Bewaringslandbou is ’n produksiestelsel en fokus nie net op bewerking nie (Smith & Nel, 2024). Dit word deur drie kernbeginsels gedefinieer:
- Minimum grondversteuring en indien die grond geskik is daarvoor, geenbewerking.
- Behoud van oesreste op die grondoppervlak om die waterafloop te beperk, infiltrasie te bevorder en dus watererosie te beperk.
- Wisselbou (of diversifikasie van gewasse om plantsiektes te bekamp en graangehalte te bevorder.
Bewarings- en herlewingslandbou is per definisie dieselfde, maar laasgenoemde plaas groter klem op die integrasie van diere, asook tussenverbouing waar dekgewasse tussen mielie- of sonneblomrye geplant word as kontantgewasse aktief groei. Sodoende is daar lewende wortels in die grond wanneer hierdie kontantgewasse geoes word.
Dr Hendrik Smith, ’n navorser in bewaringslandbou, het in 2021 ’n studie gedoen om te bepaal hoeveel kommersiële boerderye in Suid-Afrika dié praktyke in hul jaarlikse gewas- en veestelsels toepas. Daar is toe bevind dat bewaringslandbou op 1 607 081 ha
grond (sowat 25% van die totale gebied waarop kommersiële gewas- en veestelsels bedryf word) in Suid-Afrika toegepas word.
Dit was verreweg die hoogste in Afrika en twaalfde in die wêreld. Die Wes-Kaap het met 51% die hoogste toepassing van bewaringslandbou getoon, gevolg deur KwaZulu-Natal (38%) en Noordwes (37%).
Soveel as 70% produsente in die Schweizer-Reneke-omgewing, 50% in Lichtenburg, 75% in Klerksdorp en 40% in Delareyville, het toe al van konvensionele stelsels na bewaringslandboupraktyke oorgeskakel.
Landbouweekblad het op 6 Maart vanjaar hul jaarlikse herlewingslandboukonferensie in Ottosdal aangebied. Dirk Laas is ’n bewaringslandboupionier in dié gebied en is betrokke by die organisering van hierdie konferensies.
Die eerste een is reeds in 2016, nog vóór die landboutydskrif se betrokkenheid hierby, in die omgewing gehou. NWK Arena het met Dirk gesels oor die voordele van bewaringslandbou en waarom hy meen almal dit nog nie toepas nie.
Dirk glo dat jonger produsente makliker bewaringslandboupraktyke aanneem as hul ouer kollegas. Boeredae waartydens die onderwerp bespreek word, is van onskatbare waarde, en hy sê dat dit uiteenlopende kennisvlakke moet kan diens.
“Vir een ou gaan ’n liggie aan dat hy onmiddellik kan begin plant wanneer dit reën omdat hy nie eers sy lande hoef te bewerk nie, terwyl ’n volgende konferensieganger al debatte met van die geleerde sprekers kan voer,” verduidelik hy.
Vervanging van gereedskap bied die geleentheid vir geenbewerking
Dirk (44) het ’n B.Agric.-graad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf en ’n geruime tyd in die buiteland spandeer voordat hy in 2006 op 25-jarige ouderdom begin boer het. “Ek het die eerste jaar 60 ha geploeg en besluit ‘in my lewe nooit weer nie’. Dis té omslagtig,” sê hy.
Hy het besef dat hy mettertyd gereedskap en veral planters sou moes begin vervang. In 2007 het Ottosdal se studiegroep ’n toer na Brasilië en Argentinië onderneem. Met hulle terugkeer het die legendariese Hannes Otto, ’n baanbreker in bewaringslandbou, “met dié konsep begin karring en eksperimenteer”.
Hannes is twee jaar gelede oorlede en Dirk sê hy was in ’n baie bevoorregte posisie om by hom te kon leer. “Hannes se groot motivering was dat konvensionele boerdery oor die lang termyn nie volhoubaar was nie. Die grond was te veel verniel en gedegradeer en die tyd was ryp vir ’n kopskuif,” vertel Dirk.
Hy het in 2009 by die studiegroep aangesluit en het toe maar nog net drie jaar konvensioneel geboer voordat hy na geenbewerking oorgeskakel het.
“Daarom het dit nie van my ’n groot kopskuif geverg nie, omdat ek maar sowat drie seisoene konvensioneel bewerk het voordat ek na geenbewerking oorgeslaan het.”
Die som moet klop
Dirk verbou mielies op droëland, asook sonneblom, en het ’n kommersiële vleisbeeskudde en skaapvoerkraal. Hy is ook ’n lid van Delareyville se studiegroep omdat hy oorspronklik van hier afkomstig is.
Michael van Rooyen, bestuurder van Adviesdienste by NWK Finansiering en leier van dié studiegroep, se finansiële ontleding van die groep se 2023/2024-resultate wys dat ’n produsent wat alle elemente van bewarings- of herlewingslandbou toepas, nie noodwendig die hoogste opbrengs behaal nie.
Hoewel Dirk geenbewerking toepas, ’n rotasiestelsel met mielies en sonneblom handhaaf én oesreste op sy lande laat, plant hy (nog) nie tussenry-dekgewasse nie. “Ek weet dit werk, maar gaan dit by mý werk? Dit moet eers getoets word,” verduidelik hy.
Hy meen dat dit moontlik die kontantvloei negatief kan beïnvloed as jy ’n groot deel van jou lande hiervoor moet onttrek. ’n Produsent wat dit suksesvol inspan, se veekomponent moet ook groot genoeg wees dat die diere winsgewend hierop kan wei.
