”
Theo vervolg: “Toe ek kom sit op hierdie stoel, was dit asof daar hierdie groot gewig op my skouers was. Jy het boere waarna jy kyk, aandeelhouers, personeel…”
Dit was vir hom moeilik om te besef iemand in sy posisie kan nie net altyd die menslike faktor in ag neem nie. “Totdat jy nie in ‘n CEO se stoel sit nie, het jy nie ‘n idee van die druk wat daarmee gepaard gaan nie. Die maatskappy moet wins maak en belasting betaal. Personeel het famlies. Hoeveel gesinne kan deur ‘n besluit geraak word? Tog moet jy eerstens na die besigheid kyk want sonder dit, gaan daar niks vir die personeel oorbly nie.”
Tog is hy trots op die manier waarop NWK na sy personeel tydens die Covid-19-pandemie omgesien het. Landbou was as ‘n noodsaaklike sektor geag en die maatskappy het omvattende maatreëls in plek gestel om kwesbare werknemers in staat te stel om van die huis af te werk. Almal het ook hul volle salarisse ontvang.
Theo meen dit het ‘n positiewe impak op die maatskappy se klantediens gehad deurdat personeel hierna wou terugploeg met verbeterde dienslewering.
Doelwitte bereik met die Here se genade
Hy sê hy het sy lewe lank vir homself bepaalde doelwitte gestel wat hy, danksy die Here se seëninge, almal bereik het. “Ja, daar was kere wat ek dit vinniger sou wou hê, maar die Hemelse Vader het geweet wanneer die tyd ryp sou wees.”
Hy het ook met sy permanente aanstelling as uitvoerende groephoof in 2017 met NWK se direksie ooreengekom om bepaalde doelwitte teen ‘n sekere tyd te bereik.
Theo sê hy het reeds tydens sy eerste termyn die meerderheid van hierdie doelwitte bereik. “Toe die direksie my ‘n tweede termyn van drie jaar aanbied, het ek al besef dit sal my laaste termyn wees. Ons het toe reeds opvolgbeplanning gedoen en die nodige strukture in plek begin kry.
Hy het ook reeds as jong werkende die mikpunt gehad om al op 55 jaar te kan uittree, indien moontlik. “My spaargesindheid vanaf ‘n jong ouderdom het my hierop voorberei. Ek het myself ook afgevra: Hoeveel is genoeg in die lewe? As ek ‘n Porsche wou ry, sou ek nog tien jaar lank moes werk.
“Ek het nie ‘n helder, mooi swembad nodig wat idillies lyk om my uit te leef nie. Ek kan dit in ‘n plaasdam doen,” glimlag hy.
“Dis nie dat ek nie meer ‘n dryf het nie, ek het net nie meer ‘n dryf binne NWK nie. Ek het al te veel gesien dat mense vir té lank aan poste vasklou en dit hulle vernietig.
“Die vraag vir my was: Is NWK op ‘n beter plek noudat ek klaarmaak? Ek dink ek kan ‘ja’ antwoord. Dis ‘n lekker gemaklike kultuur binne die maatskappy en sy fondamente is gesond.
“Jy doen mos maar introspeksie soos jy ouer word en ek sal eerlikwaar niks wil verander nie. Ja, sekere goed was nie lekker nie, maar as jy iets daaruit leer, gaan jy vorentoe. Ek is oor niks spyt nie.”

Nie verlore vir die bedryf nie
Hoewel Theo eers ‘n sabbatsreis wil neem, wink die moontlikheid om as direkteur van maatskappye te dien. Hy het reeds twee jaar gelede eksamen afgelê en is as geoktrooieerde direkteur geregistreer. Georganiseerde landbou het hom ook genader om by hulle betrokke te raak. “Om op datum te bly. Ek geniet dit en sien uit om nog ‘n rol te speel waar ek kan,” verduidelik Theo.
Die gesprek draai na Magda, met wie hy reeds 26 jaar getroud is. Hy het haar in 1995 deur gemeenskaplike vriende by ‘n braai in KwaZulu-Natal ontmoet. “Dit was love at first sight. Sy het my verlei,” lag hy.
Magda het in daardie stadium in Pretoria gebly en Theo skat hy het daardie jaar bykans 60 000 km gery om “by haar vlerk te sleep” voordat hulle in 1996 getroud is.
Hy het drie kinders – Reinette (31), Reinier (25) en Madri (24). “Ek het alles ingesit en hulle dalk bietjie afgeskeep. Nou is dit hulle beurt.”
Theo onthul dat hy nogal ‘n kunssinnige kant het en hom aanvanklik eintlik as argitek en bourekenaar wou bekwaam. “Magda sê altyd daar is nie ‘n huis waarin ons gebly het wat ek nie verander het nie. As iets stukkend is, kan ek vinnig sien of dit herstelbaar is. Ek het daardie visie. Ons het so 15 jaar gelede nuwe meubels gekoop en die binnenshuise ontwerper het naderhand vir Magda gesê om eenkant te staan sodat ek en sy kon praat. Magda het dit nie baie gelike nie,” lag Theo.
Daar is baie projekte op die plaas waarmee hy hom besig hou. Hy verbou pekanneute en onthaal jaggroepe. Hy wil ook groente verbou vir eie verbruik.
Altyd reg met ‘n grappie, laat Theo hoor: “Ek gaan nou BTR toepas. Boer, toer en rumoer!”