Daar is onlangs ’n proefneming op Dirk se plaas, asook dié van George Steyn en Hannes Otto junior, van stapel gestuur om die winsgewendheid en haalbaarheid van tussenry-dekgewasse te ondersoek.
“Dit gaan ’n simulasie oor ses jaar behels waartydens dekgewasse op ’n sesde van die teoretiese oppervlak geplant sal word,” verduidelik Dirk.
“Mielies en sonneblom sal mekaar oor die tydperk van ses jaar afwissel. Altesaam 16 rye sal dekgewasse bevat, terwyl 16 rye reg langsaan sonder dekgewasse gelaat sal word en met ’n presisiemetingsprogram soos FieldView ontleed sal word.” Daar sal spesifiek gekyk word of die grond se koolfstofinhoud, soos verwag, verhoog en tot watter mate.
Die slytasie op gereedskap van diegene wat geenbewerking toepas, is heelwat minder. “Die konvensionele boer moet al begin trekkers vervang, dan het joune skaars ure op om dit te regverdig,” sê Dirk.
“Dis ’n swak kapitale belegging om miljoene rande te betaal vir ’n trekker wat maar 200 ure per jaar loop. Dis egter bykans onvermydelik weens die koste van hierdie masjiene.”
Tog, waarsku Dirk, is bewaringslandbou nie noodwendig goedkoper as ’n konvensionele stelsel nie, omdat die chemiese insette bykans dieselfde is.
Waar begin ’n mens?
’n Goeie vertrekpunt is om grondprofiele te laat ontleed en kalk wisselend toe te dien. “Gooi kunsmis dáár waar die potensiaal is, anders jaag jy jou eie risiko op,” sê Dirk.
Sy raad aan diegene wat die skuif na bewaringslandbou wil maak, is om te begin “met dit wat hulle het”. Maak die som en bepaal of jou boerdery die aankoop van ’n groot planter of stroper regverdig. Is jou boerdery klein genoeg dat jy dalk eerder van ’n kontrakteur gebruik kan maak? Daar is deesdae ook heelwat tweedehandse planters in die mark, wat die skuif na geenbewerking vergemaklik.
“Dit wat jy het, moet jy máák werk. Sorg dat jy genoeg spuite en ’n planter het wat jou hektare kan hanteer.”
’n Planter is die geenbewerkingsprodusent se belangrikste stuk gereedskap, aldus Dirk. “Versien dit en maak seker dit is reg. As jy met ’n ses-ry planter 500 ha moet plant, dan is dit 500 ha se glips as jy één foutjie nie raaksien nie. Of jy kom dit eers ’n week later agter wanneer die mielies begin opkom.”
’n Belangrike wenk wat hy deel, is dat elke sewe voet-skoffel ’n 14 meter-spuit vereis. “Dit is gospel,” glimlag hy. “As jy nie genoeg spuite het nie, gaan jy in die moeilikheid beland. Hoewel jy baie hektare met ’n spuit kan bedien, is jou tyd minder weens weerveranderlikes.”
Bemagtig jouself met kennis van die produk
Dirk was voorheen ’n kunsmisagent en het “daardie groenboekiekursusse” gedoen waarvan hy die kennis as onontbeerlik vir produsente bestempel. “Dit is ’n belegging om kursusse in chemie en kunsmis te voltooi. Nie omdat jy die rep wil vertel wat om te doen nie, maar sodat jy weet hoe dit werk.”
Deur deeglik kennis te dra van beskikbare produkte, ontsluit jy meer geleenthede, glo Dirk. Hy sê dat produsente tegnologie hiermee saam moet inspan. “Ons is vinnig om te sê tegnologie is te duur, maar as dit te duur was, sou dit nie beskikbaar gewees nie, want dit betaal homself oor tyd.”
Onkruidbeheer moet ook doelgerig benader word. “Ons ry verby lande en sien onkruid begin kop uitsteek, maar dink dat dit nog nie bespuitings met ’n twee liter glifosaatmengsel regverdig nie. Tog, oorweeg jy die vogverlies wat jy ly weens daardie onkruid?”
Moenie opbrengste najaag nie, mik eerder vir winsgewendheid
Dirk mik eerder vir ’n laer risiko deur winsgewender te wees met laer insetkoste. “As ek dieselfde wins kan maak met 3 t/ha as met 6 t/ha of 9 t/ha, het ek ook minder slytasie op my stroper,” verduidelik hy.
“Produsente is gedurig onder druk om uit te brei. Brei egter eers uit as jy die gereedskap het. Moenie éérs uitbrei en dan met die geld wat jy daarmee genereer, gereedskap koop nie. Dit plaas jou onder geweldige druk,” maan hy. Tog is voldoende toerusting belangrik om die grootte van jou boerdery optimaal te kan benut.
Dirk gesels oor produsente wat as Graan SA se Graanprodusente van die Jaar gekroon word: “Dit reën, dan stop dit. Dan staan almal en kan niks doen nie. Die ouens wat op die verhoog eindig, het eintlik te veel tools.
“Hy gaan in en doen sy job in daai vensterperiode wanneer dit die optimale tyd is. En hy is betyds. As daar ’n fout is, kan hy ingaan en dit regstel.”
Laastens is Dirk se raad om kers op te steek by diegene wat reeds welslae hiermee behaal. “Vra vrae vir mense wat reeds hiermee besig is en as jy nie voldoende antwoorde kry nie, probeer iemand anders.”
Bronnelys
Smith H en Nel A, 2024. Bewaringslandboupraktyke gedefinieer. (Aanlyn), SA Graan. Beskikbaar by: https://sagrainmag.co.za/2024/11/11/bewaringslandbou-praktyke-gedefinieer/ [7 April 2025]